Namibiërs juig oor Suide se waterwonders
Henriette Lamprecht – Watergeskiedenis is die naweek gemaak met Namibië wat nog nooit tevore soveel water in sy opgaardamme gehad het soos tans die geval is nie.
Terselfdertyd is asem opgehou dat Mariental dalk weer soos in 2006 kan oorstroom indien dit nodig sou word om eensklaps té groot volumes water uit die Hardapdam te laat.
Groot opgewondenheid heers oor die nuwe Neckartaldam by Snyfontein sowat 40 kilometer noordwes van Keetmanshoop, wat gisteroggend volgens NamWater reeds 85,19% (sowat 730 miljoen kubieke meter water) ingehad het.
Die hoeveelheid water wat gisteroggend in die dam was, is reeds gelykstaande aan 2,7 propvol Hardapdamme (sien infografiek op bl. 2).
Die Neckartaldam het bykans N$6 miljard gekos en die doel is om besproeiingskemas van 5 000 hektaar daar aan te lê.
Teen druktyd gister het mnr. Japie Mostert, bestuurder by NamWater op Keetmanshoop, gesê die dam was toe 87% vol. Volgens Mostert het Namibiërs in hul hordes op die dam toegesak wat gistermiddag vir die eerste keer besoekers toegelaat het. Volgens hom is 150 besoekersvorms voorberei, maar was dit toe reeds opgebruik en het nog motors en besoekers gewag om dié grootse gesig te aanskou.
Tien polisievoertuie, asook beamptes van NamWater was by die dam om orde te handhaaf.
“Die belangstelling is lekker, personeel is hier om te help. Die laaste ses ure (vanaf 06:00 gister) het die dam 'n invloei van oor die 700 kubieke meter per sekonde gehad,” het Mostert gesê.
HARDAPDAM
Die Hardapdam se sluise is die naweek geleidelik oopgemaak, nadat 'n vloedwaarskuwing vir die dorp aanvanklik Vrydag uitgereik is.
Die munisipaliteit het toe gewaarsku nog reën word tot Saterdag in die opvangsgebied voorspel.
Met die dam wat Vrydag teen 17:00 reeds sowat 88% vol was, was die moontlikheid groot dat met die verdere invloei van water en die meer water wat dan uitgelaat moet word, gebiede in en om Mariental wat tot vloede geneig is, kan oorstroom. Die seunskoshuis van Hoërskool Mariental is toe reeds as ontruimingsentrum geoormerk waar geraakte inwoners tydelik gehuisves kon word.
Teen Saterdagoggend was die dam 80% vol en was daar geen beduidende vloei in die opvangsgebied wat invloei sou verhoog nie en is ook geen verdere swaar reën vir die gebied voorspel nie.
Mnr. Dawie de Klerk, 'n boer by die Hardapskema en ondervoorsitter van die Akkerbouprodusentevereniging, sê water is teen gister steeds teen 100 kubieke meter per sekonde uit die Hardapdam gelaat om die vlak van die dam geleidelik tot 70% af te bring. Volgens De Klerk sou dié vlak teen laatmiddag bereik word en kon die sluise weer toegemaak word.
“Die uitlaatvloei is geleidelik van 500 kubieke meter per sekonde tot 100 kubieke meter per sekonde afgebring. Teen 'n hoë uitvloei en as dit gelyktydig uitgelaat word, veroorsaak dit geweldige erosie in die landerye,” het De Klerk verduidelik.
“Die rasionaal agter dié vermindering en om die vlak geleidelik te laat sak en nie skielik al die water uit te laat nie, is omdat baie landerye reeds onder water is.”
Al die water wat deur die Hardapdam se sluise gaan, beland volgens De Klerk in die benede Visrivier, met ook syriviere wat bymekaarkom en saamvloei na die Neckartaldam. Om 06:00 gister het die Neckartal 'n inhoudsmaat van 730,04 miljoen kubieke meter water gehad en was dit volgens NamWater 85,19% vol. Die invloei in die dam was toe 743,7 kubieke meter water per sekonde.
Die 85,19%-vlak van die Neckartal gisteroggend verteenwoordig volgens De Klerk reeds 2,7 keer die Hardapdam wanneer dit 100% vol is.
• Intussen sê 'n inwoner van Snyfontein, mnr. Jonathan Thomas, daar lê “baie water” tans sowat 2 km vanaf Snyfontein by Bobbejaankranz buite die dorp.
Volgens Thomas is daar met die ||Kharas-goewerneur, me. Aletta Fredericks, oor die moontlike verskuiwing van die inwoners vergader en het sy ook Snyfontein besoek. Volgens Thomas is daar sowat ses huishoudings wat in die opvangsgebied van die Neckartaldam woon en wat onmiddellik na hoërliggende gebiede verskuif moet word.
Geen antwoord is egter volgens Thomas nog van die kantoor van die goewerneur ontvang oor of en wanneer dié kleinskaalse boere verskuif of hervestig sal word nie.
Die sowat 20 huishoudings van Snyfontein moes verskuif word om plek vir die konstruksie van die dam te maak.
Baie Namibiërs het ook die naweek die woestyn besoek om die waterskouspel in Sossusvlei te beleef.
Dié vlei het die afgelope week vir die tweede keer in die bestek van 'n week water gekry toe die Tsauchabrivier in vloed afgekom het.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie