Napha steun beplande verbod op jagfoto's

Jagfoto's op sosiale media se dae is getel.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer



Die Namibië Professionele Jagvereniging (Napha) is ten gunste van die beplande wetswysiging wat dit verbode sal maak om foto's waarop jagters met hul prooi pryk, op sosiale media te plaas.

Me. Danene van der Westhuyzen, president van Napha, het by navraag gesê hulle verwelkom die minister van die omgewing en toerisme, mnr. Pohamba Shifeta, se aankondiging oor die voorgenome­ verbod.

“Die minister wil hiermee juis die jagbedryf beskerm,” was haar reaksie.

Shifeta het vroeër die week tydens die bekendstelling van die hersiene beleid oor die bestuur van mens-dier-konflik gesê die plasing van sulke foto's sal binnekort verbode wees.

Hy het gesê die ministerie is besig om die Natuurbewaringsordonnasie, nr. 4 van 1975, te wysig. Oortreders wat hulle aan die plasing van sulke foto's skuldig maak, sal gestraf word.

Volgens hom sal almal wat oortree, vervolg word, “veral diegene met jag­permitte wat spog deur foto's van dooie diere op sosiale media te plaas nadat hulle in bewaringsgebiede gejag het”, was sy woorde volgens 'n berig deur Nampa.

Van der Westhuyzen sê Napha se standpunt was nog altyd om die ervaring van jag in Namibië en die belewing van die land te beklemtoon. “Om die sneller te trek, is een persent van die jagervaring. Die foto en trofee wat die jagter huis toe neem, is 'n persoonlike herinnering aan die ondervinding wat hy in ons land gehad het. Ons moedig ons lede aan om seker te maak daardie foto's word privaat te hou en nie op sosiale media geplaas nie.”

Volgens haar ontlok jagfoto's negatiewe emosies by mense en skep wêreldwye teenkantig teen die jagbedryf. “Mense daar buite verstaan nie die waarde van ons wildlewe en waarom trofeejag so groot bate vir die land is nie,” sê sy.

Van der Westhuyzen meen ook te veel jagters jaag mates na en wil met die groottes van horings spog. “Die Namibiese jagbedryf wil die boodskap tuisbring dat die regte dier dié een is wat nie meer produktief tot die verbetering van 'n kudde kan bydrae nie. Dit gaan nie oor die mates nie.”

Shifeta het daarop gewys die plasing van hierdie foto's is 'n wanvoorstelling van wat jag in Namibië behels. “Jag word deur die Namibiese grondwet gewettig. Dit is egter immoreel om sulke foto's te plaas. Mense kan die foto's vir hulself neem, maar nie om dit op sosiale media te plaas nie,” het hy gesê.

'n Menseregteprokureur met wie Republikein gepraat het, stem saam dat die foto's “afskuwelik is en weersin wek”.

Mnr. Norman Tjombe meen eger die kwessie is veel meer kompleks as dit. “Om jag toe te laat, maar die foto's daarvan te verbied, strook nie. Die minister se bedoeling hiermee maak sin, maar dit is nie so eenvoudig nie.

“Die jag van diere as 'n sport is reeds problematies en gaan toenemend meer so raak namate die getalle van skaars diere minder word, asook weens die onwettige handel in onder meer horings en velle,” sê Tjombe.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!