Napwu dreig NBC met regsgeskil

Napwu het die prokureur mnr. Sisa Namandje aangestel om die saak teen die NBC se versuim om die bepalings van hul ooreenkoms na te kom, te behartig.
Sanet de Waal
Ogone Tlhage – Die Namibiese Vakbond vir Staatsdienswerkers (Napwu) se prokureur mnr. Sisa Namandje, dreig om die NBC hof toe te sleep as die nasionale uitsaaier aanhou om die voltydse indiensneming van sy kontrakwerkers uit te stel.

NBC se werknemers het in Mei begin staak en eis onder meer beter werksomstandighede, salarisverhoging en voltydse indiensneming.

Die staking is beëindig nadat die vakbond en die maatskappy 'n ooreenkoms bereik het.

Napwu beweer NBC het nie die ooreenkoms nagekom nie en het die maatskappy met 'n regsgeding gedreig.

“Ons kliënt, Napwu, het al sy verpligtinge ingevolge die ooreenkoms nagekom. Julle (NBC) het in die volgende opsigte nie opgetree en die bepalings van die ooreenkoms nagekom nie: julle het nog nie die indiensneming van alle werknemers wat op 'n eenjaarkontrak is, soos ooreengekom teen 25 Mei, as permanente werknemers aangestel nie,” luidens die regsfirma.

“Julle het ook nie, ondanks verskeie versoeke van ons kliënt, 'n gesamentlike komitee soos ooreengekom saamgestel wat uit lede van die direksie, bestuur en vakbondverteenwoordigers bestaan nie. Julle is besig om kontrakbreuk te pleeg,” lui die aanmaning

NBC het glo sewe dae gehad om die modaliteite waaroor ooreengekom is, in te dien, maar volgens Napwu is dit nie gedoen nie.



VOLDOEN AAN EISE OF HOF TOE

NBC is gevra om onder meer – voor of op 30 Junie om 12:00 – 'n spesifieke datum te gee wanneer die voltydse indiensneming in werking sal tree, sowel as 'n spesifieke datum waarop 'n gesamentlike komitee aangestel sal word.

As die NBC nie die inligting verskaf nie, het die regsfirma “streng instruksies om die betrokke hof te nader vir dringende afdwinging van die ooreenkoms”, volgens die brief.

Die NBC se direkteur-generaal, mnr. Stanley Similo, het belowe om aan die modaliteite aandag te gee en het Napwu se prokureurs in kennis gestel die aanmaning is eers laat ontvang. “Ons sal voor Woensdag 7 Julie om 16:00 'n antwoord aan u kantoor verskaf,” het hy geantwoord.

Kommentaar

Republikein 2025-04-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer