Namibiërs ly honger

Droogte, hoë kospryse en die ekonomiese impak van Covid-19-maatreëls dompel die land in ’n hongerkrisis.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer

Bykans een uit elke drie Namibiërs – of 750 000 van die bevolking – gaan in die volgende drie maande honger ly en nie die sekerheid van brood op hul tafel hê nie.

Volgens die Geïntegreerde Voedselsekerheidsfase-klassifikasie (IPC) word bereken 30% van Namibiërs sal tussen Desember 2021 en Maart 2022 hoë vlakke van akute voedselonsekerheid beleef.

Hulle sal humanitêre hulp moet kry om hul honger te verlig.

Dis 4% méér as die 26% Namibiërs, of 659 000 van die bevolking, wat gedurende Oktober en November vanjaar ’n tekort aan kos gehad en dus honger gely het.

Dit het die land reeds in IPC Fase 3 of hoër geplaas wat beteken hulle benodig dringende humanitêre hulp.

Die IPC gebruik internasionaal erkende wetenskaplike standaarde om dié vooruitskouings te maak. Regerings, Verenigde Nasies (VN)-agentskappe, nieregeringsorganisasies (NGO’s) en die burgerlike samelewing gebruik dit om die erns en omvang van akute en chroniese voedselonsekerheid, en akute wanvoedingsituasies in ’n land te bepaal.

Volgens die ontledings vir die voorafgaande twee maande, beleef 557 000 van mense in die land ’n krisis (IPC Fase 3). Dit is 22% van die bevolking.

Altesaam 102 000 mense (4% van die bevolking) beleef ‘n toestand van nood (IPC Fase 4). 'n Bykomende 896 000 mense (35 % van die bevolking) se situasie word as “stresvol” (IPC Fase 2) geklassifiseer, blyk dit uit die verslag.

Die meeste van die streke word as ‘n “krisis” (IPC Fase 3) geklassifiseer, behalwe Hardap-, Oshana- en die Otjozondjupastreek, wat in IPC Fase 2 (voedselsituasie is stresvol) val.

In die streke Kavango-Oos en Ohangwena ervaar 40% van die bevolking hoë, akute voedselonsekerheid (IPC Fase 3 of hoër), terwyl 10% van die bevolking in ||Kharas en Zambezi in ‘n toestand van nood (IPC Fase 4) verkeer.

Mense in die ||Kharasstreek ervaar steeds ongekende hoë werkloosheidsvlakke en moet raap en skraap om aan die lewe te bly.

Die IPC verwag die getal mense wat hoë vlakke van akute voedselonsekerheid in die gesig staar, sal vanaf Desember tot Maart 2022 van 659 000 tot 750 000 styg. Dit is bykans 100 000 méér mense as in die voorafgaande tydperk.

Die IPC skryf dit toe aan die impak van die langdurige droogte in die vorige dekade waarvan die nagevolge steeds voortduur.

DIS DIE REDES

Die impak van die droogte het beide gewas- en veeproduksie beïnvloed. Boere het hoë veevrektes beleef en hoewel hulle nou veestapels weer aanvul, bly veesiektes ’n probleem, sê die samestellers van die verslag.

Hoewel normale tot bonormale reënval vanjaar voorgekom het, bly die Kunenestreek droog, asook dele van die Omusati- en Erongostreek.

Plae soos sprinkane, veldbrande en mens-dier-konflikte het ook boere in streke soos Kavango-Oos en –Wes se opbrengste beïnvloed, wat lei tot lae voedselvoorrade vir huishoudings.

Die verslag lig verder die Covid-19-pandemie se inperkingsmaatreëls uit wat tot ontwrigtings in die voorsieningskettings van kos- en nievoedselprodukte veroorsaak het. Dit het weer gelei tot ’n stygings in voedselpryse, hoë werkloosheidsyfers en verlies aan inkomste vir die meeste besighede, insluitend die toerismesektor, en die dood van broodwinners.

“Die impak word ewe erg gevoel oraloor die land, of dit ’n landelike of stedelike omgewing is,” lui die IPC se verslag.

“Voedsel- en nievoedselpryse het vanjaar twee keer tussen April en September gestyg. Dit is hoofsaaklik deur duurder brandstof gedryf.

“As gevolg hiervan het mense se koopkrag vermider. Vir diegene wat hul werk en inkomste as gevolg van die pandemie verloor het, is die situasie erger.”

OORLEWINGSMAATREËLS

Volgens die IPC toon die voedselverbruiktelling (VKS) die meerderheid huishoudings (70,2%) se telling word as “aanvaarbaar” bestempel,

Altesaam 12,7% s’n is swak en 17,1% se voedselverbruik is tussen swak en aanvaarbaar.

Wat die huishoudelike dieet-diversiteitstelling (HDDS) betref, verbruik 62,9% van huishoudings tussen 5 tot 12 voedselgroepe, 21,8% verbruik tussen 3 tot 4 voedselgroepe en 15,3% van mense oorleef op 0 tot 2 voedselgroepe.

Wat die hanteringsindeks vir lewensonderhoud (LCI) betref, pas 62,3% van die huishoudings gebrekkige hanteringstrategieë toe. Daarteenoor word onderskeidelik 11,8%, 10%, 15,8% se situasie as wisselend van stresvol, ’n krisis en toestand van nood beskryf.

Die IPC sê gebrekkige hanteringstrategieë sluit in om bates te verkoop, in spaargeld te delf, meer diere as gewoonlik te verkoop en om geld vir kos te leen.

Krisisstrategieë sluit in om te sny op gesondheids- en onderwysuitgawes, nie huur te betaal nie of minder te betaal as wat hulle moet, en om kinders uit die skool te haal.

Noodstrategieë behels die verkoop van die eiendom soos ’n huis of plaas, om ander vir hulp te nader of om produktiewe bates te verkoop. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!