'Namibiese' grys walvis swem halfpad om aarde
'n Grys walvis wat agt jaar gelede langs die Namibiese kus opgemerk is, het 'n beraamde 27 000 km vanaf sy geboorteplek gereis.
In Mei 2013 het mariene bioloë verstom gestaan oor die nuus dat 'n grys walvis vir die eerste keer ooit suid van die ewenaar naby die kus van Walvisbaai in Namibië waargeneem is.
Was hierdie walvis moontlik 'n oorblyfsel van 'n Atlantiese bevolking wat volgens vermoede al lankal tot uitwissing gejag is? Die laaste waarneming van 'n grys walvis was klaarblyklik in die 1740's.
Of was dit 'n aanduiding van die begin van 'n nuwe bevolking in dié area? Só is destyds oor hierdie waarneming gespekuleer.
Nou het navorsers verbonde aan die Durham Universiteit in die Verenigde Koninkryk en die Universiteit Stellenbosch (US) dié alleenlopende grys walvis se geboorteplek as die Noordelike Stille Oseaan geïdentifiseer.
Hul bevindings is Woensdag in die vaktydskrif Biology Letters gepubliseer.
Terwyl grys walvisse daarvoor bekend is dat hulle van die wêreld se langste migrasies onderneem, het hierdie Namibiese grys walvis (so gedoop deur wetenskaplikes, op grond van die hoogs ongewone waarneming in 2013) elke rekord in die boek oortref deur 'n beraamde 27 000 km vanaf sy geboorteplek te reis – bykans halfpad rondom die wêreld, sê die US in 'n verklaring.
Prof. Rus Hoelzel, 'n evolusionêre bioloog van die Durham Universiteit en hoofouteur van die artikel, het die volgordebepaling van die hele genoom van die walvis gedoen ten einde die uitdaging van sy herkomsbepaling te kon oorkom.
“Dit identifiseer sy geboorteplek onomwonde as die Noordelike Stille Oseaan. Wat ons egter nié weet nie, is of hierdie merkwaardige lang migrasie slegs 'n toevallige rondlopery is, en of sy voorkoms in die Atlantiese Oseaan 'n voedingsuitstappie verteenwoordig, wat moontlik gemaak is deur 'n deurgang deur Arktiese pakys.”
Vroeg in die negentiende eeu is grys walvisse rondom Korea en Japan bykans tot uitwissing gejag, maar die bevolking in die oostelike deel van die Noordelike Stille Oseaan was minder erg daardeur geraak.
In die Atlantiese Oseaan is die geskiedenis nog onduidelik, maar daar is fossielrekords wat uit die pleistoseen dateer, voeg hy by.
Mnr. Fatih Sarigol, mede-outeur van Brittanje, sê hulle sou verkies het om met meer as een monster te werk, of om só 'n migrasie met 'n GPS-opsporingstoestel te dokumenteer: “Niemand kon voorsien dat hierdie walvis die Suid-Atlantiese Oseaan sou besoek nie.
“Vir sulke onverwagse geleenthede in die wetenskap moes ons van buitengewone metodes gebruik maak om sy herkoms te kon vasstel.”
Dr. Simon Elwen en dr. Tess Gridley, direkteure van die Namibiese Dolfynprojek en navorsingsgenote in die departement plant- en dierkunde by die US, sê hulle het dadelik geweet dat hierdie waarneming 'n ongewone gebeurtenis was.
“Gedurende die twee maande wat die walvis in Walvisbaai gebly het, het ons soveel as moontlik inligting ingesamel.
“Dit het die neem van genetiese monsters behels, asook gedetailleerde foto's, aangesien grys walvisse op grond van hul merke geïdentifiseer kan word.”
Hulle het geweet die genetiese materiaal sou hulle help om vas te stel van watter bevolking die walvis vandaan kom, en hoe ver dit gekom het.
Tot dusver het die foto-identifikasie van die grys walvis egter nog geen ooreenstemming met bestaande data opgelewer nie.
Volgens die navorsers het die waarneming in die Suid-Atlantiese Oseaan, in kombinasie met 'n handvol ander waarnemings in die Noord-Atlantiese Oseaan oor die afgelope dekade, aangedui dat die spesie aan die beweeg is.
Migrasie van grys walvisse van die Stille Oseaan-bevolking kan ook aan menslike bedrywighede toegeskryf word.
“Ons glo die mees waarskynlike reisroete van die Namibiese walvis, was via die Arktiese Oseaan, 'n deurgang wat ontstaan het as gevolg van die afname in ysvloei wat aan klimaatsverandering in onlangse jare toegeskryf kan word.”
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie