Namibian Tales vertel ou stories met klank
Shishani en groep wil tradisionele musiek internasionaal bevorder.
Namibië is een van net ses lande ter wêreld wat baat by die Verenigde Nasies (VN) se organisasie vir onderwys, wetenskap en kultuur (Unesco) se Internasionale Fonds vir Kulturele Diversiteit.
Die hoofdoel van die fonds is die ondersteuning van die diversiteit van kulturele uitdrukking en die oplewing van kreatiwiteit in ontwikkelende lande.
Me. M'kariko Amagulu, adjunkdirekteur van kuns in die ministerie van onderwys, kuns en kultuur, is die 2005 Unesco Konvensie se kontakpersoon wat met die fonds in Namibië verbind is.
“In die huidige moeilike tye is dit 'n groot mylpaal om finansiering te kry wat sal help om outentieke, kontemporêre Namibiese musiek plaaslik en internasionaal te dokumenteer en te bevorder,” het Amagulu gesê.
Sy het gesê baie min is in die verlede gedoen om outentieke Namibiese kuns te bewaar.
Die Namibiese projek word deur die Museumvereniging van Namibië (MAN) gefasiliteer, in samewerking met die internasionaal erkende Namibiese musikant, Shishani en die Namibian Tales-groep. Shishani en Namibian Tales is in 2015 in Amsterdam, in Nederland, deur die perkussiespeler Sjahin During en Shishani op die been gebring.
Die musikante sal met plaaslike musikante in die San-gemeenskap werk om tradisionele musiek internasionaal te bevorder.
Dit strook met die VN se verklaring wat fokus op die regte van inheemse volke en die ontwikkeling, bewaring en beskerming van hul kultuur.
Die projek sal in dié verband 'n kulturele dialoog tussen verskillende musikale tradisies weerspieël om nuwe klanke te skep.
Volgens 'n Unesco-verklaring sal Namibian Tales die tradisionele klanke van die San-gemeenskap internasionaal bevorder en sodoende die profiel van Namibië as 'n musikale bestemming versterk.
“Ons sien uit daarna om nuwe klanke uit ou liedjies te skep en saam nuwe maniere te ontdek om verskillende tradisies saam te voeg. Ons doel is om hierdie ou liedjies deur 'n musikale ontmoeting te koester en iets spesiaal te skep,” het Shishani gesê.
Namibiese musikante sukkel om hulself in die plaaslike mark te onderhou.
Die projek wil hulle deur middel van werkswinkels bemagtig.
By die werkswinkels sal musikante ervarings kan deel en meer kan leer oor onder meer internasionale bemarking deur sosiale media en internasionale agentskappe.
Volgens MAN se museumontwikkelingsbeampte, me. Hilma Kapuka, is dit belangrik om bewustheid oor die potensiële ekonomiese belangrikheid van kultuur te skep.
“Ons glo die projek sal nie net help om die klanke van Namibië internasionaal te bemark nie, maar sal ook 'n belangrike stap wees om 'n argief van Namibiese musiek te skep.
“MAN sou graag die vestiging van 'n museum vir Namibiese musiek wou sien wat ons musikale diversiteit uitbeeld.”
Vir meer inligting, besoek www.namibiantales.com.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie