Namibiërs: Die sterre se rocksterre
Die hoë-energie- stereoskopiese stelsel (H.E.S.S.) in die Khomas Hochland en Namibiese navorsers is deel van 'n reuseprojek wat groot internasionale toekennings verwerf het.
Francoise Steynberg
Navorsing in astrofisika, waarvan die hoë-energie- stereoskopiese stelsel (H.E.S.S.) met sterk Namibiese deelname deel was, is verlede jaar twee keer as die wetenskaplike deurbraak van die jaar bekroon.
Die eerste toekenning is deur die Britse Instituut vir Fisika (IOP) se tydskrif, Physics World, op 11 Desember 2017 gemaak.
Die tweede een is op 21 Desember verlede jaar deur die wêreldbekende, hoogsaangeskrewe wetenskaplike joernaal, Science, gemaak.
Die wetenskaplike deurbraak ter sprake is 'n botsing en samesmelting van twee neutronsterre, 130 miljoen ligjaar van die aarde af, wat op 17 Augustus verlede jaar waargeneem is.
Dit is toe vir die eerste keer regstreeks in die vorm van gravitasiegolwe en elektromagnetiese straling (radiogolwe, sigbare lig en gammastrale) waargeneem.
Die gravitasiegolwe, wat kabbelings in ruimtetyd is, was vir 100 sekondes lank waarneembaar.
Dit is ook gesien in gammastrale - wat uiters uniek is.
SLIMKOP NAMIBIëRS
Altesaam 3 674 navorsers van 953 instellings het aan dié internasionale projek saamgewerk.
Onder die navorsers was vier personeellede van die fisika-departement van die Universiteit van Namibië (Unam), asook twee Namibiese PhD-studente by die Humboldt-universiteit in Berlyn, en die Noordwes-universiteit (NWU) in Potchefstroom in Suid-Afrika.
Hulle is dr. Michael Backes, hoof van die Namibiese H.E.S.S.-groep en senior lektor in die fisika-departement, dr. Riaan Steenkamp, hoof en senior lektor in die fisika-departement, en voormalige hoof van die Namibiese H.E.S.S.-groep, mnr. Isak Davids, lektor en PhD-student aan die NWU, en mnr. Kleopas Shiningayamwe, tutor en PhD-student aan Unam.
Die Nambiese PhD-studente is mnr. Tim Holch van die Humboldt-universiteit in Berlyn en me. Hambeleleni Ndiyavala, van NWU en lektor by Unam se Khomasdal-kampus.
AGTERGROND
Ná die eerste opsporing van gravitasiegolwe deur die Laser Interferometer Gravitasiegolf Sterrewag (Ligo) in Livingstone, Louisiana, in Amerika in 2016, het die sleutelnavorsers van die projek in Oktober 2017 die Nobelprys vir fisika ontvang, sê Backes.
“Dit was die baie suksesvolle en hoogserkende einde van 'n lang wetenskaplike reis, maar net die begin van 'n nuwe era van multiboodskapper-astronomie,” sê Backes.
“Astronomie gebruik visuele lig sedert Galileo 400 jaar gelede die eerste keer 'n teleskoop gebruik het om na sterre te kyk. Tydens die laaste eeu is ander vorme (wetenskaplik gesproke “golflengtes”) van lig soos gammastrale, X-strale, ultraviolet- en infrarooi-straling, asook mikrogolwe en radiogolwe, gebruik om die heelal te bestudeer,” verduidelik Backes.
Hy sê radioteleskope word veral in Afrika gebruik met die grootste astronomiese onderneming op die vasteland, die Square Kilometre Array (SKA)-radioteleskoopprojek in Suid-Afrika.
Backes sê die vorm van lig wat onlangs vir astronomiese waarnemings gebruik word, is baie hoë-energie gammastrale soos by H.E.S.S. in Namibië waargeneem.
Ná die eerste opsporing van hierdie gammastrale in 1989, word H.E.S.S. ('n tweede generasie Cherenkov- teleskoopstelsel) sedert 2003 in die Khomas Hochland, 120 km suidwes van Windhoek, gebruik en het sedertdien met verskeie wetenskaplike pryse weggeloop.
Backes sê noudat wetenskaplikes gereeld die oorsprong van gravitasiegolwe kan opspoor en aandui, het die era van multigolflengte-, en selfs multiboodskapper-astronomie werklik begin.
“Die twee verskillende boodskappers (lig en gravitasiegolwe) gekombineer, kan veel dieper insigte in die mees energetiese verskynsels van die heelal openbaar,” verduidelik Backes.
WETENSKAPLIKE DEURBRAAK
Hy sê dit is presies wat op 17 Augustus 2017 gebeur het: “Gravitasiegolwe is ná die botsing van twee ultradigte oorblyfsels van reusesterre, genoem neutronsterre, opgespoor.”
Backes verduidelik: “Sodra die outomatiese data-analiseprosedures iets interessant raaksien, word 'n boodskap oor die wêreld aan samewerkende sterrewagte gestuur sodat verskillende teleskope die bron van die gravitasiegolwe kan opspoor.
“Opwinding in die internasionale astronomiegemeenskap het verhoog toe die Fermi-gammastrale Ruimteteleskoop van Nasa, asook die Internasionale Gammastrale Astrofisika Laboratorium (Integral) van die Europese Ruimte-agentskap, 'n kort uitbreking van gammastrale uit dieselfde rigting sowat twee sekondes daarna, waargeneem het.”
Backes sê meer as 70 sterrewagte wêreldwyd het op 'n ongekende manier die versoek vir medewaarnemings gevolg, onder andere H.E.S.S.
“Van alle teleskope wat nie een keer 'n groot deel van die heelal op een slag kan sien nie (dit moet na die posisie gerig word wat deur Ligo bepaal word), was die H.E.S.S.-teleskope die eerste wat in die rigting die gebeurtenis waargeneem het.”
Volgens Backes beklemtoon hierdie toekennings ook die samewerkende aard van hedendaagse “groot wetenskap”.
“Die ontploffing was maklik die mees bestudeerde gebeurtenis in die geskiedenis van sterrekunde met 3 674 navorsers van 953 instellings wat saamwerk op 'n enkele navorsingstuk wat die samesmelting en die nasleep daarvan saamvat,” skryf Science.
Physics World skryf die toekenning is doelbewus “gegee aan duisende wetenskaplikes wat aan byna 50 projekte wêreldwyd saamwerk”.
Voorts “glo hulle dat hierdie waarneming 'n skitterende voorbeeld is van hoe ons kennis van die heelal vorentoe kan beweeg wanneer mense oor die hele wêreld saam kan werk met 'n gemeenskaplike wetenskaplike doelwit”.
H.E.S.S. is 'n stelsel van vier teleskope met 'n deursnit van 12 meter en een met 'n deursnit van 28 meter.
Die teleskope word deur internasionale samewerking deur meer as 250 navorsers van 13 lande bedryf.
Unam is 'n lid van die H.E.S.S.-samewerking sedert sy ontstaan en tans is daar drie Namibiese PhD- en twee MSc-studente wat hul navorsing in die konteks van H.E.S.S. en gammastraal-astronomie in die departement van fisika aan Unam doen.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie