Namibiese media onder die loep

Verslaggewers moet hulself beter organiseer en media­gebruikers moet op beter beriggewing aandring.
Augetto Graig
Augetto Graig - Die African Media Barometer se Namibië 2018-verslag, wat toon hoe die plaaslike media verlede jaar presteer het, is pas bekend gemaak.

Volgens die 12 lede van die plaaslike paneel wat aan die navorsing deel­geneem het, is media-ontwikkeling die afgelope drie jaar deur die internet se impak oorheers.

Die publikasie fokus op die impak van sosiale media as positief én ­negatief.

Die nasionale uitsaaier (NBC) word genoem vir vordering wat hulle op die gebied van digitalisering toon, wat beteken radiostasies word ook aanlyn uitgesaai. Die ontwikkeling en implementering van die NBC se slimfoontoepassing wat TV-uitsendings op 'n piepklein skerm moontlik maak, is as “merkwaardig” uitgesonder.

'n Betekenisvolle verwikkeling was die stigting van die weekblad The Patriot deur Oxygen ­Communications in Maart 2016, wat ook sy eie webwerf het.

Van Namibië se gedrukte ­koerante het ook na die wêreldwye web ­gemigreer.

Namibia Economist en The Villager kan nou slegs aanlyn gelees word.

Drie nuwe gemeenskaps- radio­stasies het die afgelope drie jaar die lig gesien. Tans wys die ­Regulerende Owerheid vir Kommunikasie van Namibië (Cran) se webwerf 38 ­lisensies is vir gemeenskaps- en kommersiële radiostasies uitgereik.

Dit is die sesde weergawe van dié ­navorsingspublikasie wat vir Namibië verskyn.

Hoewel die metodiek van die barometer regdeur Afrika dieselfde is, is die menings in Namibië by plaaslike kenners ingewin.

Die 2018-uitgawe sluit insette deur mnr. Daniel Trum, me. Jholerina Brina Timbo, mnr. Kavena Hambira, mnr. Michael Akuupa, mnr. Robin Tyson, me. Zoe Titus, die media-­ombudsman, mnr. John Nakuta, me. June Shimoushili, me. Hilda Basson Namundjebo, mnr. Levi Katire, me. Emsie Erastus en mnr. Obed Emvula in.

Volgens die navorsing bestaan ­tekortkominge op verskeie mediagebiede, soos wetgewing wat mediavryheid beperk en wetgewing wat toegang tot inligting reguleer.

Wat toepaslike wetgewing betref, het Namibië volgens paneellede 'n punt van 2,1 uit 5 behaal.

Namibië vaar nog swakker wat openbare toegang tot inligting betref, asook die wetlike versekering dat burgers inligting by die regering kan aanvra.

Op dié gebied kry die land net 1,8 uit 5.

Die swakste punt (1,1) is toegeken vir die vlak van organisasie en teenwoordigheid van verslaggewers en ander mediapraktisyns.

Die NBC het ook nie goed gevaar met aanspreeklikheid teenoor die publiek of redaksionele onafhanklikheid nie.

In albei die sektore het die ­nasionale uitsaaier slegs 1,8 gekry.

Die NBC is ook nie voldoende ­gefinansier nie, met 'n puntetelling van 2,2 in dié kategorie.

Die staatsonderneming het beter presteer in die uitbreiding van 'n ver­skeidenheid programme en plaaslike inhoud met 'n telling van 2,8 uit 5.

Volgens Trum dui enige telling onder drie aan die land voldoen net aan sekere van die vereistes.

Hy sê Namibiese media sal skouer aan die wiel moet sit.

“Die verslag gee ook raad oor wat om te doen om te verbeter,” sê hy.

“Soos die media groei, raak 'n onafhanklike vakbond nodig, wat namens die media kan praat,” het hy gesê.

Volgens Nakuta dui die klagtes wat hy as media-ombudsman ontvang op 'n tekort aan professionaliteit.

Hy sê daar is gevalle waar ­Namibiese media gekaap is, “nie net deur ­politieke magte nie, maar ook deur ekonomiese magte”.

“Die tekort aan onafhanklike instansies met onafhanklike begrotings en personeel laat dit toe,” het hy gesê.

Volgens die Namibiese media­pionier me. Gwen Lister is onafhank­like, gehalte joernalistiek die pilare van demokrasie.

“Drukmedia maak die verskil. Daar is tans 'n probleem met gehalte. ­Jongmense lees nie meer nie. Hulle het opleiding nodig. Nuuskantore is vol interns. Daar is baie ­oppervlakkige joernalistiek in Namibië. Dit hang af van die mense wat ons dien.

“Die jeug kry toegang tot nuus deur Facebook, Twitter en Whats­App, maar hulle vertrou drukmedia steeds die meeste. Ons moet ons gehoor oplei. Koerante sterf wêreldwyd en hulle sukkel ook in Namibië. Mense moet weer begin koerante koop. Vir goeie joernalistiek het ons mense nodig wat daarna op soek is,” sê sy.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!