Namibiërs trotseer Bolivia se pieke

Hulle moes sneeu, ‘n suurstoftekort, koue van tot minus 30 grade en nuwe kennis bemeester, maar dié twee Namibiese geoloë meen hierdie is net die begin van hul avonture.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Twee kleinneefs, mnre. Gerhard Jacobs en Harmen Potgieter, het onlangs uit Bolivia teruggekeer nadat hulle van die eerste Namibiërs geword het om vier berge in Cordillera Real-reeks in Bolivia te klim.

Die berge wat hulle trotseer het, vorm deel van die groter Andes-bergreeks en sluit Bolivia se hoogste een in – Nevado Sajama.

Dié berg is ‘n onaktiewe vulkaan op die grens met Chili.

Hulle stem in om ná ‘n 30 ure lange vlug terug in Windhoek met Republikein te gesels.

Eers gaan hulle ‘n behoorlike Namibiese T-been geniet voor hulle verlore slaap inhaal, sê hulle.

“Ons het vir bykans ‘n maand lank net koek en roomys geëet. Darem ‘n bietjie hoender hier en daar. Dit is ál wat die Boliviane eet - en hulle gooi suiker oor álles.

“Jy smag later net na doodgewone, swart koffie,” lag Jacobs.

Hy vertel hoe hulle boonop in Spaans moes kommunikeer, slegs met behulp van ‘n boekie, gebaretaal en handseine.

“Hoender is iets soos pollo. So jy sê ‘pollo-pollo’ tot hulle vir jou iets gee,” lag Potgieter.

VOORBEREIDING

Hy sê hulle moes eers by die klimaat aanpas en het daarom die stad La Paz vir vyf dae lank verken voor hulle berge toe is.

Jacobs sê hulle het vir die eerste berg ‘n gids gehuur om hulle touwys te maak oor hoe om in sneeutoestande te klim. Dit word alpiene-klim genoem en verskil van rotsklimmery, wat hulle tot dusver gedoen het.

Jacobs is ‘n hidrogeoloog en Potgieter ‘n geoloog. Hulle sê hulle stel dus belang in alpiene klimmery, want landskapvorming interesseer hulle.

Deel van die voorbereiding op bergklim in sneeutoestande is die regte drag.

Skoene word oor mekaar aangetrek en het stekels aan die punte om in die sneeu te kan vasskop.

Die skoen aan net een voet weeg sowat 1,8 kg. Spesiale handskoene en lae klere word aangetrek en klimmers is met ysbyltjies en -skroewe toegerus.

“Ons het die eerste twee berge in vier dae geklim. Ons het by ‘n basiskamp begin, waarvandaan ons na die eerste piek, Pequeño Alpamayo, met ‘n hoogte van 5 410 m bo seevlak, geklim het. Die tweede was Pirámide Blanca, met ‘n hoogte van 5 230 m bo seevlak.

“Daarna het ons Huayna Potosí aangepak – die wêreld se maklikste 6 088 m om te klim. Dit was ons eerste alleen-uitdaging,” sê Potgieter.

DIE GROTE

Daarna het hulle Bolivia se hoogste piek, Nevado Sajama, aangepak, wat 6 542 m bo seevlak uittoring.

Hulle het besluit om sonder ‘n portier te klim en hul bagasie self te dra.

“Jy staan aan die voet van die berg en jy weet: Hierdie gaan hárd wees,” sê Potgieter. Hulle het die eerste dag tot by die basiskamp geklim.

“Dag twee klim jy van die basiskamp af na die hoë kamp, wat 5 700 m bo seevlak is. Hier raak dit onsmaaklik, want jy kan nie snags slaap nie, sukkel met hoofpyn en is naar – alles as gevolg van die min suurstof wat in die hoogtes beskikbaar is.

“Jou kos en water vries - alles vries. Snags vries jou tent aan die binnekant,” het Jacobs vertel.

“Met die klim van berge in sneeutoestande moet jy soggens vroeg begin. Die meeste mense begin 02:00 die nag omdat die ys dan die stabielste is.

“As dit begin warmer raak, raak die sneeu sag, wat beteken jy moet tot heup- of kniediepte daardeur stap. Dit is ook gevaarlik, want dan kan ysskeure onder die sneeu bedek wees en jy kan daarin val.”

Hulle sê die tog tot bo-op Sajama was moeilik.

“Dikwels word jy deur vals kruine mislei. Van onder af lyk dit of jy uiteindelik bo-op die berg gaan wees. Dan werk jy ekstra hard en as jy naby is, sien jy nog is die einde niet en die berg gaan verder op. Dit breek ‘n mens se moed,” het Potgieter vertel.

“Die dag wat ons Sajama se kruin bereik het, was die moeilikste. Jy het nie asem nie, jy het nie krag nie en jou hele lyf is net moeg. Jy kan dink aan wat jy wil doen, maar jou lyf wil nie.

“Jy begin rondval. Dis waar dit gevaarlik raak, want jy raak ‘dom’. Jy is te moeg om te dink of om om te gee. Soms haak jou voete aan mekaar vas - die skoene se stekels haak,” sê Potgieter.

Jacobs sê die finale klimsessie tot op Sajama se kruin het nege ure geneem.

“Jy tel 20 treë, dan rus jy vir ‘n minuut op jou ysbyl voor jy weer 20 treë neem. Jy is kláár. ‘n Mens kan hóé fiks wees, maar jy kan net nie voorbereid wees op dié min suurstof nie.”

Potgieter sê teen die tyd wat hulle Sajama se kruin berei het, was hulle te moeg om opgewonde te wees.

“Bo-op die berg, in die wind, is dit sowat -20 tot -30 grade Celsius. Ons was vir twee minute bo-op die berg, waar ‘n sterk, ysige wind teen sowat 50 km per uur gewaai het.

“In daardie koue vries alles onmiddellik. My oë het toegevries. Toe ek dit toemaak, kon ek dit nie weer oopkry nie,” het Potgieter gesê.

“Jy kan nie met ‘n selfoon foto’s neem in die koue nie. Afgesien daarvan dat jy nie jou handskoene kan uittrek om knoppies te druk nie, skakel selfone af.

“Daai koue het ons Namibiërs nog nooit beleef nie,” het Jacobs gesê.

‘N UITDAGING

Die twee se bergklimmery het met die klim van Spitzkoppe begin en tydens hul studentejare op Potchefstroom het hulle aan die Noordwes-Universiteit se rotsklimklub behoort. In Suid-Afrika het hulle die Drakensberge, Waterval Boven, die Magaliesberge, Tafelberg, die Harrismith- en Swinburneberge geklim.

“Ons het ook al noue ontkomings gehad, veral aan die begin.

“Die eerste keer wat ons Spitzkoppe geklim het, het ons glad nie geweet wat ons doen nie. Ons het eers verdwaal, toe in die donker afgekom, en ons toue het in die nag in skeure begin vassit en ons het nie ligte gehad nie. Ons moes sonder kos of water op die berg slaap.

“Ons het maar op ‘n klip gesit en wag vir die son om weer op te kom,” vertel Jacobs.

HOEKOM BERGKLIM?

“Daar is min rotsklimmers wat kan sê hoekom hulle dit doen,”sê Jacobs. “Dit is ‘n uitdaging. Jy kyk hoe ver jy jouself kan druk – dit is nie altyd noodwendig lekker nie,” lag hy.

Potgieter stem saam. “Die klimmery wat ons nou gedoen het, was hard. Ná die tyd is dit lekker, maar terwyl jy besig is om dit te doen, wonder jy hóékom.

Sal Hulle dit weer doen?

“Natuurlik. Ons het reeds begin beplan aan die volgende sessie,” sê Potgieter.

“Die doel van die Bolivia-reis was om te kyk of ons die hoogte kan hanteer. Volgende wil ons uitdagings aanpak wat tegnies meer gevorderd is.

“Die groot alpiene-drie, naamlik die Mont Blanc, die Matterhorn en die Eiger in Europa is ons volgende mikpunt,” sê Jacobs.

Hulle sê die ekspedisies is egter baie duur en hulle hoop om iewers in die toekoms nog borge te kry om Namibië in dié lande te kan verteenwoordig.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!