Namibiër deel van Nasa se ruimteskool
DHPS-leerling met 'n droom
–
“'n Ruimtevaarder het vertel Namibië is een van die mooiste lande as jy dit uit die ruimte bekyk.”
Tanja Bause
“Vir baie mense nes vir my was die Amerikaanse ruimteagentskap (Nasa) altyd buite bereik. Ek was geïnteresseerd, maar was onder die indruk dat ek nooit deel van hulle kan wees nie. Dit het onmoontlik gelyk om die organisasie te beleef, vergeet daarvan om vir hulle te kan werk.
“Deur hul ruimteskool het dit egter moontlik geword en ek kon agter die skerms van hierdie groot industrie kyk. My belangstelling in Nasa en die ruimtebedryf is nou baie meer,” het Silke Redecker van Windhoek gesê.
Dié leerling van die Deutsche Höhere Privatschule (DHPS) was vir twee weke deel van die United Space School van die Nasa Johnson Space Center in Houston, in die Amerikaanse deelstaat Texas.
Silke het reeds in 2019 vir die ruimteskool ingeskryf. Dit was ook die eerste jaar dat Namibië genooi is om aan die program deel te neem.
“Ek het toe tweede gekom wat beteken het ek sou outomaties vir 2020 in aanmerking kom sonder dat ek weer hoef in te skryf. Die enigste voorwaarde was dat my skoolpunte minstens op dieselfde vlak as die vorige jaar bly,” het sy gesê.
Die ruimteskool is vir jeugdiges tussen 16 en 18 jaar van oraloor die wêreld. Die doel is om 'n nuwe generasie se belangstelling in die heelal te prikkel en ontwikkel. Tot dusver het 800 jeugdiges uit 25 lande aan die jaarlikse program deelgeneem.
“'n Land moet genooi word om te kan deelneem en dit is 'n groot voorreg om deel hiervan te wees.”
Volgens Silke bied die ruimteskool gewoonlik deelnemers die kans om met 'n verskeidenheid temas oor bemande ruimtereise vertroud te raak. Hulle kan gesels met ruimtevaarders, wetenskaplikes, dokters, sielkundiges en ingenieurs wat in die gebied werk.
“Hulle kry ook toegang tot gedeeltes van die Johnsons Space Center wat gewoonlik nie vir die publiek oop is nie. Deelnemers woon by families wat gewoonlik by Nasa werksaam is.”
Volgens Silke moet deelnemers gewoonlik 'n bemande missie na Mars beplan.
“Maar hierdie jaar weens Covid-19 was alles anders en die program kon nie soos gewoonweg einde Mei plaasvind nie. Ek was aanvanklik baie teleurgesteld dat ek nie na Amerika kon reis nie. Maar die organiseerders het 'n virtuele program opgestel. Die program is ook van United Space School na Global Space School herdoop. Die hele ervaring was 'n onvergeetlike belewenis en ek voel baie bevoorreg.”
Die tema het ook verander en in plaas van 'n missie na Mars moes deelnemers 'n missie na 'n asteroïed beplan om grondstowwe af te bou en vervoer.
“Saam met my span was een leerling elk van Frankryk, Duitsland, Italië, Suid-Afrika, Skotland, Ierland en die eiland Man. Ons mentor was van Engeland. Ons span het besluit om vir die vervoer van die grondstowwe verantwoordelik te wees.”
Gedurende die eerste week is elke oggend 'n Zoom-vergadering vir al die spanlede gehou. Volgens Silke het tydverskille dié afsprake bemoeilik omdat dit vir sommiges baie laat óf baie vroeg was.
“Ons het ook gassprekers gehad met wie ons via Zoom kon gesels en vrae vra. Dit was 'n unieke geleentheid om mense te ontmoet wat in die ruimtebedryf werk.”
In die tweede week kon hulle met ruimtevaarders praat.
“Ons kon gesels met twee voormalige ruimtevaarders en een wat nog aktief is. Volgens Michael Baker, 'n ruimtevaarder wat al vier keer in die ruimte was, is Namibië een van die mooiste lande as jy dit vanaf die buitenste ruimte bekyk.”
Haar span moes ook elke aand vergader om as span hul voorlegging saam te stel oor hoe hul deel van die missie sal verloop.
“Op die Vrydag van week 2 moes ons die voorlegging inhandig. Elke spanlid moes 'n video van hul deel van die voorlegging instuur wat dan aanmekaar gesny is. Die video is Saterdag aan die raadslede van die Foundation for International Space Education (FISE) gewys waarna hulle ons vir 15 minute kon vrae vra. Dit was nogal senutergend!”
Die daaropvolgende Sondag is die virtuele prysuitdeling gehou waar alle deelnemers, mentors en organiseerders vir die laaste keer byeen sou kom.
“Ons sou dan ons sertifikate gekry het, maar hulle word nou met die pos gestuur. Hoewel ons almal mekaar net virtueel geken het, was die laaste vergadering vir almal baie emosioneel.”
Gedurende die twee weke van die Global Space Skool moes Silke boonop haar skriftelike Abitureksamen geskryf.
“My skool het ingestem dat ek die eksamen later kan skryf, maar ek het gedink om dit liewer terselfdertyd agter die blad te kry omdat die herskryfdatums gedurende die coronatydperk so onseker is. Vir my was dit die moeite werd om gedurende my Abitur deel van die program te wees.”
Sy het reeds in 2019 geweet dat die ruimteskool en Abitur 'n groot uitdaging sou wees en het haar met die hulp van haar onderwysers goed hierop voorberei.
“Ek kon dit doen met baie selfdissipline en my onderwysers het nooit getwyfel dat ek dit sou maak nie en dit het my gemotiveer.
“Ek het oneindig baie van die ruimtebedryf geleer, maar ook oor mense en hul kulture. Ek het geleer dat mense selfs virtueel in staat is om goeie spanwerk te doen en dat mense in jou hart kan kruip.
“Die ruimtebedryf is baie groot en jy hoef nie 'n ruimtevaarder te word om deel daarvan te wees nie. Dit is egter belangrik om alles moontlik tot jou beskikking te benut en veral om die moed te hê om aansoek te doen en jy moet bereid wees om alles te gee.”
Silke beoog om volgende jaar in Europa ingenieurswese te gaan studeer.
“Ek het baie belangstellings, maar dit is wat ek nou wil doen. Met die coronapandemie is dit egter moeilik om behoorlik te beplan. Ek sluit glad nie die moontlikheid uit dat ek eendag in die ruimtebedryf sal werk nie.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie