Nampo groter, sterker, nuwer
Nampo groter, sterker, nuwer

Nampo groter, sterker, nuwer

Ruan Bruwer - Die Nampo-oesdag-enjin het die afgelope dae in gereedheid gedreun om vanaf gister buite Bothaville te hardloop.

Graan SA se Nampo-oesdag bied jaarliks aan produsente ’n grondslag om met die landboubedryf se toprolspelers in ’n plaasatmosfeer te skakel.

“Nampo bied ’n gediversifiseerde tentoonstelling met ’n verskeidenheid van nuwe tegnologie, produkte en dienste op een terrein,” sê Jannie de Villiers, uitvoerende hoofbestuurder van Graan SA. ’n Studie toon die oorgrote meerderheid van besoekers kom juis om nuwe produkte te besigtig.



“Suid-Afrikaanse landbouprodusente se ontvanklikheid vir nuwe tegnologie is een van die hoofredes waarom die land kan roem op volhoubare voedselproduksie. Vanjaar se tema, ‘Effektiwiteit met tegnologie’, vind groot byval by produsente.

“Nampo is dié geleentheid waar rolspelers soos kommersiële en opkomende produsente, produk- en diensverskaffers, politici, beleidvormers, staatsamptenare, buitelanders, die media en die publiek byeenkom.”

Landboumaatskappye en handels- en beleggingsagentskappe van verskeie lande sal onder die nagenoeg 740 uitstallers wees. Uitstallers van Rusland is deel van die splinternuwe Russiese paviljoen en die Italiaanse afvaardiging het meer uitstallers as vorige jare. Die Britse departement van internasionale handel is terug met meer uitstallers.

Verlede jaar het 78 648 mense die vierdaagse gebeurtenis bygewoon.

Van die nuwighede op vanjaar se landbouskou is drie nuwe voertuie van vervaardigers wat aan die publiek bekend gestel word.

Op die veevertonings sal tien skaaprasse, vyf bokrasse (wat inheemse veldbokke insluit) en 28 beesrasse te sien wees.

Verskeie gewigtige onderwerpe met betrekking tot die landbou word daagliks in Nasie in Gesprek bespreek.

Die landbouskou duur tot Vrydag en die hekke open daagliks om 07:00 en sluit om 17:00.

* Omdat daar aan sekere paaie gewerk word, raai die organiseerders besoekers aan om sekere roetes tot by Nampo te vermy. Dis die R59 tussen Sasolburg en Bothaville, die R76 tussen Kroonstad en Viljoenskroon, die R727 tussen Kroonstad en Bothaville en die pad wat van die R76 tot by Vierfontein loop. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-29

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer