Namibiese rys moontlik binnekort 'n werklikheid
Namibiese rys moontlik binnekort 'n werklikheid

Namibiese rys moontlik binnekort 'n werklikheid

Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Altesaam 15 Chinese ryssoorte, asook 'n nuwe tipe mahangu word tans vir aanpasbaarheid in Namibië getoets.

Dit vorm deel van die eerste fase van die South South Cooperation (SSC)-projek.

Boonop word 'n tweede fase van dié samewerkingsooreenkoms tussen Namibië en China oorweeg waarin Namibië gehelp moet word met die verdere ontwikkeling van die landbou-waardeketting.

Die ministerie van landbou, water en bosbou het gister ter afsluiting van die eerste deel van die projek, wat teen April vanjaar tot 'n einde sal kom, gesê dit was baie suksesvol.

'n Verslag oor die suksesse hiervan sal opgestel word.

Danksy dié projek het rysoeste by die Kalimbeza-rysprojek met meer as 10% verbeter en het meer as 400 boere en regeringsamptenare opleiding ontvang in die kweek van rys en 'n tipe mahangu wat as “foxtail millet” bekend staan. Opleiding in tuinbou is ook ontvang.

Dit volg nadat 'n drieledige ooreenkoms op 16 Junie 2014 deur Namibië, China en die Verenigde Nasies (VN) se Voedsel- en Landbou-organisasie (FAO) onderteken is.

Hiervolgens is 15 Chinese kenners in 2015 na Groenskema-projekte by onder meer Kalimbeza en Etunda, asook die Sentrale Veeartsenylaboratorium (CVL) en sekere navorsingsentrums gestuur, om plaaslik die moontlikhede van rys- en tuinbouproduksie te ondersoek en sekere veterinêre beleide en standaarde op te stel.

Volgens minister John Mutorwa sluit van die suksesse van die projek in dat 'n invoerkanaal van ryssaad van China af met die saadmaatskappy Hubei gevestig is, dat die drie mees geskikte ryssoorte vir Namibië geïdentifiseer sal kan word na afloop van die toetse, en dat Namibiërs opleiding in die produksie van rys ontvang het.

Boonop is vasgestel dat die nuwe tipe mahangu by die Omahenene-navorsingsentrum geproduseer kan word en onder besproeiing 'n oes van sowat 2,5 ton per ha kan lewer.

“Die Saad-koöperatief het 'n sorteringsmasjien vir saad ontvang wat in die toekoms ook met die verpakking van mahangusaad moet help. Verder is saailinge meganies verplant, wat sal help om die verplantingsproses te versnel.

“Boonop het kleinboere en regeringsamptenare by Mashare, Ruuga, die Salem-projek en die Etunda-besproeiingskema opleiding in tuinbou-produksie ontvang,” het Mutorwa gesê. Die Chinese adjunk-ambassadeur vir Namibië, mnr. Li Nan, het gesê die gebruik van meer as 30 tipes landboutoerusting is tydens die projek aan Namibiërs bekend gestel.

“Afgesien van die projek, is dié twee lande ook betrokke by gesamentlike projekte soos vleisuitvoere­ na China en 'n droogtehulp-rysprogram. Boonop het samewerking tot die opgradering van die Namibiese weervoorspellingsdiens en –satellietstelsel gelei en al hoe meer Chinese besighede stel belang daarin om in die Namibiese landbousektor te belê,” het Nan gesê.

Volgens die FAO-verteenwoordiger, dr. Babagaba Ahmad behoort Namibië teen die einde van vandeesmaand te weet of China die projek in 'n tweede fase gaan voortsit.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!