Namibiërs ruk op teen houtplundery

Jeugleiers het die naweek ’n beroep op die regering gedoen om die bewaring van ons land se woude ter harte te neem.
Augetto Graig
Augetto Graig - Windhoek se strate het Saterdagoggend plek gemaak vir Namibiërs wat genoeg gehad het van die plundering van plaaslike woude.

Die Namibiese omgewing- en wildlewevereniging (News), jeugaktiviste en ander ondersteuners het ’n optog teen die voortdurende onwettige plundering van Namibië se bewaarde bome gehou.

Volgens News moet die land se politieke leiers vir die plundery pa staan.

Hulle sê die ministerie van landbou, water en bosbou bestuur en beheer die onwettige kap van hout nie voldoende nie.

“Dié noodtoestand is die afgelope twee jaar steeds nie opgelos nie, terwyl die verdwyning van die woude voortgaan,” lees hul klagskrif.

“Die afkap van ons bome word deur ons leiers en politici gelei, en Namibiërs kry baie min waarde uit die uitvoer van hout na China. Dit vererger landelike mense se armoede, en verryk die leiers.

“Groot bome is baie belangrik vir ons lewensbestaan, ons kultuur en ’n gesonde omgewing. Hulle is honderde jare oud en kan nie teen die spoed vervang word wat ons hulle afkap nie. ’n Omgewingskrisis staar die wêreld in die gesig. Namibiërs wil ’n omgewing beërwe wat tot in die toekoms na hulle sal omsien,” lui die klagskrif verder.

News eis veral ’n einde aan kommersiële houtkappery en ’n verbod op die uitvoer van Namibiese planke en onverwerkte hout.

Vir oorlewing moet plaaslike gemeenskappe toegelaat word om hul woude op klein skaal volhoubaar te benut, eis die betogers.

“Enige handel moet met klaar verwerkte produkte gedryf word, soos meubels en kunsvlytprofukte. News dring daarop aan dat die Zambezi-staatswoud en ander bewaarde gebiede volgens wet streng bewaak word, met geen uitklaring van bome toegelaat nie,” versoek die groep.

Grond wat in woudgebiede aan boere toegeken word, moet tot 5 ha beperk word, en verdere permitte moet slegs vir suksesvolle landbou-aktiwiteite toegeken word.

“Namibië kan nie bekostig om waardevolle woudhabitat te verloor nie, en buitelanders kan nie toegelaat word om oormatig voordeel te trek uit die onvolhoubare misbruik van ons natuurlike hulpbronne nie,” lui die klagskrif.

Deelnemers aan die optog het antwoorde van die mnisteries van landbou, water en bosbou en die omgewing vereis, en News-lede dring aan ’n stokkie moet voor Namibiese houtuitvoere gesteek word.

Jong Namibiërs is ook oor die land se woude besorg.

“Net soos mense vir stropery vervolg word, moet boetes vir die oortreding van die woudwet, die omgewingsbestuurwet en ander toepaslike wetgewing ingestel word,” lees die jongmense se afsonderlike klagskrif.

Dít is deur me. Ailla Tessa Iiyambula, van die Namibië Universiteit vir Wetenskap en Tegnologie (Nust), ter afsluiting van die optog by Zoo Park in die hoofstad voorgelees.

“Oor die jare heen moes Namibië se woude die bedreiging van landbou-uitbreiding en onvoorspelbare reënval verduur, en nou is hulle nog meer kwesbaar weens onbeheerde, onwettige houtkappery. Ons is besig om ’n noodsaaklike orgaan van die ekostelsel stadigaan te laat krimp. Woude is ons longe en ons erfenis,” het sy gesê.

Ondanks toepaslike wetgewing word bome vir Zambezi-djatihout, kiaathout en rooshout steeds bedreig.

“Buurlande soos Zambië het die oes van hout verbied en ons ministerie van landbou, water en bosbou het hierby ingeval deur dié spesies te beskerm.

“Maar dit lyk of hierdie beskerming slegs op papier is. Weens hul stadige groei is die kommersiële benutting van dié spesies nie lewensvatbaar nie. Dit kan tot ’n honderd jaar neem voor die bome ’n oesbare grootte bereik. Klimaatsverandering en voorspelde veranderinge in reënval maak die herstel van die woude ’n nóg groter uitdaging. Ons sal gronderosie en verwoestyning sien as hierdie onvolhoubare afkappery voortduur,” het Iiyambula gewaarsku.

“Droom ons leiers daarvan om hierdie land in ’n woestyn te omskep?” het sy gevra.

Volgens Iiyambula ondersteun jongmense die beskerming van Namibië se woude, die volhoubare gebruik van natuurlike hulpbronne en belegging in plaaslike vervaardiging.

Sy sê die betrokke owerhede moet aktief op voetsoolvlak patrolleer en toesig hou om die volhoubare wettige gebruik van hulpbronne te verseker.

“Die uitreiking van ‘n permit verseker nie daar word aan die vereistes daarvan voldoen nie,” het sy gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!