• Tuisblad
  • Omgewing
  • Namibiese flora - tradisionele en medisinale gebruike (Deel 2 van 2)

Namibiese flora - tradisionele en medisinale gebruike (Deel 2 van 2)

Jacqueline Louw
Sekere inheemse plantspesies in Namibië bied verskeie weten­skaplik getoetsde medisinale gebruike en word ook soms as tradi­sionele medisyne gebruik.
Hier volg die tradisionele medisinale gebruike asook enkele voorbeelde van plante wat jou met kwale soos onder meer sinusontsteking, maagprobleme, hoë bloeddruk, infeksies, hoes en pyn kan help.

Trassiebos of ­kers­doringboom
Die trassiebos of kersdoringboom (Acacia hebeclada subsp. hebeclada) is opvallend vanweë die liggeel of roomkleurige blommetjies wat die takke oortrek.
Nog ’n tipiese eienskap is die peule wat regop staan. Een van die boom se Oshivamboname beteken “slegs sotte sal probeer om hierdie boom te kap”.
Tradisionele medisinale gebruike sluit in dat die Herero's die blare kou of ’n tee van die gestampte blare vir maagaandoenings kou. Die Himba meng die gestampte wortels in hulle pap om dieselfde rede. In tropiese Afrika word die gom vir verkoues, diarree, oogontsteking en bloeding aanbeveel terwyl die San die wortel kook en die aftreksel vir hoes drink.

Gabbabos, skaapbos, !abba of trompetdoring
Die wortels van die Gabbabos, skaapbos, !abba of trompetdoring (Catophractes alexandri) word vir maagprobleme gekou.
’n Tee van die blare of ’n opkooksel daarvan in melk word as verkoue­medisyne gedrink.

Huilboom of Omuparara
Die bas en die wortels van die huilboom of Omuparara (Peltophorum africanum) word as maagmedisyne gebruik.
Herero-vroue drink tradisioneel ’n ekstrak van die bas om die geboorte van tweelingbabas te voorkom. Die Himba in Kaokoland was hulself met ’n waterige aftreksel van die blare om depressie te verlig.
Die dampe van kokende huilboombas is goed vir seer oë en die geskilde, gestampte droë wortel maak ’n poeier om wonde mee te behandel. Die gestampte wortel word soms kwaad­willig in ’n vyand se kos gemeng om hom te vergiftig – die slagoffer van so ’n aanslag kan nie ontlas of urineer nie.

Kerriebos
Die kerriebos (Salvadora persica) se wortels bevat kragtige antibakteriese verbindings en is die gewildste en doeltreffendste van alle tradisionele tandeborsels wat in Afrika gebruik word om die tande skoon te maak.
Dit help ook om tandpyn te verlig – vandaar die Engelse naam “tooth­brush tree”.
Die smaak van die olies in die plant gee aanleiding tot die naam “mustard tree” (mostertboom) of “Pfefferstrauch” (peperbos). ’n Tee van die wortels help teen maag- en ingewande­probleme asook bloedige maagwerk en word vir sowel mense as vee gebruik.
Die gedroogde wortelbas, fyn gestamp en met gemmer gemeng, help teen haakwurmsiekte. ’n Pasta van die gestampte wortelbas word soos ’n trekpleister aangewend, terwyl ’n tee van die wortels teen ­gonorree en blaasontsteking gedrink word. ’n Aftreksel van die gestampte, vars plant in water word gebruik om die vel af te spoel wanneer iemand ’n uitslag soos by masels of skarlakenkoors het.

Aruboom, oumahout of kersieblomboom
Aruboom, oumahout of kersieblomboom (Albizia anthelmintica) word oral oor Afrika teen lintwurm en en ander ingewandsparasiete by mens en dier gebruik.
Vir die doeleinde word die bas fyn gestamp en in party streke word die gestampte wortel ook gebruik.
’n Mens sien ook dikwels dat diere die bas kou – hulle het moontlik ’n aanvoeling vir die goeie werking daarvan. Dit word ook tradisioneel as voorbehoedmiddel gebruik en vroue sal net voor die begin van menstruasie ’n teelepel van die aruboom se bas of wortels se poeier sluk. Verskeie dele van die plant word teen maag­aandoenings gebruik en jong takkies dien as tandeborsels.
Swarthaak
’n Afkooksel van die Swarthaak (Acacia mellifera subsp. detinens) se bas of wortels word vir hoes gedrink; ’n tee van die blare teen maagaandoenings en gestampte wortels in warm water of fyngestampte wortelbas stop bloeding.
Deur die wortelbas te kou, word verkoues en keelseer verlig, terwyl die wortels ook by melk gevoeg word om "omaere", ’n sekere soort suurmelk, te maak.

Kanferbos of vaalbos
Die rook van brandende groen takke van die kanferbos of vaalbos (Tarchonantus camphoratus) word ingeasem en help dan vir sinusontsteking.
’n Warm omslag van die blare op die bors gepak, verlig asma. Winterhande en – voete word met ’n warm salf van hierdie struik gevryf. ’n Tee van die blare help vir maagpyn, hoes en heesheid.
• Bronne: unesdoc.unesco.org (African Medicinal Plants), www.en.wikipedia.org.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!