Namibiese veteraan op 'Moffie'-filmstel

Yandi Du Plessis
Yandi du Plessis - Die bekroonde regisseur Oliver Hermanus se oorlogfliek Moffie het op 13 Maart vanjaar sy debuut op die grootskerm in Suid-Afrika gemaak.

Voor dit is die fliek reeds by verskeie rolprentfeeste wêreldwyd vertoon.

Die storie van 'n jong dienspligtige wat die alledaagse wreedheid van die weermag in die 1980's tydens apartheid in Suid-Afrika probeer oorleef, het reeds gehore oor die wêreld heen oorgehaal.

Wat baie Namibiërs dalk nie weet nie, is iemand uit ons eie geweste het 'n belangrike rol in die feitlikheid en historiese akkuraatheid in die fliek gespeel.

Kobus “Mossie” Mostert het op Tsumeb skoolgegaan en het in 1986 gematrikuleer.

Van 1987 tot 1990 was hy in die weermag en sy CV is beslis indrukwekkend. Hy is deur Oliver genader om 'n oefenkamp (boot camp) vir die jong akteurs aan te bied om hulle voor te berei vir hul rolle as jong soldate.

Só kon hulle 'n beter idee kry van die destydse werklikheid wat hulle geloofwaardig moes uitbeeld.

Moffie se rolverdeling sluit Kai Luke Brümmer, Hilton Pelser, Matthew Vey, Stefan Vermaak en Ryan de ­Villiers in.

Met dié dat die fliek vanaf verlede week in Namibië gestroom kan word, het Kollig met Kobus gesels om meer uit te vind oor die oefenkamp en wat hy van die uiteindelike resultaat gedink het.

Kobus sê hy was baie opgewonde toe Oliver hom die eerste keer genader het om die oefenkamp aan te bied. Dit het ook 'n vloed herinneringe ­teruggebring van uitdagings destyds in die weermag.

“Ek het onthou hoe ons in daardie jare opgefoeter, rondgejaag en basies gebreek is.”

Hy sê dit was effens senutergend om dié begrip in net twee dae by die jong akteurs tuis te bring, maar hy het alles ingesit en programme aangebied wat sy weermagtyd opgesom het, van die basiese opleiding tot sy tyd as deel van die valskermbataljon.

Die omstandighede is so na aan die werklikheid as moontlik gehou.

Die akteurs se selfone is afgevat aangesien daar nie destyds selfone was nie. Hulle het almal in een saal op matrasse geslaap, darem in ­slaapsakke. Soggens het hulle mieliepap en koffie gekry, en saans net brood met botter op. Hy sê hy was van die begin af hard op hulle.

“Die oggend toe hulle aangekom het, het ek vroeg reeds op hulle begin skree, want dit is hoe ons destyds hanteer is.

“Hulle moes eers oorpakke aantrek en later die volle uniform. Gedurende die twee dae is hulle aan intense oefeninge onderwerp wat fisiek én geestelik uitputtend was.”

Kobus sê hy was beïndruk met die jong akteurs se vordering.

FIKSHEID

“Ek moet sê hulle was nogal fiks. Die outjies het nogal geoefen vir die ding.” Die oefeninge het egter 'n tol geeïs en na 40 minute het twee van hulle opgegooi en een het noodhulp nodig gehad.

“Oliver het selfs op 'n kol na my toe gekom en my gevra om nie so hard op hulle te wees nie.”

“Ek het hulle gedril. Die twee dae was basies een groot drilsessie.”

Hulle het met wapens geoefen, en Kobus het 'n demonstrasie gedoen oor hoe om 'n geweer uitmekaar te haal, terug aanmekaar te sit en skoon te maak.

Volgens Kobus was hy baie beïndruk met hul wapenhantering. Hulle het ook geleer hoe om in formasie met die wapens te stap.

Hulle het ook basiese oefeninge geleer soos hoe om op aandag te staan en om die bed reg op te maak.

“Ons kon net aan die basiese oefe­ning raak. Ek sou hulle graag vir 'n maand wou hê, dan sou ek regte soldate van hulle maak,” het Kobus geskerts.

Hy sê van hulle het soms kanse gevat en is toepaslik gestraf, maar almal het daaruit geleer en die jong akteurs sê hulle het dit baie geniet.

