Namibiese skrywer gesels uit Switserland
Isa Konrad vertel oor haar 13de boek, nóg een wat in Namibië afspeel.
Francoise Steynberg - Die Namibiese skrywer Isa Konrad, wat in Solothurn in Switserland woon, se bande met Namibië word ook in haar trefferboeke weerspieël.
Die opvolg van haar boek Moord op Karibib het onlangs verskyn onder die titel Doodsake op Karibib.
Isa het in Namibië grootgeword en ná skool het sy na Switserland geëmigreer. Sy het jare lank in Zürich gewoon, daar getrou en met ’n gesin begin. Haar twee dogters is in 1995 en 1996 onderskeidelik gebore. In 2001 het die gesin Pretoria toe getrek as gevolg van haar man se werk. Ná haar seun se geboorte in 2002 het Isa haar vir ’n kreatiewe skryfkursus ingeskryf en dit het tot die publikasie van haar eerste roman, Die langste nag, gelei. Ná agt jaar in Suid–Afrika is die gesin in 2008 terug Switserland toe.
Isa is 'n baie private persoon, maar het ingestem om per e-pos met Republikein te gesels.
Kan Doodsake op Karibib gelees word sonder om eers Moord op Karibib te lees?
Doodsake op Karibib volg op Moord op Karibib en die hoofkarakters bly dieselfde, maar Doodsake kan op sy eie gelees word. Ek het probeer dit só te skryf dat lesers die draad van die eerste boek en die twee hoofkarakters se agtergrond hopelik maklik sal kan optel.
Waarom het jy juis Karibib gekies?
Wanneer ek plekke kies waar my stories afspeel, benader ek dit soos ’n ekstra karakter.
Aan die einde van die storie moet die leser spyt wees om afskeid te neem, of die plek haat . . . of selfs vrees, soos die Pretoria wat ek vir Die Soenoffer geskep het.
Vir hierdie ligter moordreeks wou ek ’n plek kies wat met die eerste oogopslag dalk nie die plek van lesers se drome is nie, maar waaraan hulle dalk mettertyd verknog sal raak soos wat die heldin, Alet, aan Karibib vasgroei.
Die ander rede hoekom ek Karibib gekies het, is vir die grap om karakters boek ná boek af te maai in ’n dorp met net 4 000 inwoners!
Het jy dit geniet aan hierdie Karibib-boeke te skryf?
Ek het dit verskriklik geniet om albei boeke te skryf, Doodsake nog meer as Moord.
Dit was die eerste opvolg wat ek nog ooit geskryf het, dus was die uitdaging vir my lekker.
Moord op Karibib speel uit die heldin, Alet Gouws, se oogpunt af, maar Doodsake word uit die held, inspekteur Dorfling, se oogpunt vertel. In daardie opsig verskil die boeke baie van mekaar en ek moes ’n heel nuwe “stem” vir Doodsake vind.
Omdat ek baie lanklaas in Namibië was, moes ek ook navorsing doen dat dit bars. Dit het my op ’n manier weer na aan my eie kultuur en herkoms laat voel, wat baie bevredigend was.
Hoeveel boeke het jy al geskryf?
Doodsake op Karibib is my dertiende boek.
Ek het agt liefdesverhale geskryf voordat ek oorgeslaan het na misdaadromans. Misdaad is makliker!
Wat was die boek waaraan jy die lekkerste geskryf het?
Die boek wat ek tot dusver seker die meeste geniet het om te skryf, was Diva.
Die storie het in Zürich afgespeel, waar ek jare lank gewoon het, nog steeds gereeld kom en steeds tuis voel. Weens die opera-agtergrond waarteen Diva afspeel, het ek ’n jaar en ’n half lank opera geleef. My kinders het behoorlik gely onder die klanke wat uit my werkkamer gekom het!
Watter boek is jou topverkoper?
Die Soenoffer, ’n verhaal oor ’n reeksmoordenaar-kind.
Ek het nooit bedoel om mense te skok met die boek nie. Dit is egter iets wat voorkom in ons wêreld en wanneer mens aan so iets dink, skep dit ’n intellektuele en morele dilemma in jou gemoed. Inspirasie vir stories is nie altyd mooi nie.
Ek dink Die Soenoffer is miskien die beste werk wat ek ooit gelewer het, en ek weet nie of ek ooit weer iets op daardie vlak sal skryf nie. Maar dit maak nie saak nie. Die enigste storie wat ooit vir jou as skrywer kan tel, is die een waaraan jy tans werk.
Wat is jou gunstelinggenre?
Ek kan nie werklik sê dat ek 'n gunstelinggenre het nie.
Wanneer ek fiksie lees, kuier ek baie rond tussen genres. Ek lees liefde, misdaad, rillers, wetenskapfiksie, spookstories, zombiestories, enige ding.
Ek dink karakters maak die verskil tussen ’n goeie of ’n swak storie, nie die genre waarin dit geskryf is, of selfs die storielyn nie. ’n Skrywer kan met die mees oorspronklike storielyn denkbaar vorendag kom, maar as mens as leser nie met die karakters kan empatiseer nie, sal jy belangstelling verloor. En as mens dink aan wat jou gunstelingboeke is, dink jy heel eerste aan die karakters wat dit so boeiend gemaak het.
As skrywer is ek nie seker hoekom ek meestal misdaadfiksie skryf nie. Misdaad interesseer my nie werklik meer as ander genres nie, maar ek skryf organies – met ander woorde, ek is ’n swak beplanner! Wanneer ek ’n moordraaisel vir die leser skep, weet ek gewoonlik self nie hoe die saak gaan uitdraai of wie die skuldige is nie, tot omtrent driekwart deur ’n manuskrip. Dit maak my mal, maar hou my aan die skryf.
Watter mooi herinneringe het jy van Namibië?
Ek dink die landskappe van Namibië is half die kern van my menswees - tot vandag toe.
Die Namib, die Maanvallei, Erongo, Hardap, Kalahari, Omaheke of die Kavango, wat letterlik die paradys op aarde is.
Wanneer mens daardie landskappe sien, aanskou jy ’n wêreld uit die oertyd. Die soutpanne in Sossusvlei laat voel jou jy het op ’n ander planeet beland, dit is totaal onwerklik. Ek onthou dit baie goed. Ook die gevoel van eindelose ruimte om jou. Stilte – en die verrassings wat stilte inhou. Om dit te kon beleef terwyl ek jonk was, het my ’n yslike liefde vir die natuur en diere gegee, en my sensitief gemaak vir my omgewing.
Wanneer ek iewers in ’n vreemde stad sommer net op ’n bankie sit, of iewers in ’n woud plat op die grond, ervaar ek die diepste innerlike tevredenheid en dan moet ek altyd aan Namibië dink. Ek kan my aan die wêreld aan hierdie kant van die water verwonder, omdat die wêreld daar oorkant my vroeg geleer het wat diversiteit en skoonheid is.
Ek onthou ook lewendige strate en raserige, kleurryke mense. Namibiërs het ’n sterk sin vir tradisie en leef dit uit. Hulle is plat op die aarde, sê ’n ding nes hulle dit bedoel. Dit is alles redes hoekom ek graag die Karibib-boeke wou skryf. Die meeste van die karakters in die boeke is eintlik spesifieke mense wat ek nog van lank gelede af onthou.
Erika Schultz, die Hererovrou wat as ’n nuwe hoofkarakter in Doodsake op Karibib bykom, is byvoorbeeld gebaseer op daardie flambojante Hererovrou wat altyd in die arkade by die (destydse) Kalahari Sands Hotel in Windhoek Herero-poppies verkoop het. Sy is in baie fotoboeke van Namibië en sy was ’n puik besigheidvrou.
Sy het altyd ’n sonbril opgehad, maak nie saak van die weersomstandighede nie; dit het haar “glamorous” laat lyk. Al die toeriste wou altyd foto’s neem van haar, maar sy het hulle nie naby haar toegelaat nie voordat hulle haar betaal het vir die voorreg. Sy was ’n wonderlike karakter, gebore vir roem. Ek wonder soms of sy nog daar is.
Vertel ons van jou daaglikse (sprokies-)lewe in Switserland
My daaglikse sprokieslewe in Switserland verloop ongeveer as volg: Ek staan op, drink ’n koppie koffie saam met my man, gee my kinders elkeen ’n soen voordat hulle universiteit en werk toe gaan, maak beddens op, koop kruideniersware, betaal rekeninge, werk, stof af, maak huis skoon, was en stryk vir ’n gesin van vyf. Gelukkig kook my man! Ek vermoed my alledaagse lewe lyk baie soos die meeste mense se sprokie.
Die alledaagse werk soms op mens se senuwees, maar ek is ontsettend bevoorreg om ook ’n ryk verskeidenheid van plekke, mense en belewenisse in my lewe te hê.
Ons woon in Solothurn, Switserland se barokstad langs die Aarerivier. Solothurn het net sowat 18 000 inwoners. ’n Duisend jaar oue Romeinse muur omring die stad en daar is ’n massiewe Roomse katedraal in die middel van die ou deel van die stad.
Ons woon in die stadsentrum en omdat Solothurn so klein is, is die kunsmuseum, konsertsaal, teater, stadsbiblioteek en museums alles binne vyf minute se stap van die huis af wat ons huur.
Vyfuur smiddags gaan stap ek en my man om die stadsmuur of langs die rivier. Saans kan ons op die ingewing van die oomblik die nuutste teaterstuk gaan kyk, of na ’n simfonie gaan luister. Ek dink nie dit is juis almal se idee van pret nie, maar ek ervaar dit as ’n voorreg, want ek is basies ’n “nerd”.
Solothurn het ook ’n berg, die Weisstenstein. Dit lyk soos ’n brood, maar is hoër as Tafelberg, met kabelkarretjies wat dwarsdeur die jaar loop. Op die berg is daar ’n hotel en ’n fonduerestaurant (natuurlik!) en wandelpaadjies met piekniekplekke.
Of mens kan op ’n Saterdag in die Verenaschlucht gaan stap. Dit is ’n koel, boomryke vallei met stroompies, poele water en watervalle waar mense hulde bring aan die natuur deur kerse in skeure en gaatjies in rotsformasies te laat brand. Daar is ook gedenktekens aan bekende filosowe en natuurkundiges, en kapelle wat in die groter rotsformasies ingebou is, waar mens net kan gaan sit en dink.
Aan die meer opwindende kant het Switserland ’n fantastiese infrastruktuur sodat ek binne ’n uur in Zürich, Neuchatêl, Bern of Basel kan wees as ek die dag sommer net wil wegkom, of in mode- en skoenwinkels wil verarm.
Ons het dus nie naastenby soveel leefruimte as mense in Namibië nie, maar ons het darem genoeg “uitleefruimte”, as mens dit so kan stel.
Van Switserland af is dit natuurlik ook maklik om ander lande te besoek, want dit is ’n klein landjie in die hart van Europa. Ek is baie bevoorreg dat my omstandighede en werk my ook toelaat om daarvan gebruik te maak. Ek kan myself egter nie ’n reisiger noem nie, want Europa is kompak. Die afstande is so gering dat dit wraggies nie ’n prestasie is om plekke te sien nie. Wanneer julle van Namibië of Suid-Afrikaners die dag die pad vat, is dit op ’n heel ander skaal, halfpad om die wêreld. Dis régte reis.
In 2011 het ons ’n vierhonderd jaar oue chalêt in die Alpe in ’n middeleeuse Katolieke dorpie genaamd Törbel gekoop. Dit is in die Peniniese Alpe, wat die grens tussen Switserland en Italië vorm. Net 500 mense bly daar en die meeste van hulle boer met bokke, skape, hoenders en beeste, hoewel hulle as een klein gemeenskappie op ’n hopie bymekaar bly.
Die straatjies is so nou dat mens net jou arms hoef uit te strek om aan die huisies aan weerskante van jou te kan raak. Die beknoptheid maak egter sin omdat die weer gevaarlik onvoorspelbaar is en daar wolwe in die omgewing is. Mense maak op mekaar staat in sulke omstandighede. In die winter grawe ons byvoorbeeld mekaar se huise onder die sneeu uit. Verlede winter het ons nege meter sneeu gehad, dit was ’n belewenis.
Ek bring die helfte van die jaar in die berge deur om te skryf. In die Switserse bergdorpies het mens al die moderne geriewe, maar die alledaagse lewe het nog baie gemeen met hoe mense al honderde jare hier leef. In Törbel is die onderste verdieping van die chalêts waarin mense woon ’n bok- of skaapstal. In die winter bly die kleinvee so saam met hul mense by die huis – half ín die huis, as jy dit so vat.
In die somer vat die herders die vee deur die week uit na die weivelde toe. Drieuur elke Saterdagmiddag lui die kerkklokke hard en lank om hulle terug te roep sodat hulle Sondag kan kerk toe gaan.
Omdat die berghange in die Alpe so steil is, word die velde nog deels met sense gemaai om hooi vir die winter te verskaf. Almal help mekaar, trek van veld tot veld om te help sny en dan hou mens net daar piekniek. Dis harde werk en groot pret. Die boere maak ook biltong en droëwors daar, nes ons dit ken. Die wors bestaan uit vleis, beet en aartappels, en proe soos ’n gelukkige huwelik tussen ’n wors en ’n salami.
Die lewe op die berg is taamlik spartaans, wat ongelooflik bevrydend is. Die natuurskoon en seisoene in die Alpe is vir my asemrowend. Ook die tradisies en bygelowe. In hierdie ou chalêts is die deure in jou huis so laag dat selfs ’n kleinerige persoon onder die kosyn moet deurkoes. Dit is omdat die mense daar nog aan hekse en wintergeeste glo. Hulle glo die geeste kan nie buk nie; dis hoekom die deure so laag is. As ek ’n gees was, sou ek deurvlieg, maar wie is ek om hulle anders te vertel?
Ek is mal oor sulke lekker liegstories, want dit gaan oor die kollektiewe verbeelding van ’n gemeenskap. Oorlewering en die stories wat ons mekaar deur die eeue heen vertel, smelt saam en word ’n nuwe waarheid, ’n soort magiese waarheid wat ’n hele gemeenskap verryk. Dit is ongelooflik dat ons tot so iets in staat is, daardie keuse tussen: “Do you want the truth, or something beautiful?”
Wanneer skryf jy en hoe werk jou skryfproses?
Ek doen die meeste van my skryfwerk in die berge.
Ek staan vroeg op, skryf tot elfuur, gaan stap vir omtrent twee ure, eet middagete, rus vir ’n halfuur en skryf tot halfses die middag. Dan gaan stap ek weer, net vir ’n halfuur, of ploeter in my tuin. Skryf nog ’n uur of wat, tot omtrent halfagt die aand en dan is ek klaar vir die dag.
Ek probeer om streng by die roetine te hou, want die afwisseling tussen frustrerende verstandwerk en die suiwer fisieke plesier van stap keer dat ek skrywersblok kry.
Wat die skryfproses self betref, doen ek nooit vreeslik baie beplanning nie. As ek ’n idee vir ’n storie kry, maak ek net seker dit het ’n begin, ’n middel en ’n einde. Ek doen navorsing so ver ek gaan en ek hou van die verrassings wat mens se onderbewussyn uitbroei wanneer jy die storie ruimte gee om te ontwikkel.
Maar ek moet bysê, daar is ’n fyn lyn tussen spontaniteit en nonsens aanjaag in skryfwerk. As mens die pad byster raak en beheer oor jou manuskrip verloor, is jy in die moeilikheid. Ek het twee manuskripte vroeg in my loopbaan so liederlik verbrou dat ek dit moes weggooi. O, en my eerste poging vir Diva het ook in die snippermandjie beland!
Wanneer laas was jy in Namibië en wanneer kom kuier jy weer?
Ek was tien jaar laas net baie vinnig in Namibië en voor dit in 2000 laas.
Ek en my man sê altyd, die dag wat die laatlam uit die huis gaan, is die dag wat ons Namibië toe vlieg vir ’n maand of twee, nie net ‘n paar dae nie.
DOODSAKE OP KARIBIB
Isa Konrad laat die sonderlinge speurder van Karibib, Conrad Dorfling, weer krap waar daar ’n lyk is.
Sommer gou-gou ontdek Dorfling twee goed, nee drie:
- Die lyk is oud. Dit gaan moeite kos om uit te vind wat aangaan.
- Alet Gouws is terug in Karibib. Hoekom weet hy nie, maar hy is nie seker dat dit goeie nuus is nie.
- Die hele polisiestasie weet skynbaar van sy en Alet se afskeidsoen . . .
Conrad weet nie wie se lyk dit is nie, maar hy is dankbaar dat dit ’n geraamte is, ’n doodloopsaak dus. Hy kan nie twee moorde in twee weke onder sy neus laat gebeur nie.
En boonop krap Alet se teenwoordigheid hom om. Hy het regtig gedink daardie soen was vaarwel. Sy is ’n mooi vrou en Con se vorige huwelik het rampspoedige gevolge gehad.
Alet het per ongeluk ’n getuie in sy vorige moordsaak geword. Namibië is nie haar wêreld nie, haar lewe en haar man is in Kaapstad.
Hoekom het sy skielik teruggekom Karibib toe? Alet het hom laat glo sy was op pad om van haar man te skei.
Intussen warm sy doodloopsaak op. Binnekort is hulle op soek na ’n tweede lyk, en binne in sy eie lyf bewe die geraamtes in hulle kaste. - Bron: Lapa Uitgewers

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie