Namibiërs ril ná grumoord

Die eerste minister sê stygende geweldsmisdade is ’n teken van morele verval in die samelewing.
Denver Kisting
Denver Kisting – Teen gistermiddag was die geweldenaar(s) wat ’n meisie – tussen sewe en tien jaar oud – vermoor en haar oorskot verbrand het, steeds op vrye voet.

Boonop het niemand nog vorendag gekom om die oorskot te identifiseer nie.

Adj.komm. Kauna Shikwambi, die bevelvoerder van die polisie se skakelafdeling, het gesê ’n afgetrede oudonderwyser was Saterdag op pad na ’n winkel toe hy op die gruvonds afgekom het.

Volgens Shikwambi was die lyk in ’n munisipale drom in Ooievaarstraat in Windhoek-Noord “en is onherkenbaar verbrand”.

Sy sê die lyk is vermoedelik tussen 22:00 Vrydag en 06:00 Saterdag in die drom gegooi.

Polisiespeurders met wie Republikein gisteroggend op die toneel gepraat het, sê hoewel die liggaam verbrand is, was dit nie ontbind nie.

Een polisiebeampte het gesê hulle kon tot dusver geen rekords vind van ’n meisie van daardie profiel, wat onlangs by die owerhede as vermis aangemeld is nie.

Gister om 09:00 was die toneel reeds opgeruim maar die polisie se rooi-en-wit lint, waarmee die toneel die vorige dag afgesper is, het nog plek-plek rondgelê.

Die speurders het die omgewing gefynkam vir leidrade.

Die eerste minister Saara Kuugongelwa-Amadhila het gister gesê: “Die geweldsmisdade en ander sake van kriminele bedrywighede in ons land is ’n aanduiding van morele verval in ons samelewing waaraan ons almal hard moet werk om aan te spreek.”

Sy het gesê die regering sal aanhou om dié euwels in samewerking met die gemeenskap te pak.

‘Mans se stemme ontbreek’

Me. Esther Muinjangue, die leier van die National Unity Democratic Organisation (Nudo) en ’n maatskaplike werker, het gister met skok gereageer: “Dit is aaklig en my hart gaan uit aan die arme meisie en haar familie. Die moorde op die mees weerlose lede van ons samelewing, naamlik vroue en kinders, is ’n ernstige patologie.”

Die politikus en akademikus sê dringende holistiese ingryping is nodig. “In baie gevalle staan vroue op en wys hul afkeur hiervan deur betogings. Mans se stemme ontbreek.”

Muinjangue gee vir Kuugongelwa-Amadhila gelyk dat dié misdade tekenend is van morele verval. “Ons het respek vir lewe en vir ons medemens verloor. Ons benodig streng strawwe vir die oortreders wat eweneens terapie benodig.”

Me. Jennifer van den Heever, die visepresident van die amptelike opposisie, die Popular Democratic Movement (PDM), sê sy ril. “Dit is baie hartseer en ’n gruwelike daad, insluitend die een waar die pa sy kind lewend begrawe het. Ek is gevul met vrees en pyn.”

Dié LP en predikant sê mosies oor huishoudelike geweld word in die parlement ter tafel gelê, maar daar word geen uitvoering gegee aan aanbevelings nie.

Volgens haar moet die land se wette gewysig word om voorsiening te maak vir swaarder strawwe. “Die polisie moet verbete werk om die oortreders te vang.”

Van den Heever sê die samelewing is onkundig. “Ek is self ’n ma en ’n ouma en ’n mens kan jou net indink die pyn en lyding wat dié ouers ervaar. Die samelewing dryf te ver weg van dissipline, waardes en etiek.”

Die aktivis, me. Emmarencia van Wyk, het gister op haar beurt gesê: “Ek is só geskok en gewalg deur dié verskriklike nuus wat myns insiens een van die ergste voorvalle van kindermishandeling en moord in die onlangse geskiedenis is. Ons het ’n behoefte aan sterker gemeenskappe om ’n gemeenskapsgerigte benadering tot kinderbeskerming te skep.”

Hulp gevra

Shikwambi het ’n beroep op lede van die publiek gedoen om te help met die uitkenning van die meisie en om die geweldenaar(s) aan die pen te laat ry.

’n Klag van moord en een van dwarsboming van die gereg word ondersoek, het sy gesê.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer