Namibiese Kamer van die Omgewing bring navorsers byeen
Namibiese Kamer van die Omgewing bring navorsers byeen

Namibiese Kamer van die Omgewing bring navorsers byeen

Die nuut gestigte omge­wingsbeweging vra vir beter samewerking in die toekoms.
Francoise Steynberg
Die Namibiese Kamer van die Omgewing (NCE) het sy eerste simposium oor dierebewegings en satellietopsporing by die B2Gold Namibia-myn aangebied waartydens navorsers van die ministerie van die omgewing en toerisme en nie-regeringsorganisasies byeengekom het.

Navorsers het vanaf 23 tot 25 November hul projekte en navorsingsresultate by die Otjikoto Omgewingsentrum van B2Gold, noord van Otjiwarongo, aangebied, inligting gedeel en tot die slotsom gekom dat hulle in die toekoms nouer moet saamwerk.

“Selfs met die versigtigste mynbou-aktiwiteite sal ''n deel van die omgewing beskadig word, maar daar is maniere vir mynmaatskappye om in die omgewing en sosioëkonomiese ontwikkeling te belê. Die voordele wat geskep kan word, kan maklik die koste oorskry,” het die hoofbestuurder van B2Gold Namibia, mnr. Mark Dawe, gesê.

“Ons as ''n myn vernietig die omgewing, maar ons kan soveel as moont­lik in die omgewing terugploeg. Hier by ons Otjikoto Omgewingsentrum leer ons veral jong Namibiërs oor die gevolge van mynbou, wat ons kan doen om die skade aan die omgewing tot ''n minimum te beperk en hoe om die omgewing die beste te rehabiliteer.”

Dawe meen kinders moet leer watter skade aan die omgewing aangerig kan word, hoe onnodige skade vermy kan word en hoe ''n gesonde omgewing lyk.

Oor die rol van die die nuwe NCE, het die uitvoerende hoof, dr. Chris Brown, gesê: “Ons wil die omgewingsbelange van ons lede verteenwoordig en as ''n raadgewende forum vir hulle dien. Ons wil die beleid- en wetmakers betrek om omgewingsbeleid en -implementering in Namibië te verbeter.”

Brown meen dit is ook belangrik om op die omgewingsvaardighede van jong Namibiërs te bou. Nog ''n doelwit van die NCE is om ondersteuning en advies aan lede oor omgewing­sake en beste praktyke te bied, asook om toegang tot inligting te fasiliteer.

Dit sluit in om geleenthede soos konferensies en simposiums vir die meer as 30 lede van nie-regeringsorganisasies te skep.

Meer as 30 navorsers van die ministerie van die omgewing en toerisme, nie-regeringsorganisasies en universiteite het deelgemeen en is afkomstig van lande soos Skotland, Oostenryk, Suid-Afrika, Botswana en oral in Namibië. Hulle het gefokus op die satellietopsporing van olifante, buffels, sebras, gemsbokke, groot karnivore, krokodille, aasvoëls en seevoëls soos kormorante, malgasse en pikkewyne.



Reëlingskomitee

Die reëlingskomitee bestaan uit mnr. Kenneth /Uiseb van die ministerie van die omgewing en toerisme, dr. Morgan Hauptfleisch van die Namibië Universiteit van Weten­skap en Tegnologie, mnre. John Mendelsohn van AISON, Duane Rudman, natuurbewaarder van die Otjikoto Naturrreservaat, André Rousseau van die Otjikoto Onderrig- en Omgewingstrust en dr. Brown van die NCE.

“Dit is belangrik dat data en ander inligting tussen verskillende navorsers en groepe gedeel word, nie net in Namibië nie, maar in die streek en internasionaal, asook om tersaaklike opsporingsdata te ontwikkel en tred te hou met internasionale ontwikkelinge in tegnieke en tegnologie,” het Brown gesê.

“Daar is ''n klomp vrae wat onbeantwoord bly as data vergelyk word soos waarom respekteer diere parkgrense al is daar nie grensdrade nie? Hierdie vrae kan beantwoord word as ons saamwerk en navorsing eerste stel.”

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer