Namibiese beesboerderye versus wêreldplase
Agri Benchmark rig ‘n wêreldblik op Namibiese beesboerderye en wys op beide sterk en swak punte.
Elvira Hattingh - Namibië is ‘n leier in die wêreld as dit kom by om die koste van beesvleisproduksie laag te hou, met net die Oekraïne wat beter in dié opsig vaar.
Suid-Afrika is kort op Namibië se hakke, terwyl die koste van beesvleisproduksie die hoogste in Noord-Afrika en Europa is.
Tog was verlede jaar ‘n baie swak een vir Namibiese boere wat betref koei-kalf-ondernemings, en het dié boere ‘n verlies pleks van ‘n wins getoon. Daarteenoor was osproduksiestelsels verlede jaar meer winsgewend.
Dr. Claus Deblitz, adjunkdirekteur van die Thünen-instituut vir Plaasekonomie in Duitsland, wat aan die hoof staan van die Agri Benchmark-projek waarvan nagenoeg 40 organisasies (soos die Vleisraad) uit 30 lande lid is, het gesê Namibië se beesboere het ruimte vir verbetering.
Hy het gaste by die afgelope 17nde Agri Benchmark Bees- en Skaapkonferensie toegespreek, wat vir die eerste keer vanjaar in Namibië plaasgevind het.
Hy het gesê benewens dat boere sal moet besin oor hoe om by ‘n veranderende klimaat aan te pas, moet die lae tot medium produktiwiteit in koei-kalf-ondernemings, asook afronding van beeste, getakel moet word.
DIE GROTER PRENTJIE
Deblitz het gesê sowat 34 lande vorm deel van die Agri Benchmark-netwerk.
Dit sluit sowat 173 beesplase en 42 skaapplase wêreldwyd in.
Deblitz het verduidelik wat lewende skaapuitvoere betref, tel Namibië onder die wêreld se toptien. Dit beklee tans die sewende plek op die wêreldranglys.
Terselfdertyd neem Namibië die 28ste plek op die wêreldlys in vir lewende beesuitvoere, alhoewel die plaaslike beesbedryf minder beesvleis as tien jaar gelede produseer.
Deblitz het gesê Namibië beklee die twintigste plek wat betref skaapvleisuitvoere, in tonne gemeet, en die 32ste plek vir beesvleisuitvoere.
“Op die wêreldlyste kan egter gesien word dat Namibië se bedryf relatief klein is,” het Deblitz gesê.
Hy sê in Namibië se beesvleisbedryf is daar ‘n negatiewe tendens in beide produksie en verbruik te bespeur, terwyl uitvoere effens kop optel.
Deblitz sê daarteenoor het prysontwikkeling, of die prys vir bees per kilogram – hetsy aan die haak of op die hoef - sedert 2005 groei getoon.
Hy sê Namibië is een van die lande op wêreldwye vlak waar die produksie van beesvleis tussen 2015 tot 2017 afgeneem het, as dit vergelyk word met ons produksiesyfers tussen 2005 en 2007.
Verskeie nie-Europese lande in Afrika, asook China en Suid-Amerika, het hul produksie oor dieselfde tydperk verhoog.
Deblitz sê Namibië se twee grootste uitvoerbestemmings is Suid-Afrika en Engeland, maar plaaslike uitvoere het sedert byvoorbeeld 2000 en 2001 drasties afgeneem.
STERK EN SWAK PUNTE
“Namibië het ‘n goeie gehalte beesproduk en ‘n beeld van ‘natuurlike produksie’.
“Jul naspoorbaarheid is baie goed en terselfdertyd het julle ‘n sterk uitvoerbedryf wat julle toegang bied tot markte wat bereid is om vir vleis te betáál. Julle het die voordeel dat julle jul boerderye kan kombineer met ander bronne van inkomste, soos byvoorbeeld ‘n jagbedryf.
“Wat minder positief is, is dat julle baie afhanklik van Suid-Afrika is,” het Deblitz gesê en bygevoeg hy is veral bekommerd oor klimaatstoestande wat vir Namibiese boere versleg.
“Julle is waarskynlik gewoond aan droogtes, maar as ‘n buitestander voel ek paniekerig en dink ek julle sal veral moet besin oor hoe julle die veranderende klimaatstoestande gaan hanteer,” het Deblitz gesê.
“In sommige gebiede het julle ook onopgeloste kwessies wat betref die gebruik en eienaarskap van landbougrond.
“Nog iets wat teen julle tel, is verminderde plaaslike verbruik van beesvleis en die lae tot medium produktiwiteit in koei-kalf-ondernemings, asook in die afronding van beeste.”
NAMIBIESE BEESONDERNEMINGS
Deblitz het getoon dat 2018 ‘n baie swak jaar vir Namibiese boere wat betref koei-kalf-ondernemings en dat dié boere ‘n verlies pleks van ‘n wins getoon het.
Deblitz sê Namibië se koei-kalf-resultate, oftewel hoeveel speenkalwers per koei per jaar gelewer word, was gemiddeld in 2018 as dit met ander Agri Benchmark-lidlande vergelyk word.
“In dié opsig was Namibië redelik ver agter verskeie Europese lande, asook byvoorbeeld agter Argentinië, Indonesië en Suid-Afrika.
“As ‘n mens kyk na die opbrengste van verskeie lidlande uit hul koei-kalf-ondernemings in 2018, val Namibië ook in die laer derde van die groep. Weer eens is Europese lande, lande in Noord-Amerika, asook Kanada, China en Indonesië bo-aan die lys.”
Deblitz het gewys ‘n kostevergelyking van koei-kalf-ondernemings tussen die verskillende lande toon dat Namibië ook in die onderste derde val, wat beteken dit het nie in 2018 goeie wins gelewer nie.
Hy het Namibië ook met eweknieë uit lidlande in die SADC-streek vergelyk, waarin gesien kan word dat Namibië se sterftesyfer onder koeie en kalwers relatief hoog is in vergelyking met een Suid-Afrikaanse plaas en dat hulle ook meer speenkalwers per jaar produseer.
Namibië se opbrengste uit die boerderystelsel vergelyk egter goed met ander lande in Suider-Afrika en oorskry dié van die Suid-Afrikaanse plase, terwyl Botswana die heel beste in die opsig vaar.
Wat afronding betref, is twee plase in Namibië – een wat op natuurlike weiding en die ander op ‘n voerkraalstelsel staatmaak – by die som ingereken.
“As osse se netto gewigstoename met dié in ander lidlande vergelyk word, in hul onderskeie kategorieë vir die tipe voeding wat hulle ontvang, vaar Namibië gemiddeld by die voerkraal.
“Terselfdertyd het Namibië in 2018 ondergemiddeld gevaar as daar na gewigstoename op natuurlike weiding gekyk word,” het Deblitz gesê.
Hy het gesê netto gewigstoename verskil van daaglikse gewigstoename in die sin dat dit totale gewigstoename van die bees oor sy leeftyd bereken. “Dit word uitgewerk deur die bees se karkasgewig te deel met die bees se ouderdom wanneer dit geslag word,” het hy gesê.
“Dit is meer akkuraat, anders word die prestasie van graangevoerde of voerkraal beeste oorskat omdat hulle ‘n baie korter voertydperk het en hoë-energievoedsel inneem. Baie van die graanafgeronde beeste het aanvanklik op natuurlike weiding geleef.”
Deblitz sê Namibië se beesprysvlakke vergelyk baie dieselfde as in ander lande, terwyl net die Oekraïne se koste laer is as dié van Namibië.
“Julle en Suid-Afrika se koste is beslis baie laag wat die afronding van bees betref, in vergelyking met dié van ander lande.
“Dit beteken dat die stelsel in Namibië tydens 2018 beslis meer winsgewend was as dié van koei-kalf-boerderyondernemings,” het Deblitz gesê.
“Die syfers toon ook dat nóg natuurlike weiding nóg voerkraalafronding ‘n superieure produksiestelsel is of tot groter winste lei,” het Deblitz gesê.
“Meer as 50% van die vleis wat in Agri benchmark se lidlande geproduseer word, word vir minder as US$4 per kg, karkasgewig, geproduseer.”
ANDER KWESSIES
Deblitz is van mening dat vleis wat in ‘laboratoriums’ gekweek word, of sogenaamde alternatiewe vleis, ‘n sterk mededinger vir die beesvleisbedryf gaan raak.
“Ons kompetisie lê hierin en nie in ‘n ander vleissoort soos byvoorbeeld die pluimveebedryf nie.
“Tans werk navorsers om vleis te maak wat “diere-vry” is, want tot dusver moes hulle van diere se spierselle gebruik maak om dit in laboratoriums te kweek.
“Daar is reeds plantgebaseerde vleisprodukte op die mark, genaamd Beyond Meat en Impossible Meats. Dit word van die proteïen in byvoorbeeld ertjies, sojabone, aartappel en beet gemaak,” het Deblits verduidelik.
Hy het gesê dié vleise se gehalte is reeds so goed dat die gewone hamburger-eter waarskynlik nie ‘n verskil sal agterkom nie.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie