Namibiese aksiereeks in 2021 op die skerm

Die intrige van The Edge se storielyn is die trots van Dash Studios.
Andrew Poolman
Yandi du Plessis

’n Splinternuwe Namibiese televisiereeks gaan binnekort ’n opskudding veroorsaak. The Edge handel oor magsbeheptheid, ambisie, liefde, familiebande en die “huis van God”.

Dash Studios is ’n Namibiese filmproduksiemaatskappy wat ’n paar jaar gelede op die been gebring is met die droom om Namibië as die beste filmbestemming in Afrika op die wêreldverhoog te plaas.

Die reeks is geskep deur Dalton Ashikoto, wat ook die hoofrol vertolk. Dit volg die lewe van Papa K (Ashikoto), ’n genadelose en magsbehepte man wat homself as ’n “man van God” voordoen. Hy gebruik die kerk as ’n dekmatel vir sy geldwassery-onderneming. Hy laat niks of niemand in sy pad staan nie en word gedryf deur die begeerte om die rykste man in die wêreld te wees.

Sy pad is egter besaai met duwweltjies – soos sy verleidelike eksvrou Sade (Barbara Kahatjipara) by wie hy twee kinders het, sy vennoot Jela (Jeremiah Ndjoze) wat koelbloedig uit die weg geruim moet word en sy vervreemde broer Simba (Edo ‘Dice’ Lutete), ’n polisieman wat onverwags opdaag.

Jessica (Odile Gertze) is Papa K se “trofeemeisie”, maar sy en Simba was in die verlede romanties by mekaar betrokke. Mbali (Maria Nepembe) is ’n persoonlike assistent met ’n verskuilde agenda en Kojo (Cheez Uahupirapi) is Papa K se “getroue” linkerhand wat vir konstante drama sorg.

Te midde van al hierdie probleme kom Laurent Kasongo (Obed Emvula) in die prentjie as ’n “nuwe kliënt”. Hy is ’n slinkse, selfgemaakte man wat ’n skoon front voorhou.

Oor die algemeen vlek The Edge ’n wêreld oop waar almal versteekte agendas het.

“In die oerwoud word die swakkes eerste opgevreet. The Edge sal gehore toelaat om die unieke sjarme van Windhoek te ervaar en terselfdertyd pak dit kwessies soos korrupsie,” sê die regisseur, Leon Mubiana.

Volgens Mubiana speel musiek ’n belangrike rol in die vertelproses, en die klankbaan sal alle emosionele aspekte van die storie dek.

Jeremiah Ndjoze, wat ook by die reeks betrokke was, beskryf die tema as “relevant vir huidige tendense in die Namibiese samelewing.

“Die storielyn waarsku teen wat kan gebeur wanneer rykdom en mag so sentraal in mense se lewens word, dat hulle die essensie van die lewe verontagsaam,” sê Ndjoze.

Ashikoto benadruk: “Die produksie is ’n kommersiële dramareeks en ’n direkte antwoord op die regering se oproep vir die betrokkenheid van die private sektor by die ontwikkeling van die kunste. Ontwikkeling in hierdie geval is nie net beperk tot die kunste nie, maar sal ’n positiewe impak hê op die lewensbestaan van die massas wat by die produksie betrokke was.”

Na verwagting sal die eindproduk later op internasionale platforms beskikbaar wees, wat die plaaslike toerismebedryf ’n hupstoot kan gee. Die film sal na MultiChoice, Netflix en Amazon, onder andere, gestuur word sodra die produksieproses afgehandel is.

“Ons is van plan om werk van hoë gehalte te lewer wat op die wêreldmark sal kan meeding. Deur die stylvolle ruimte, saam met ’n rolverdeling van plaaslike akteurs – van wie sommige internasionaal bekroon is – is daar geen rede waarom die reeks nie wêreldwyd goed ontvang sal word nie,” sê Ashikoto.

Hy moedig korporatiewe en regeringsinstansies aan om tot die plaaslike vermaakbedryf by te dra.

Die voorkoms van die reeks is geïnspireer deur die unieke eienskappe van die sosiale konteks – in die strate, kantore, restaurante en klubs van Windhoek, sowel as in die herehuise van sy oostelike voorstede. Die kostuum- en stelontwerp het ’n oorspronklike en kenmerkende Afrika-aanslag, glansryk en gesofistikeerd.

The Edge is tans in die postproduksie-stadium en ’n lokprent sal binnekort bekend gestel word. Die reeks sal na verwagting vroeg volgende jaar op die skerms wees.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 24° | 37° Rundu: 19° | 33° Eenhana: 21° | 25° Oshakati: 20° | 26° Ruacana: 21° | 27° Tsumeb: 20° | 27° Otjiwarongo: 17° | 25° Omaruru: 20° | 31° Windhoek: 19° | 27° Gobabis: 19° | 27° Henties Bay: 16° | 22° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 22° Rehoboth: 21° | 32° Mariental: 24° | 35° Keetmanshoop: 21° | 34° Aranos: 23° | 35° Lüderitz: 15° | 29° Ariamsvlei: 20° | 34° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 20° | 29° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 28° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 23° | 39° Windhoek: 19° | 27° Cape Town: 18° | 22° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 16° | 24° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 22° | 35° Harare: 22° | 33° #REF! #REF!