Namibiu00ebrs se hoenderlus groei
Namibiu00ebrs se hoenderlus groei

Namibiërs se hoenderlus groei

Namibiërs wend hulle skynbaar al meer na pluimveeprodukte as ‘n goedkoper bron van proteïen, met plaaslike produksie wat ook kop optel.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Terwyl die plaaslike pluimveebedryf wag dat die hoërhof moet beslis of die grense oopgestel moet word vir die invoer van meer Suid-Afrikaanse produkte, groei Namibiërs se hoenderlus jaarliks beduidend en kon ons verlede jaar reeds in 62,7% van ons eie vraag voorsien.

Volgens die Vleisraad van Namibië se statistieke tot Oktober verlede jaar het Namibië in 2018 gemiddeld 1 889 ton hoender geproduseer, terwyl plaaslik sowat 3 012 ton hoender per maand geëet word.

Boonop het Namibiërs se hoenderlus jaarliks met 16,3% gegroei, want tussen Oktober 2016 en September 2017 is plaaslik gemiddeld net 2 589 ton per maand verbruik.

Kenners meen die grootste rede hiervoor is dat die prys van rooivleis sedert Oktober 2017 gestyg het en hoender dus die goedkoopste bron van proteiëne is.

Intussen is plaaslike kenners bekommerd oor die voortslepende hofsaak en sê hulle dis noodsaaklik dat Namibië se jong, ontluikende pluimveebedryf beskerm word.

Mnr. Willie Schutz, die Vleisraad se bedryfsbestuurder, het aan Republikein gesê die opskorting van invoerbeperkings kan rampspoedig wees.

“My mening is dit sal ‘n baie negatiewe impak op die ontwikkeling van die plaaslike hoenderbedryf hê,” het hy gesê.

Hy sê invoerders en verbruikers moet eerder aangemoedig word om plaaslike produsente te ondersteun. “Ondersteun die tuisgroeistrategie,” het hy gesê.

Goeie plaaslike produksie het daartoe gelei dat daar verlede jaar gemiddeld net sowat 948 ton per maand ingevoer is, vergeleke met die 12 maande tussen Oktober 2016 en September 2017 toe produksie op gemiddeld 1 810 ton per maand gestaan het en invoere op 764 ton.

Die Vleisraad sê sedert Oktober 2017 is plaaslik voortdurend meer as 3 000 ton hoender per maand verbruik en die afname in verbruik sedert September 2018 is deur uitdagings in hoenderproduksie veroorsaak.

HOFSAAK SLEEP VOORT

Intussen sleep ‘n saak in die hoërhof sedert 2014 voort, waarin die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (Sapa) wil hê invoerbeperkings op hul pluimveeprodukte na Namibië moet opgeskort word.

Sapa het die hofaansoek saam met ander Suid-Afrikaanse produsente soos Astral Foods Ltd., Supreme Poultry, Crown Chickens, Sovereign Foods, Afgri Poultry en Rainbow Farms teen Namibië se ministerie van handel ingedien.

Nadat die saak in Julie 2016 deur regter Shafimana Ueitele in die hoërhof van die hand gewys is, het die hooggeregshof dit verlede jaar in Januarie terug na die hoërhof verwys en gesê hoewel Ueitele korrek was deur te sê daar was ‘n onredelike vertraging voor die aansoek, moes hy die meriete van die saak oorweeg het.

Intussen het voorverhoorverrigtinge in die hoërhof op 16 Januarie vanjaar plaasgevind waartydens partye opnuut verklarings moes indien en ‘n geskikte datum vir die verhoor moes probeer vind. ‘n Datum is nog nie vasgestel nie en voorverhoorverrigtinge sal weer op 24 Januarie voortgaan.

Die pluimveeskema, wat reeds in Mei 2013 deur die ministerie van nywerheidsontwikkeling, handel en SME-ontwikkeling geïmplementeer is, het aanvanklik toegelaat dat slegs 600 ton hoenderprodukte maandeliks ingevoer kan word.

In November 2013 is dié kwota na 900 ton verhoog en toe weer na 1 500 ton in Mei 2015.

Tans is 60 invoerders onder die skema geregistreer, met sowat 36 maatskappye wat maandeliks om ‘n invoerkwota aansoek doen.

Plaaslik bestaan die mark uit slegs een grootskaalprodusent, terwyl sowat 30 hiervan uit kleinskaalprodusente bestaan. ‘n Groot pluimveeplaas word vir die Otavi-omgewing beplan.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!