Namrights wil hof toe oor Olufuko
Namrights wil hof toe oor Olufuko

Namrights wil hof toe oor Olufuko

Die menseregteorganisasie sê die kulturele fees is meer soos ‘n ontkleedansery waar jong meisies vir mans met geld ‘uitgestal’ word.
Catherine Sasman
Catherine Sasman – Namrights is besig om hofstukke voor te berei om die herlewing van die Olufuko-fees en ander kulturele praktyke stop te sit, wat hulle as skadelike seksuele inwyding beskou.

Die menseregteorganisasie beplan om die hofstukke voor die einde van die jaar in te dien en sê dit (die feeste) is ongrondwetlik omdat dit poog om jong kinders in die rol van volwasse vroue in te dwing.

Dit sê voorts die fees ontneem kinders van hul normale en natuurlike emosionele en fisieke oorgang van kind na volwassene en dat dit eenvoudig onwettig in terme van internasionale gewoonte-, humanitêre en menseregtewette is.

Namrights sê voorts die Olufuko-fees is ook in teenstelling met Namibië se kontemporêre, burgerlike, kulturele, politieke en maatskaplike gebruike en praktyke. Volgens die organisasie “paradeer dit arm, kaalbors meisies sonder hul toestemming in die openbaar om ekonomiese beleggings vir welaf families te lok”.

Dit sê ook die fees is ‘n “misdadige onderneming” wat bestaan uit “onbetaamlike ontbloting” en het geen positiewe kulturele en tradisionele bydraes nie.

“Dit is kinders wat na ‘n handelskou geneem word waar hulle geparadeer word in wat as ‘n blote ontkleedans beskryf kan word. Dit is teen die wet, bevorder partriargie en word gebruik om vroue onderdanig te maak,” sê Namrights se uitvoerende direkteur, mnr. Phil ya Nangoloh.

Ya Nangoloh sê die oorspronklike Olufuko-inwydingspraktyk was om te voorkom dat jong meisies “lewendig verbrand word”, omdat hulle voor die huwelik swanger geraak het.

Nou sê hy, is die praktyk danksy statutêre en grondwetlike reg onwettig.

“Namrights is geensins bekommerd oor Olufuko vir volwasse vroue bo die ouderdom van 18 jaar nie, solank dit met hul goedkeuring gedoen word. Ons is net teen Olufuko vir kinders jonger as 18 jaar,” beklemtoon Ya Nangoloh.

“Ons is vol vertroue en oortuig van ’n oorwinning in die naderende regstryd. Die verweerders kan hul beste regspraktisyns in hierdie land of selfs oor grense heen kry, maar dit sal hulle nie van ‘n oorwinning in die hof verseker nie. Ons sal hulle op hul dwaasheid wys.”

Namrights het ‘n beroep gedoen op enigiemand met direkte en beduidende belange in die aangeleentheid om hulle by die regsuitdaging te skaar.

Die hoofverweerders in die saak is onder meer die Outapi-dorpsraad, die Omusati-streeksraad, die Ombalantu Tradisionele Owerheid, die stigterspresident Sam Nujoma, die Sam Nujoma-stigting, die ministers van justisie en veiligheid en sekuriteit, die aanklaer-generaal, die ombudsman en ‘n aantal hooggeplaaste vroue.

Volgens Ya Nangoloh kan die volgehoue stilte van sommige plaaslike vroulike rolspelers oor die aangeleentheid net as “medepligtigheid” aan die skadelike praktyk beskou word.

Hy het in dié verband die presidentsvrou, me. Monica Geingos, die minister van geslagsgelykheid en kinderwelsyn, me. Doreen Sioka, eerste minister Saara Kuugongelwa-Amadhila, adjunk-speaker Loide Kasingo, die minister van onderwys, kuns en kultuur, me. Katrina Hanse-Himarwa, Swapo se sekretaris-generaal, me. Sophia Shaningwa, die veteraanpolitikus, dr. Libertine Amadhila en me. Pendukeni Iivula-Ithana uitgesonder.

“Hulle is óf aktief óf passief by die bemarking of verheerliking van die Olufuku-fees betrokke óf hulle verdra die fees,” het Ya Nangolo gesê.

“Hul stilte demonstreer morele bankrotskap of politieke korrupsie en wys hulle is ‘gevange’ vroue wat nie vry is om hulself teen sulke regs-, morele en maatskaplike wandade uit te spreek nie.”

Die presidentsvrou, me. Geingos, het hierop gereageer deur te sê: “Objektiewe toets. Sou ek my dogter of enige tienermeisie onder my invloed na Olufuko to stuur? My antwoord: Nee. Ek glo egter daarin om nie-skadelike praktyke van ander te respekteer en nie my waardestelsel as verhewe te beskou nie.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!