“Ek het hulle karakters onder skoot geneem en hulle byname gegee. Ek wou hê hulle moes weet hoe dit daardie tyd was. As jy bakore gehad het, was jy 'Wingnut' en die een outjie het brilletjies gehad en ek het hom onmiddellik 'Harry Potter' genoem. Een ou was 'n vegetariër, so ek het hom 'Veggie' genoem, maar hulle was mal daaroor.”

Kobus het die fliek reeds gesien, en kon nie sy oë van die skerm weg­skeur nie.

“Ek het snaaks genoeg in die middel van die fliek 'n vreeslike nood gehad, maar ek het nie geroer nie, want ek was bang ek mis iets!”

“Die manier hoe Oliver hierdie fliek aanmekaar gesit het, is briljant. Ek het nie besef hoeveel werk dit is om 'n fliek te maak nie.”

“Ek was so trots om te sien hoe die outjies hulle rolle vertolk het. Hulle het by my aangekom as outjies wat nie weet wat om te doen of hoe om hulle te gedra nie en hulle het dit uiteindelik so goed reggekry. Ek sou selfs saam met 'n paar van hulle oorlog toe gegaan het.”

MOEILIKE TYE

Van hulle het selfs na die tyd vir hom gesê hulle is spyt hulle kon nooit weermag toe gaan nie, sê Kobus.

Dit was soms vir hom moeilik om hulle te verskree en sleg te behandel, maar andersins sou hulle nie weet hoe dit regtig destyds was nie.

“Die weermag breek jou af tot daar niks van jou oorbly nie en dán bou hulle jou op en maak 'n man van jou. Jy ontwikkel 'n ruggraat wat meer as die helfde van vandag se ouens nie het nie.”

Kobus is bly duisende Afrikaanssprekendes kan 'n idee kry oor jong soldate se ervaring in die weermag, veral in 'n oorlogsituasie.

“Daar is baie dele wat my lewe in die weermag uitbeeld en ek glo ook baie ander ouens s'n en ek dink dis goed mense sien dit. Van dag een af word daar op jou geskree en gevloek en jy moet vasbyt. Jy is nou 'n man in 'n manswêreld en jy moet oornag grootword.“

“Toe ek my offisierskursus gedoen het, was hulle verskriklik streng op netheid en paraatheid. Die valskermbataljon was 'n spesiale kursus wat ons moes doen, want ek was deel van die Suidwes-weermag en ons was te veel wat gekwalifiseer het.

“Dit was die beste evaring van my lewe en uiteindelik het ek vier jaar in die weermag gebly en as 'n volle luitenant klaargemaak. Ek het hulle geleer van formasies soos ons geleer is.

“Ek het by my troepe daai angs probeer inprent, daai bangheid wat jy het met jou eerste kontak. Ek het die boksformasie vir hulle geleer. Dis een ding om met 'n wapen te loop en jou 'n grootman te hou, maar dis 'n hele ander storie as mense begin ­terugskiet. Ek dink nie ek is een van daai ouens wat letsels oorgehou het nie, daar is baie van hulle.

“Sekere goed praat jy nie oor nie, maar ek onthou alles. Ons was nie helde nie Ons het gedoen wat van ons verwag is. Dit was sports, lag, huil, angs en bang. . . Jy leer in daardie tyd om naby aan die Here te leef en te bid vir beskerming.”

Hy sê die fliek het dit goed reggekry om hulle emosionele ervaring destyds uit te beeld, en die fliek het baie emosies teruggebring.

“Toe ek begin kontrakte doen in Angola, het ek my nefie verloor wat saam met my in een bungalow geslaap het. Hy het uitgegaan en net nooit weer teruggekom nie. Ek dink daai het my meer gevang as wat alles in die weermag my gevang het.”

Sy betrokkenheid by die film was steeds 'n hoogtepunt in sy loopbaan. Die jong akteurs het sy respek beslis verdien.

“Ek gee nie om wat enigiemand anders ooit sal sê nie, maar hulle het dit bitter goed gedoen.

“Ek sê weer – great fliek, great ­ervaring, fantastiese werk gedoen. Hulle is briljante outjies en ek haal my hoed vir hulle af.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!