Namvet ontken wegbreekgroep
Namvet ontken wegbreekgroep

Namvet ontken wegbreekgroep

Volgens die voormalige soldate is hulle gedwing om 'n drukgroep te vorm om ongeregtigheid te beveg.
Catherine Sasman
Catherine Sasman - Die leier van die Namibiese Oorlogveteranetrust (Namvet), mnr. Jabulani Ndeunyema, het berigte oor 'n sogenaamde “wegbreekgroep” heftig ontken, en ook dat hierdie groep dreigemente van geweld gemaak het.

Ndeunyema het Maandag tydens 'n spesiale media-inligtingsessie gesê die groep, die Namvet Liberation Movement, is bloot 'n drukgroep om die veiligheid van Namvet-lede te verseker wat nou in die tweede jaar van hul sitprotes is.

Met dié protes eis lede van die groep om as militêre veterane erken te word.

Ndeunyema het gesê die media het verlede week verkeerdelik berig dat 'n groep van 34 voormalige SWATF- en Koevoet-lede weggebreek het en gedreig het om bloed te “stort” as daar nie aan hul eise voldoen word nie.

Hy het gesê hy en mnr. Israel Katjaimo, ook 'n stigterslid van Namvet, het die Namvet Liberation Movement tot stand gebring om as “lyfwagte” op te tree om Namvet-lede teen “kakkerlakke en roofdiere” te beskerm.

“Ek, Katjaimo en ander hanteer Swapo-politici. Waar 'n Swapo-politikus ookal gaan, is daar kakkerlakke. Die groep sal keer dat die kakkerlakke vergaderings met Nickey Iyambo en pres. Hage Geingob bywoon,” het Ndeunyema gesê.

Hy het gesê die groep bestaan uit 500 “energieke voormalige soldate en hul kinders” wat as lyfwagte optree en “alles in hul vermoë sal doen om onregverdigheid in die land te verwoes”.

“Namvet is 'n baie groot organisasie. Jy kan Namvet met Swapo vergelyk. Sowat 89% van voormalige SWATF- en Koevoet-lede en hul kinders is lede van hierdie organisasie,” het Ndeunyema gesê.

Hy het herhaal dat die groep nie met geweld gedreig het nie en sê die bevelvoerder van die groep, mnr. Utjiravi Muheue, het wel gesê lede van die groep is “bereid om deur Swapo vermoor te word sodat Swapo bloed kan ruik, want hulle het . . . mense se bloed tydens die bevrydingstryd gedrink,” het hy gesê.



GEEN TOEGANG TOT WAPENS

Ndeunyema het ontken dat die groep as 'n soort paramilitêre groep optree en het beklemtoon hulle het nie enige toegang tot wapens nie.

“Wapens is soos sand in Afrika. Hulle het nie wapens nie; hulle veg nou met hul monde, maar as dinge verander, kan hulle gou iets kry om ons te beskerm,” het hy gesê.

Hy het bygevoeg: “Moenie die groep onderskat nie. Hierdie groep geniet groot steun in die land.”

Ndeunyema het gesê die polisiehoof, insp.genl. Sebastian Ndeitunga, se kommentaar dat die beweerde dreigemente deur die groep gelykstaande aan hoogverraad is, is gemaak sonder dat hy die bewerings gestaaf het.

Mediaberigte oor die sogenaamde wegbreekgroep het 'n storm op sosiale media ontketen.

Ndeunyema het gesê “born-frees” het sulke platforms misbruik om die voormalige SWATF- en Koevoet-lede en die tradisies van die Ovaherero te beledig, omdat die meerderheid van dié wat aan die sitprotes by die Kommandosaal in Katutura deelneem, oorwegend Otjihererosprekend is.

Hy het gesê wat veral kommerwekkend is, is die “toon en taal” op die inbelprogramme van die NBC se Oshiwambo- en Otjiherero-radiostasies oor sake betreffende die voormalige SWATF- en Koevoet-soldate. Hy het bygevoeg dit kan “burgerlike onrus” tussen die twee taalgroepe ontketen.



'BELEID MOES KANTE VERSOEN'

Ndeunyema het voorts gesê SWATF en Koevoet aan die een kant en Swapo aan die ander kant was ewe verantwoordelik vir gruwels en menseregte­misbruike en die beleid van nasionale versoening moes dit moontlik gemaak het dat albei kante as een nasie kon verenig.

Hy het gesê terwyl duisende in noordelike Namibië nagmerries het oor beelde van Casspirs wat hulle jaag, het ander in die res van die land nagmerries oor wat met hulle in die ­Lubango-gate gebeur het.

Ndeunyema het gesê die regering kan weens die huidige ekonomiese krisis die voormalige soldate nie finansieel help nie, maar hulle kan wel middele voorsien om voedselproduksieprojekte van stapel te stuur.

“Namibië se bruto ­binnelandse produk (BBP) kan elke Namibiër akkommodeer as daar mooi na ons gekyk word. Namibiese vis kan die hele nasie onderhou indien korrupsie uitgeroei word,” het Ndeunyema gesê.

Hy het bygevoeg: “Dit is nood­saaklik dat die regering die voormalige SWATF- en Koevoet-lede by die hoofstroom van die ekonomie insluit, sodat hulle met hul lewens kan aangaan.”

Namvet beplan om binne die volgende twee weke 'n aankondiging te maak oor 'n beplande “reuse­optog” van meer as 10 000 voormalige SWATF- en Koevoet-lede, hul families, grondloses en werkloses om uiting aan hul ontevredenheid met die regering te gee.

“Die Swapo-regering se gedrag, sowel as dié van die polisie en Namibiërs sal bepaal hoe vreedsaam dié protes verloor,” het Ndeunyema gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!