Namibiërs traag om in te ent

Die opdrag om Chinese burgers in die land met Sinopharm in te ent, het van Beijing in China gekom.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Die Chinese ambassade in Windhoek is bewus van sowat 1 800 van die ongeveer 2 100 Chinese burgers in Namibië wat tot op hede reeds plaaslik teen Covid-19 ingeënt is.

Teen druktyd het die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste se syfers gewys tot op hede is 3 282 mense ingeënt, 2 504 in Khomas en 778 in Erongo.

Volgens die Chinese ambassade se woordvoerder, me. Lu Hairong, word egter nie van Chinese inwoners in die land verwag om by die ambassade vir immunisering te registreer nie.

China het 100 000 dosisse van die Sinopharm-entstof aan Namibië geskenk. Hairong sê die skenking was sonder “enige verpligtinge aan die kant van Namibië”.

“Die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste het alle buitelandse burgers in die land, Chinese burgers ingesluit, toegelaat om in gelyke maat ingeënt te word,” het sy by navraag gesê.

Volgens Hairong weerspieël dit die “sterk sin vir verantwoordelikheid en die humanitêre gees van die Namibiese regering”, iets waarvoor die Chinese ambassade waardering het.

Die rede hoekom soveel Chinese burgers besluit het om die Sinopharm-entstof te ontvang, is volgens haar omdat hulle vertroue in hul geboorteland se entstof het.

Met verwysing na die entstof wat deur die China National Pharmaceutical Group Corporation vervaardig word, sê Hairong dit het voorwaardelike goedkeuring op 30 Desember verlede jaar gekry vir toegang tot die mark. Geen ouderdomsbeperking geld rakende wie die entstof behoort te ontvang nie.

“Die aanvanklike vereiste om net mense van 18 tot 59 jaar oud in te ent, was net ter wille van omsigtigheid en veiligheid. Dié vereiste is egter in Maart deur China opgehef.”

Volgens haar is tot dusver 170 miljoen dosisse van die Sinopharm-entstof gebruik en is nog nie een sterfte as gevolg van die immunisering aangemeld nie.

“Die koers van newe-effekte is naby verskeie tipes van normale entstowwe wat die onaktiewe bestanddeel van die virus gebruik. Dit het alles op die veiligheidskwaliteit van die Sinopharm-entstof gedui,” het Hairong verduidelik.

Volgens haar is die Chinese ambassade bewus van sommige Chinese burgers in Namibië wat ouer as 60 jaar is en wat aansoek gedoen het om uit vrye wil die Sinopharm-entstof te ontvang. Om die entstof aan dié met “basiese siektes” toe te dien, is deur plaaslike immuniseringspunte by hospitale bepaal.

Die hoof van Namibië se taakspan vir die uitrol van die immuniseringsveldtog en adjunk- uitvoerende direkteur van gesondheid en maatskaplike dienste, me. Petronella Masabane, het by navraag gesê die opdrag om alle Chinese burgers in Namibië met Sinopharm in te ent, het vanaf Beijing via die ambassade gekom. Volgens haar is dit egter steeds vrywillig en het die ministerie dié burgers wat siek is, uitgesluit. Met verwysing na lyste met name van Chinese burgers wat by die immuniseringspunt by die verpleegstersaal by die Katutura-staatshospitaal gesien is, het Masabane gesê dit was om “opeenhoping” te voorkom. Volgens haar het nie almal op die lys al vir die immuniserings opgedaag nie, maar die meerderheid het wel.

“Enige persoon kan te alle tye vir ’n inenting gaan selfs al het jy die fase gemis waarin jy in die betrokke teikengroep val. Dieselfde beginsel geld vir Chinese burgers,” het Masabane gesê.

Sy kon nie syfers bevestig van hoeveel Chinese burgers reeds ingeënt is nie en het gesê die ministerie is nog besig om dit te korreleer.

’n Bron by die immuniseringspunt by dié hospitaal het gesê “tot 200 en meer” Chinese burgers het veral hier aangemeld vir entstowwe, omdat dit glo “naby China Town” geleë is. Van die wat aangemeld het, was volgens die bron glo nie op die lys nie.
[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!