Namibiërs sprekers by tandheelkundige beraad

’n Plaaslike tandtegnikus en tandarts is deel van ’n globale netwerk van beroepslui wat daartoe verbind is om vroue in inplantaat-tandheelkunde te inspireer.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht - Namibië word vanjaar vir die eerste keer verteenwoordig op die paneel vir die Vroue Implantologie Netwerk (WIN) se beraad wat vandeesweek (14 tot 20 September) afskop.

Tandtegnoloog, me. Margot Louw, en die tandarts, dr. Fearika Jordaan, neem as sprekers aan die beraad deel wat aanvanklik in Istanboel, Turkye sou plaasvind, maar nou virtueel aangebied word.

WIN is ’n globale netwerk van tandheelkundige beroepslui wat daartoe verbind is om vroue in inplantaat-tandheelkunde te betrek en te inspireer. Dit verbind vroue uit alle agtergronde en op internasionale vlak wat dieselfde ambisie deel – om voldoende toekomstige toegang vir alle pasiënte tot tandheelkundige implantate te verseker. Volgens Louw is WIN verlede jaar in Namibië bekend gestel en was verteenwoordigers van die internasionale Straumann-groep wat dit lei, ook teenwoordig.

Tydens ’n gesprek met me. Lizette Riley van Straumann, het Louw genoem tandtegnoloë en -tegnikuste vorm dikwels nie deel van gesprekke of voorleggings nie.

“Baie min voorleggings wys die belangrikheid van goeie samewerking tussen die tandtegnoloë en -tegnikus, die herstellende tandarts en die chirurg,” sê Louw. Riley het voorgestel Louw en Jordaan tree as sprekers by vanjaar se beraad op, met die twee baanbrekersvroue wat kort daarna ’n amptelike uitnodiging in die verband van WIN ontvang het.

“Ons moes spring om met ’n onderwerp vorendag te kom en ook ’n kort beskrywing, foto’s ingesluit, deurstuur.”

Louw en Jordaan wou aanvanklik ook ’n ontwikkelingskursus vir sprekers van Straumann doen as voorbereiding om sprekers op internasionale vlak te wees. Dit sou in Junie in Berlyn, Duitsland, plaasvind, maar ongelukkig het Covid-19 en die gevolglike toe grense ’n stokkie hiervoor gesteek.

Om ’n spreker by so ’n groot, internasionale geleentheid te wees, is ’n groot eer, sê Louw wat een van net twee hande vol tandtegnoloë en -tegnikuste in die land is.

“WIN gee vroue in dié beroepe die geleentheid om nie net hul ervarings te deel nie, maar ook mekaar te motiveer en te ondersteun, en ook kennis te deel. Tandtegnoloë en -tegnikuste was nog altyd die ‘onsigbare’ lede van die tandheelkundige span. My betrokkenheid by WIN gee my ’n kans om vroulike tandtegnoloë en -tegnikuste ook op die kaart te plaas!”

As die enigste tandarts in haar praktyk op Otjiwarongo erken Jordaan die omstandighede is soms moeilik veral in ’n veld wat deur mans oorheers word.

“My deelname aan WIN inspireer my en ek het vreesloos geword vir die omstandighede wat ek op ’n daaglikse basis moet hanteer,” sê sy.

Tydens haar studies is sy nooit geleer hoe om ’n besigheid of praktyk te bestuur of haar eie baas te wees nie, iets wat sy erken haar ‘gevang’ het toe sy in 2014 besluit het om haar eie praktyk te open.

“Tandheelkunde is ’n ietwat van ’n perfeksionistiese beroep wat geweldige spanning op ’n persoon kan plaas. Ons as vroue het ook na-ure gesinne en ’n private lewe wat ook aandag vereis.”

Om deel te wees van die beraad en WIN het sy egter besef sy is nie alleen hierin nie, iets wat dit volgens Jordaan dit makliker maak om die moeilike dae aan te pak.

“WIN het my geleer om trots te wees op myself. In die relatief onderontwikkelde area waar my praktyk geleë is en wat ek diens, moes ek van die begin af alles doen en alle dienste beskikbaar te hê. Dit het my gedruk om alle velde van tandheelkunde (van voorkomend tot chirurgie) te doen, wat ‘n uitdaging was. Deur WIN het ek besef ek is goed daar in en ek hoef vir niks en niemand terug te staan nie,” sê Jordaan.

Louw vertel op haar beurt haar reis as tandtegnoloog het begin toe sy as assistant saam met ‘n tandtegnikus by ‘n tandarts begin werk het wat ook ‘n laboratorium gehad het. Sy het tot aflewerings gedoen en met die oorkoop van die laboratorium was sy en die ander tegnikus “deel van die pakket”.

Ná twee jaar het sy tandheelkundige tegnologie aan die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie begin studeer en in 2000 haar BTech DentTech in tandegnologie behaal.

Vir die volgende 14 jaar het sy by ‘n ortodontis en ‘n paar private laboratoriums gewerk, voordat sy in ‘n vennootskap gegaan het. Vandag is sy die trotse mede-eienaar van ‘n tandheelkundige laboratorium waar sy vroeër as assistent en drywer gewerk het.

Dit is die daaglikse uitdagings en goeie terugvoer van hetsy ‘n tandarts of kliënt ontvang, wat haar motiveer, sê Louw.

“Positiewe kritiek motiveer my om te verbeter om ‘n goeie kwaliteit produk te lewer. Ek bly op hoogte van nuwe tegnologie en probeer dit sover as moontlik by die laboratorium te implementeer.”

Jordaan het aan die Universiteit van Wes-Kaap as tandarts gekwalifiseer en sê sy het tandheelkunde as beroep gekies omdat dit redelik gespesialiseerd is en die uitdagings sou verseker daar sal nooit ‘n vervelige oomblik wees nie.

“Wat my motiveer, is die geleentheid om iemand se lewe te kan verander deur van hul tande te herstel tot vir iemand tande te kan gee! Die ‘ons’ in die behandeling is vir my baie belangrik. Elke pasiënt moet deel hê aan die behandeling, dit is wat dit ‘n sukses maak of nie en sluit kinders in,” sê Jordaan.

Vir meer inligting en registrasie kan https://campuslive.straumann.com/en/webinar/sympo... besoek word. Jordaan en Louw se webinar, Digital meets Africa, is vir Vrydag om 09:00 geskeduleer.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!