Namibiërs in transito
Pedro Vorster - Vier en dertig uur vroëer het ons die lug ingeklim by die Internasionale Lughawe Hosea Kutako.
Nou wag ons na aan middernag op ons gasheer op die Internasionale Lughawe Ljubljana, in Slowenië se hoofstad.
Alles is onwerklik. Onnodige ligte skakel geleidelik af. Die laaste vliegtuig het geland. Die lughawe loop leeg en donker.
Die weervoorspelling was verkeerd. Die temperatuur is nege grade Celsius hoër. ‘n Sagte misreëntjie sak uit.
Ons wag onder die wye dak van die oppik-area op Dejan (klank hom Deon) Balazic.
Wat maak ons hier? Ons soek toegang tot Kroasië, Europeërs se bes bewaarde geheime vakansieplek.
Vir hulle is die weer warmer, was so selfs voor die heersende hittegolf, en blyplek is vir hulle ook billik, want hulle hoef nie met ‘n spartelende rand (ZAR) klaar te kom nie.
Ek en my maat van baie jare, overgesetsynde my vrou en ek, wou na ‘n land wat volksvreemd is en waar die taal geen wortels het wat naastenby Afrikaans is nie.
“China!” roep ek, maar sy het, soos in brug, ‘n sterker hand en Kroasië wen.
In ons onkunde meen ons ‘n Schengen-visum sal voldoende wees om mee te reis. Probleem. Kroasië is nie deel van die Europese Unie nie, dus Schegen-loos. Hulle het ook nie ‘n ambassade in Windhoek nie. Namibiërs moet persoonlik in Pretoria gaan aansoek doen vir ‘n Kroatiese visum. Dit mag twee weke duur.
Iewers staan geskryf ‘n vermeerdering van kennis bring ‘n vermeerdering van smarte. Beter ingelig, maar onder hierdie smartvolle wolk is ons huis toe. Kroasië vervaag en blyk ‘n droom te wees wat ons nie beskore is nie.
‘n Breinstorm later en ons het gehergroepeer: ‘n Reisiger kan egter Kroasië binnegaan met ‘n Schengen-visum. Dus, watter land lê gerieflik naby vir ‘n binnekoms? Slowenië.
Nou kan ons met die Schengen-visum sommer Italië toe ook neuk, ZAR willende.
Ons eerste skof van drie is agter die rug as ons op Doha, in Qatar, voete op aarde sit. Die lughawe heet Hamad, is nuut en spreek van geld kwistig aangewend. Dit moet ‘n vertoonkas wees en is. Dit is die modernste en mees verbruikersvriendelike lughawe waarop ek al was. Gelukkig, want hier moet slegs so 10 uurtjies in transito verspeel word.
Uit ondervinding het die lughawe geleer dat almal nie privaatsitkamers kan bekostig terwyl hulle op aansluitingsvlugte wag nie. Slaapsale vir getroude pare, aparte kamers vir mans en vrouens en vrouens met kinders of mans met kinders word gratis voorsien. Dommellend op leer- russtoele kan jy die ure aftel. Die ruim vertrek voel soos ‘n koshuis se slaapsaal.
‘n Baba hoes slymerig. Iemand lê lekker genoeg om rasperig te snork. ‘n Vreemdeling kug. Almal mompel. ‘n Onbewaakte selfoon tingel kerkklokhard. Die gemiddelde grootte stoele is te klein vir my. Ek moet op en uit.
Buite het elke naam ‘n winkel. Ek ontdek vier vals palmbome in die reuse- sentrale portaal waar ‘n enorme teddiebeer dien as ‘n visuele oriëntasiepunt. Teddie slaag in sy doel.
Qatar Museum se ambisie is om kunswerke van bekende internasionale kunstenaars in publieke ruimtes te plaas. Só kry Tom Otterness die geleentheid om ‘n interaktiewe speelplek vir jonk en oud te skep in brons. Natuurlik is dit groot, neem drie jaar se beplanning en staan vier verdiepings hoog.
Van Doha vlieg ons oor die Swart see, Boedapest en Boekarest. Op Wene wag ‘n verdere ses ure in transito en dan land ons reisvoos op Ljubjlana.
Dejan daag op. Eerste indrukke is sterk en die vriendelike Sloweniër is hulpvaardig. Sy Engels is byna foutloos. Ons verstaan mekaar goed.
‘n Ruk gelede het ek nie geweet daar is ‘n Slowenië nie. Môre gaan ek sy sonskynkant verken.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie