Napso-skole swaar getref
Napso-skole swaar getref

Napso-skole swaar getref

As mense deel van die Namibiese Privaatskole Organisasie (Napso)-familie sterf, is dit “soos ’n vriend wat ons verloor”.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Sewentien skole deel van die Namibiese Privaatskole Organisasie (Napso) is net in die tweede termyn van die jaar deur 58 sterftes in die Covid-19-pandemie geraak en wat leerlinge, personeel, ouers en grootouers insluit.

Vir dié termyn wys statistieke onder die 17 skole was 835 leerlinge en 106 personeellede afwesig as gevolg van siekte. Altesaam 311 leerlinge het positief vir Covid-19 getoets, teenoor 133 personeellede.

“As hierdie die impak is wat dit op die Napso-skole het, wat net ‘n fraksie van al die skole in die hele Namibië is, dan moet dit ‘n ongelooflike impak op die res van Namibië se skole hê,” sê mnr. Wouter Niehaus, Tsumeb Gimnasium en Napso se uitvoerende hoof.

Elke lewe wat verlore is binne hierdie Napso-familie is vir ons ongelooflik kosbaar en ‘n baie groot verlies,” het Niehaus gesê.

Daarom, as mense in die Napso-familie sterf, is dit “soos ’n vriend wat ons verloor”.

Volgens Niehaus het dit later “baie moeilik geraak” om elke dag op te staan en daagliks boodskappe hieroor te sien.

“Die syfers is vir ons baie ontstellend, want dit wys wat die impak van Covid werklik is. As jy hierdie syfers op ‘n groter skaal moet doen, wil ek nie eers sien of my indink wat die geheelprentjie sal wees in skoolverband in die hele Namibië nie.”

Hy erken reuse-kommer heers oor skoolhoofde wat Napso aan Covid verloor het.

“Ons poel van skoolhoofde en dié wat daardie leierskapsposisies kan beklee, is tans baie beperk in Namibië.”

Om drie skoolhoofde uit Napso-skole te verloor, was ’n “geweldige terugslag.”

“Ons weet die volgende generasie se leiers is daar en hulle gaan daardie skoene kan volstaan. Baie van hulle is egter nog ‘in wording’ en het hierdie hoofde vir die komende vyf tot tien jaar nog nodig gehad om jare en jare se ervaring aan hulle oor te dra. En skielik is dit net van ons weggeneem.”

Niehaus verwys na mnre. Neil Prinsloo, Napso se uitvoerende hoof en skoolhoof van Privaatskool Moria, Henry McCarthy wat die kampushoof van die Napso/NWU-onderwyskampus, hoof van die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) in Namibië en skoolhoof van Pro-Ed Akademie en Bakkies Grobbelaar wat die skoolhoof van Tsumeb Gimnasium was.

“Hierdie is die mense met lewenservaring binne die privaatskole-verband wat ‘n ongelooflike gaping gaan los totdat mense deur daardie selfde ervaring gekom het tot waar hulle was voor hul weg is. Dit kan jare vat, daarom is dit vir ons baie kommerwekkend.”

Die Covid-regulasies vir Covid-begrafnisse het ook die voorreg weggeneem om werklik erkenning te gee deur as Napso-familie dáár vir die gesin met die begrafnis te wees en “om stil te staan by iemand wat ongelooflike insette in Namibië, Napso en hul gemeenskap gelewer het nie”.

“Ons wou baie graag erkenning gaan gee het aan hierdie Napso-families en daardie moontlikheid van eer en ondersteuning is onmoontlik vir ons gemaak en dit is vir ons vreeslik hartseer.”

Volgens Niehaus is daarom besluit om van Napso se kant en sodra die Covid-maatreëls wegval, ‘n behoorlike herdenking te hou vir almal wat in hierdie groot Napso-familie van ons hul lewens gelaat het weens Covid.

Niehaus wat self teen Covid baklei het, erken hoeveel dit beteken as jy in jou hospitaalbed lê en mense bel en stuur boodskappe aan jou vrou om jou te ondersteun.

“Om haar elke boodskap, gebed en mense wat intree te hoor lees, mense wat ons nie eers persoonlik ken nie, is net fenomenaal.

Iets wat die Here as getuienis op sy hart gelê het, is dat die finale besluit oor of ’n persoon moet huis toe gaan na Hom toe of nie lê nie, nie by Covid, kanker, ’n ongeluk of ‘n hartaanval lê nie.

“As dit ’n kind van die Here is, dan lê die finale besluit by die Here. Hy gebruik elke geleentheid om siele te red en Hy is weer eens besig om hierdie chaos wat ons as mens oor onsself gebring het van siekte en vrees, om te skakel en te gebruik om siele te red.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer