Namibiërs vertel van brande in Australië
Verwoesting is Doer Onder gesaai met verliese aan mense- en dierelewens, asook 'n gebied van 10 miljoen hektaar wat afgebrand het.
Francoise Steynberg - “Daar is mense wat alles in die brande verloor het. Party mense het net met die klere aan hul lywe in 'n voertuig met hul troeteldiere gevlug.”
Só beskryf Hannes Mostert, 'n Namibiër wat in Sydney woon, die verwoestende brande wat besig is om Australië te verswelg.
“Hele dorpe het al op plekke afgebrand,” sê Hannes, oorspronklik 'n plaasseun van die Hochfeld-omgewing in die Okahandja-distrik.
Vier Namibiërs wat in Australië woon, het aan Republikein vertel hoe hulle die verwoestende brande in die land ervaar.
“Ons is oukei. Die rook van die brande (wat nie naby aan ons in Melbourne is nie), hang sommer baie swaar hier in die lug. Dis regtig tragies, maar terselfdertyd loop die Aussie- en gemeenskapsgees baie hoog hier,” sê 'n oudjoernalis van Republikein, Juanita du Plessis, uit Melbourne.
“Gemeenskapsgees is groot in die land en onder sy mense. Die meeste van die brandbestryders wat hier teen die brande veg, is nie beroepsbestryders nie. Hulle behoort aan die Country Fire Authority (CFA), wat die teenoorgestelde van die Metropolitan Fire Bridage (MFB) is, waarvan almal beroepsbrandbestryders is,” verduidelik Juanita.
“Hierdie CFA-brandbestryders is mans en vroue wat dit uit die goedheid van hul harte doen. Hulle offer hul eie tyd op om opleiding te doen en die brande te gaan bestry.”
Mauritz Kloppers, wat op Rundu grootgeword het en 'n natuurbewaarder by Waterberg was, sê 'n paar maande gelede het dit lelik by Stanthorpe in Queensland gebrand, waar hy woon.
“Die brande het hier begin en nou brand die hele Australië. Ons is oukei, maar weens die droogte en simpel mense wat brande stig, kan enigiets enige plek begin.”
Mauritz sê meer as 200 mense is al in die land vir doelbewuste brandstigting in hegtenis geneem, waar al minstens 28 mense dood en meer as 2 000 huise verwoes is. Meer as 10 miljoen hektaar het al afgebrand en sowat een miljard diere het omgekom.
OORSAKE
Hannes sê party brande is deur weerlig veroorsaak, maar ander is mensgemaak: “Kraglyne wat veld aan die brand laat slaan op warm dae, kampvure wat nie goed geblus is nie, mense wat met hoeksteenslypers werk wat vonke maak, sigaretstompies uit voertuie, vuurwerk en kinders wat moedswillig is. Een brand is veroorsaak deur 'n man wat 'n voorbrand gemaak het om te keer dat sy onwettige daggaplantasie nie afbrand nie.”
Hannes sê in die 10 jaar wat hy in Sydney woon, kan hy op sy een hand tel hoeveel keer daar rook in die stad was. “Nou is dit amper twee dae elke week sedert Desember. In Desember was dit een dag só erg dat oor die 100 rookalarms afgegaan het.”
Hy sê baie mense maak van maskers teen die rook gebruik.
“Op die kusdorpe is dit baie erger, want hulle is nader aan die vuur en rook op hul dorpe. In Desember was net twee van die ses hoofweë uit Sydney een dag oop – die ander was almal gesluit.
“Dit voel amper soos 'n weeklikse siklus: Warm winde van die binneland af jaag temperature op, humiditeit is laag en met die warm temperatuur is dit soos petrol.
“Boonop het bloekombome olie in en as dít begin brand, is dit soos olie op die vuur.”
Hannes sê dit brand meestal in nasionale parke. Groot gebiede is onbegaanbaar en onbewoonbaar. Noord van Sydney het dit al in September begin brand.
“Ons vuurseisoen begin gewoonlik eers van Januarie tot Maart. Nou het dit al in September begin, en dit gaan nog tot minstens Februarie/Maart voortduur.”
Hy sê nog 'n rede waarom huise tot op die grond afbrand, is omdat hulle nie almal van steen gebou is nie – veral die binnemure. “Dit is alles sulke kartonmure.”
KRITIEK TEEN PREMIER
Vrydag het sowat 10 000 mense 'n optog teen die Australiese eerste minister, Scott Morrison, se hantering van die brande gehou en selfs sy bedanking geëis. Hy is skerp gekritiseer omdat hy tydens die brande in Hawaii gaan vakansie hou het.
Hannes meen dit toon 'n gebrek aan leierskap.
Hy het egter hoë lof vir Nieu-Suid-Wallis se premier, Gladys Berejiklian, wat al drie keer 'n noodtoestand verklaar het.
“Daar is groot ongelukkigheid oor die regering se gebrek aan optrede en hul onwilligheid om te erken klimaatsverandering het tot die ramp bygedra.”
Karlien Goutier, oorspronklik van Tsumeb, sê daar is nie brande in Adelaide nie, maar wel op Kangaroe-eiland. "Die rook was die afgelope tyd baie dig by ons,” sê sy.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie