'Namibiërs het vertroue in demokrasie verloor'

Denver Kisting
Denver Kisting – Die bekende politiekewetenskapdosent prof. André du Pisani sê mense het vertroue verloor in demokrasie se legitimiteit om voldoende te presteer.

Hy het dié opmerking gister in Windhoek tydens die bekendstelling van die Afrobarometer se jongste bevindings bekend gemaak.

Dit kom te midde van die bevinding dat die beskouing van demokrasie op sy swakste laagste sedert 1999 is.

“Dit is hoofsaaklik omdat tevredenheid met demokrasie afgeneem het,” lui een van die studie se gevolgtrekkings.

Dié studie is ’n onpartydige, niewinsgewende navorsingsnetwerk wat inwoners se gesindheid jeens onder meer demokrasie, regeringsbestuur en die ekonomie peil.

Wat die 2019-studie betref, neem die aantal Namibiërs toe wat pogings steun om die regte en vryhede te beperk wat ’n demokrasie bied.

Dit ondanks die feit dat die meerderheid Namibiërs steeds dié regte en vryhede steun, sê mnr. Christie Keulder van Survey Warehouse.

’n Beduidende aantal mense is van mening dit maak nie saak watter regeringsvorm hulle het nie, is bevind.

Uit die menings van die 1 200 volwassenes wat aan die studie deelgeneem het, blyk dit Namibië se demokrasie moet hom regmaak vir ’n rowwe rit “omdat net sowat een derde van inwoners ‘toegewyde demokrate’ is”.

Te midde van openbare protes – veral in die sosiale media – teen teenmisdaadoperasies soos Operasie Kalahariwoestyn, meen die helfte van Namibiërs volgens die studie aandklokreëls en spesiale padblokkades is geregverdig wanneer openbare veiligheid in die gedrang kom.

Privaatheid

Sowat 60% van inwoners meen mense moet die reg behou om in privaatheid met mekaar te kommunikeer sonder dat die regering hul korrespondensie lees of hoor wat hulle sê.

Die navorsers wou by deelnemers aan die steekproef weet of die regering toegelaat moet word om private kommunikasie te monitor om te verseker mense beplan geen geweldsdade nie.

Met onlangse regeringsgeluide om ’n fermer oog oor kerke te hou, steun 50% van inwoners die regering se reg op die regulering van geloofsuitsprake teenoor die 46% wat meen algehele vryheid van geloof moet gewaarborg word.

Kragtens artikel 1 van die Grondwet is Namibië ’n sekulêre staat hoewel parlementsverrigtinge steeds met gebed afgeskop word.

Die meeste Namibiërs (82%) verwerp ’n eenpartyregering en ’n militêre en alleenheerskappy.

Deel van die kritiek teen Operasie Kalahariwoestyn is juis dat dit tot die militarisering van die land se strate lei, het die Windhoekse prokureur mnr. Trevor Brockerhoff die afgelope jaar herhaaldelik gemaan.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!