Namibië wil SA met krag help

Hoewel die buurland ’n behoefte aan tot 4 000 MW se elektrisiteit het, meen ’n Namibiese maatskappy hy kan ’n klein bydrae hiertoe lewer.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Die Namibiese maatskappy Arandis Power sê hy wil 120 MW se elektristiteit aan Eskom verkoop.

“Konstruksiewerk aan die aanleg kan binne vier maande ná die ondertekening van ’n koopooreenkoms met Eskom of enige ander koper in die Suider-Afrikaanse kragpoel begin,” het mnr. Ezio Vernetti, die maatskappy se besturende direkteur, in ’n nuusverklaring gesê.

Hy sê die Arandis-kragprojek is ten volle ontwikkel en gereed om gebou te word.

Dit volg ná die Suid-Afrikaanse departement van minerale hulpbronne en energie op 13 Desember ’n versoek om inligting (RFI) uitgereik het vir hul risikoverminderende kragverkrygingsprogram.

Arandis sê die geleentheid vir oorgrenskragverskaffing is moontlik omdat nuwe regulasies met betrekking tot die gewysigde enkelkopermodel op 1 September verlede jaar in Namibië in werking getree het.

“Namibië se Elektrisiteitsbeheerraad (ECB) het visie en leierskap getoon deur die plaaslike mark asook die nasionale kragnetwerk vir onafhanklike kragverskaffers oop te maak.

“Nou kan verskaffers elektrisiteit opwek en plaaslik, asook in die Suider-Afrikaanse kragpoel handel daarmee dryf. Boonop stel dié raamwerk hulle in staat om dit teen mededingende pryse te doen,” sê Vernetti.

Die Arandis 120 MW-kragprojek, wat deur swaar brandstofolie met ’n lae swaelinhoud aangedryf sal word, is ten volle ontwikkel en befonds.

“Kostedoeltreffende elektrisiteit kan op ’n aanpasbare wyse van piek- tot basisbelading verskaf word, wat dit mededingender as Eskom se dieselaangedrewe oopsiklus- gasturbine-aanlegte sal maak.

“Dit kan ’n onbeperkte aantal kere aan- en afgeskakel word. Boonop sal dit voorsiening vir hernubare energieprojekte maak, want dit sal help met stabiliteit in kragvoorsiening wanneer sonkrag- en windaanlegte net van tyd tot tyd krag kan opwek,” het hy gesê.

Arandis sê hy is ook geregistreer vir finansiering by die Standard Bank-groep in Namibië én Suid-Afrika, die Ontwikkelingsbank van Namibië, die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika en Stanlib Asset Management.

Die Suid-Afrikaanse regering en Eskom het vasgestel die buurland het oor die kort tot medium termyn ’n kragopwekkingsleemte van sowat 4 000 MW.

Daar word voorgestel 2 000 MW hiervan word van versendbare bronne, soos dié van Arandis Power, verkry.

Verlede jaar het Suid-Afrika die ergste onder beurtkrag deurgeloop, met Eskom wat glo tot 530 uur se beurtkrag moes instel vir ’n totaal van 1 352 GW-uur.

Fase 6-beurtkrag is toegepas en het die buurland se ekonomie na raming tussen R60 miljard en R120 miljard gekos.

Suid-Afrika het vanjaar op 30 Januarie weer met beurtkrag begin.

“Die slegte nuus is Suid-Afrika se wetenskaplike en nywerheidsnavorsingsowerheid voorspel beurtkrag sal vir minstens die volgende twee tot drie jaar voortduur, afhangende van sleutelbesluite en -aksies.

“Dit is ondenkbaar dat Eskom se ellendes nie ’n uitwerking op Namibië of die streek sal hê nie – beide met betrekking tot tariefverhogings asook die beskikbaarheid van elektrisiteit,” het Vernetti gesê.
- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!