Namibiese weermag skuldig aan staatskaping, sê PDM
Die amptelike opposisieparty is omgekrap oor die ministerie van verdediging se aankoop van 'n luukse gasteplaas.
Die Popular Democratic Movement (PDM) het sy skok oor die aankoop van die luukse Oropoko Lodge teen N$45 miljoen deur die ministerie van verdediging uitgespreek.
Volgens die tesourier-generaal van die PDM, mnr. Nico Smit, was die gasteplaas ’n verdiener van buitelandse valuta. Noudat dit in die weermag se hande is, is dit ’n volslae verlies en sal boonop uitgawes vir instandhouding en opknapping vir die belastingbetaler meebring.
“Die redes wat die ministerie van verdediging vir die aankoop van Oropoko verskaf, is vals. Soldate hoef nie van natuurbewaring te leer nie en hulle het beslis nie ’n N$45 miljoen-skietbaan nodig nie,” sê Smit.
VAKANSIEOORD
“’n Mens kan nie help om te vermoed dat die NDF die voorbeeld van die Suid-Afrikaanse weermag voor onafhanklikwording volg deur luukse eiendomme te koop om as vakansieoorde vir die toppersoneel te dien nie.”
Smit wonder wat Namibiërs moet glo in die lig van ’n aankondiging deur die NDF twee weke gelede dat duisende soldate huis toe gestuur word omdat daar nie genoeg geld is om hulle verder kos te gee en te huisves nie.
“Die minister van finansies het dit verlede jaar nodig gevind om die meeste kapitale projekte oornag te staak wat tot chaos en moeilike tye in die openbare en private sektore gelei het.
“Daar is van kontrakteurs verwag om die gordels stywer vas te maak en nie-betalings te hanteer, terwyl hierdie besuinigingsmaatreëls talle klein- en medium-sakeondernemings onder druk geplaas het en duisende mense hul werk laat verloor het. En tog bestee die NDF N$45 miljoen op ’n luukse gasteplaas wat dit nie kan gebruik nie en seer sekerlik nie nodig het nie,” sê Smit.
Hy wil ook weet presies wat met die N$45 miljoen gekoop is. Smit stel voor dat ’n lys van al die diere en bates op die plaas onafhanklik opgestel en aan die parlement voorgelê word.
“Met die verflenterde Namibiese ekonomie is dit onverstaanbaar dat die NDF en die tesourie belastingbetalers se geld op ’n eiendom kon bestee wat nog meer druk op die staatsbeursie sal plaas,” sê Smit.
Hy sê hy het gelees dat die eienaar van die plaas, mnr. Kurt Steinhausen, ’n ou vriend van mnr. Sam Nujoma is.
“Is dit ’n geval waar hy wou aftree en waarskynlik sy vervalle eiendom wou verkoop, en Swapo ingestem het om hom te help om ’n astronomiese prys vir Oropoko te kry? Is dit hoekom Namibiese belastingbetalers, ter wille van ’n politieke kameraad, moet swaarkry?
“Dink waarop anders N$45 miljoen bestee kon word: Skoolhandboeke, instandhouding van skole, medisyne en behuising, die lys is eindeloos,” sê Smit.
Die PDM sê die tyd het aangebreek vir die verrotting om op te hou, veral omdat meer as 40% van die bevolking werkloos is.
Die party verstaan ook nie hoe die minister van finansies, mnr. Calle Schlettwein, oortuig kon word om die reusebedrag te oorhandig nie.
GEEN AANSPREEKLIKHEID
Die PDM is voorts bekommerd omdat die ministerie van verdediging nie aanspreeklik teenoor enige instansie in die land is nie en die ouditeur-generaal nie die filiale van die ministerie, soos August 26, se boeke ouditeer nie.
“Dit word by die dag duideliker dat die NDF carte blanche van die kabinet het en die hoofdryfveer van korrupsie in Namibië is omdat daar absoluut geen wigte en teenwigte vir hul optrede is nie. Die NDF beskou homself as verhewe bo die wette en die grondwet van Namibië.
“Die feit dat die ministerie blykbaar die enigste een is wat nie deur die besuinigingsmaatreëls geraak word nie, of dit blatant ignoreer, laat ’n mens wonder of hulle nie inderdaad die Swapo-regering gekaap het nie. Dit was sedert onafhanklikwording ’n kenmerk van hierdie regering dat die ministerie van verdediging die ‘goue kind’ is en reuse- begrotingstoekennings vir onbekende doelwitte ontvang. Seer sekerlik is dit ’n teken dat hierdie ministerie buite beheer is.
“Die PDM is van mening dat die tyd vir die president aangebreek het om die leisels by hierdie ministerie in te trek, veral omdat dit die jaar van sogenaamde rekenskap is. Die PDM doen ’n dringende beroep op pres. Hage Geingob om te doen wat hy sê, en die nasie meedeel watter rekenskap van die ministerie geëis sal word. Sal hy die transaksie kanselleer of moet ons maar aanvaar dat die jaar van rekenskap bloot ’n windeier is?” vra die PDM in ’n verklaring.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie