Namvet beplan optogte tydens SADC-beraad
Die oudsoldate sê streekleiers moet getuies van hul stryd om erkenning wees.
Verdana" >
Catherine Sasman - Die Namibiese Oorlogveteranetrust (Namvet) wil vandeesmaand 'n week lange vreedsame optog hou om "geregtigheid van die parlement" te kry deur voormalige SWATF- en Koevoet-soldate as militêre veterane te erken.
Die voormalige soldate beplan om eerskomende Maandag 'n klagskrif aan die speaker, mnr. Peter Katjavivi, te oorhandig en om op 15 Augustus weer parlement toe te marsjeer om 'n klagskrif aan die nege opposisiepartye te oorhandig.
Op 16 Augustus sal Namvet hul protesoptog na die Suid-Afrikaanse hoëkommissariaat neem en op 18 Augustus sal hulle 'n openbare vergadering hou.
Dié beplande aktiwiteite val saam met streekleiers se aankoms in Namibië vir die 38ste beraad van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC), wat op 17 en 18 Augustus plaasvind.
Pres. Hage Geingob sal as die streekliggaam se nuwe voorsitter verkies word.
“Ons wil in dié week in die strate gesien word; ons wil hê die SADC moet ons sien,” het Namvet se woordvoerder, mnr. Jabulani Ndeunyema, tydens 'n mediakonferensie verlede week gesê.
Hy het gesê ná die oudsoldate se sittende protesaksie van twee en ’n half jaar het dit duidelik geword die Swapo-regering weier hulle toegang tot die Namibiese huis, óf “die hoof van die Namibiese Huis, pres. Hage Geingob, is bang vir sy voorgangers" – met verwysing na oudpresidente Sam Nujoma en Hifikepunye Pohamba.
“Swapo het die kwessie verpolitiseer en speel 'n dodelike politieke speletjie daarmee. Die speletjie wat hulle probeer speel, kan Namibië tot stilstand bring,” het Ndeunyema gesê.
REDES VIR PROTES
Verlede jaar het Katjavivi opdrag aan die parlementêre komitee belas met grondwetlike en wetlike sake, onder die voorsitterskap van mnr. Sebastiaan Karupu, gegee om ondersoek in te stel en oplossings vir die kwessie van die oudsoldate te vind.
Ndeunyema het gesê Namvet het inligting van 'n betroubare bron ontvang dat die komitee op 11 Julie ’n verslag aan Katjavivi oorhandig het.
Die verslag stel glo voor dat die SWATF/Koevoet-lede nié as militêre veterane erken word nie en dat hulle staatspensioene moet eis en van staatsgesondheidsgeriewe gebruik moet maak.
Die speaker se kantoor het Namvet ingelig dat die verslag in September beskikbaar sal wees en dat dit nie deel kan wees van hul eis om 'n klagskrif aan Katjavivi te oorhandig nie.
Ndeunyema het gesê hulle het intussen inligting ontvang dat Katjavivi die verslag verwerp het. Namvet sal dus voortgaan om 'n klagskrif aan Katjavivi te oorhandig.
Ndeunyema het gesê opposisiepartye sal ook klagskrifte ontvang “want hulle het gefaal om druk op Swapo te plaas om sy ongrondwetlike gedrag te stop, wat demokrasie in Namibië versmoor".
Namvet wil na die Suid-Afrikaanse hoëkommissariaat marsjeer om inligting te eis oor die Suid-Afrikaanse regering se beweerde “geheime” oorhandiging van miljoene dollars aan sy Namibiese eweknie, wat bedoel is vir voormalige soldate.
Ndeunyema het gesê Namvet is ingelig dat die voormalige Suid-Afrikaanse regering meer as N$36 miljoen aan die Namibiese regering kort ná onafhanklikwording as pensioenuitbetalings vir soldate oorbetaal het.
Die Suid-Afrikaanse hoëkommissariaat het verlede week onderneem om versoeke te rig om dié bewerings te staaf.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie