Namibiese jukskei-reus groet
Jo-Maré Duddy
‘n Hart vol liefde vir sy medemens wie se hande vir niks verkeerd gestaan het nie, ’n vaderfiguur en mentor vir baie, ’n gesoute sakeman en ’n gedugte teenstander op die sportveld: Dít is van die huldeblyke wat instroom sedert die afsterwe van mnr. Gert Aggenbach.
Aggenbach (69) is Maandagoggend ná ’n lang siekbed in Windhoek oorlede.
Hy was bekend vir sy liefdadigheidswerk, die ontwikkeling van jukskei in Namibië en die oprig van veral selfooninfrastruktuur oral in die land.
Aggenbach is in 1951 in die Gibeon-distrik gebore, waar sy ouers geboer het. Hy het op Tsumeb grootgeword en gematrikuleer, waarna hy ’n vakleerlingskap voltooi.
As jong man het hy op Swakopmund gewoon en die Rössing-myn help bou. Hier ontmoet hy sy toekomstige vrou, Koekoes, met wie hy in 1982 trou.
In 1996 verhuis hulle na Windhoek en hy stig Aggenbach AGA Technical Services. Dié maatskappy het onder meer sowat 1 000 selfoontorings in Namibië opgerig. Hy tree in 2008 as hoof van AGA af.
JUKSKEI
Jukskei was in Aggenbach se bloed – sy ma was ’n Springbok. Hy verteenwoordig Namibië van 1988 tot 1996 in die Kopersbond in Kroonstad, Suid-Afrika, en is in die nasionale span wat in 1994 teen die Springbokke speel.
Aggenbach en Boelie Thornburn was die stigterslede van die Saamstaan-jukskeiklub op Swakopmund. Van 1991 tot 1997 dien hy as voorsitter en ondervoorsitter van die Namibiese Jukskeiraad (NJSR). In 2013 word hy die president van dié liggaam en lei dit tot in 2017.
Aggenbach was tot met sy afsterwe die finansiële direkteur van die NJSR.
“Jukskei wêreldwyd het een van sy mees geliefde ambassadeurs verloor,” sê Jukskei SA op hul Facebook-blad.
“Gert Aggenbach van Namibië was nie net 'n gedugte opponent op die baan gewees nie, maar ook 'n gerespekteerde ambassadeur vir die sport,” lui die huldeblyk.
LIEFDADIGHEID
Aggenbach het geglo hy moet terugploeg in die gemeenskap en het verskeie liefdadigheidsorganisasies ondersteun. Die Aggenbach-egpaar ontvang in 2019 ’n ATKV-pluimpie vir die werk wat hul organisasie, Helpende Hande, verrig.
Die afgelope jare het Aggenbach kragte met Marcha Reed van die Lithon Foundation gesnoer om ’n groter verspreidingsnetwerk vir hulp aan behoeftes daar te stel.
Sy leuse was om nooit enigiemand na te kom nie. “Hy het altyd gesê daar is genoeg sonstrale in die lewe vir elkeen van ons,” sê Koekoes.
Boeremusiek was nog ’n passie van Aggenbach. Hy was ook lief vir die natuur en het baie tyd op sy plaas Aggies Farming naby Maltahöhe deurgebring.
Aggenbach word oorleef deur sy vrou Koekoes, dogters, skoonseuns en kleinkinders – Linda, Marius en Christelle Maritz; Celia en Max Olivier; Andriëtte, Henri, Gert en Arno Ferreira, asook Leatitia en Altus Kotze en Leigh-Ann en Ronan van Rooyen.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie