Nare nasleep
Tot soveel as drie uit tien mense ervaar voortslepende simptome lank nadat hulle van Covid-19 herstel het. Sommige sê dit voel of “'n kombers van uitputting” oor hulle getrek is.
Ronelle Rademeyer – “Ek het aan die einde van Desember verlede jaar Covid gekry en feitlik geen simptome gehad nie. Ja, ek was buitengewoon moeg en soos wat dikwels met griep gebeur, het my reuk en smaak verdwyn.
“Ná 'n week was ek weer aan die gang asof niks ooit gebeur het nie, maar min het ek geweet dat die gevolge van die virus eers later my wêreld op sy kop sou keer. Vir ongeveer 'n maand het ek hoegenaamd geen reuk of smaak gehad nie.
“Ek het jalapeño-poppers geëet asof dit roomys was en Tabasco het my nuwe gunsteling-geurmiddel geword. Ek was voortdurend lus vir sterk gegeurde kos sodat ek net iets kon proe.”
Só vertel die 20-jarige Elizmi Fourie, 'n Windhoeker wat kommunikasiekunde aan die Noordwes-Universitiet in Potchefstroom studeer.
Sy sê toe haar reuk in Maart vanjaar terugkeer, was dit totaal verwronge. Dít waarop sy voorheen versot was, walg haar nou omdat sy die reuk daarvan nie kan uitstaan nie. “Koffie het begin ruik en proe soos verbrande steenkool, Coca-Cola soos 'n mengsel van stof en sand en sjokolade soos verrotte vleis,” vertel sy.
Elizmi is met parosmie gediagnoseer – 'n nadraai van Covid-19.
Parosmie is disfunksionele reuk wat gekenmerk word deur die onvermoë van die brein om die natuurlike reuke van kos of ander dinge korrek te identifiseer.
Pleks daarvan word die natuurlike reuk gewoonlik in 'n onaangename aroma omskep – gewoonlik 'n verbrande, verrottende, fekale of chemiese reuk.
Parosmie ontstaan as gevolg van skade aan die olfaktoriese reseptoreurone, wat senuwee-impulse oor reuke na die sentrale senuweestelsel oordra.
“Dit is emosioneel geweldig moeilik om hierdeur te gaan, want mense verstaan dit nie. Ek het twee sintuie verloor, dit is van my weggeraap. Dit voel of ek 'n ledemaat verloor het.
“Ek is iemand wat altyd baie sterk op my reuksintuig ingestel was. As ek na my ma verlang, voel ek getroos as ek iets ruik wat my aan haar herinner.
“Ek voel afgestomp en dit voel of ek afgesny is van die mense om my. Ek wil nie uitgaan na 'n restaurant nie, want kos is nie meer vir my 'n lekker ervaring nie,” vertel sy.
Elizmi sê sy lees baie hieroor op en besef dit gaan lank vat voor sy weer normaal kan ruik en proe. Sy weet ook dit kan dalk nooit gebeur nie.
Sy het intussen ingeskakel by 'n internasionale ondersteuningsgroep vir mense wat worstel met dié nare nasleep van Covid-19.
ERKENDE PROBLEEM
Lang-Covid is lankal nie meer net iets waaroor medici bloot nuuskierig is nie. Dit is nou 'n erkende probleem en miljarde word aan navorsing hieroor bestee.
Dié toestand behels 'n hele rits simptome wat by sommige mense voortduur lank nadat die akute Covid-19-infeksie verby is wat deur die SARS-CoV-2-virus veroorsaak word.
In Januarie vanjaar het die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) sy riglyne vir Covid-19-behandeling hersien en aanbeveel dat alle pasiënte in geval van lang-Covid toegang tot opvolgsorg moet hê.
Ander gesondheidsinstellings is ewe bekommerd hieroor. Op 23 Februarie het die Amerikaanse Nasionale Instituut vir Gesondheid (NIH) aangekondig dat hy US$1,15 miljard (N$17 miljard) oor vier jaar gaan bestee aan navorsing oor die post-akute gevolge van Covid-19, of lang-Covid.
In die Verenigde Koninkryk het die Nasionale Instituut vir Gesondheidsnavorsing (NIHR) ook bykans dieselfde tyd aangekondig dat hy £38,5 miljoen (N$800 miljoen) beskikbaar sal stel om vier studies hieroor te finansier.
Die Britse BioBank het SARS-CoV-2-selftoetsstelle aan 500 000 deelnemers gestuur sodat diegene met teenliggaampies geïdentifiseer kan word en hulle uitgenooi kan word vir navorsing oor langdurige post-Covid-simptome.
GENETIESE VERSKILLE
Dr. Nadia Rosenthal, wetenskaplike direkteur van The Jackson Laboratory (JAX) in Amerika, stem saam lang-Covid is 'n wesentlike probleem.
Rosenthal sê in 'n podsending op die webblad van die wetenskaptydskrif Nature baie mense sukkel weke en selfs maande nadat hulle die siekte gehad het steeds met simptome.
Dié laboratorium fokus op genomiese studies om dit beter te verstaan.
Moegheid en hartkloppings weens skade aan die longe en hart is algemeen, maar daar is ook 'n rits ander langdurige simptome wat met die virus se impak op die lewer, niere, pankreas, senuweestelsel en brein verband hou, sê sy.
“Daar word baie navorsing oor Covid-19 gedoen, maar nie baie werp werklik lig op die rede vir die langdurige simptome nie. Daar is nie eintlik 'n kousale verband tussen die ernstigheid van die aanvanklike siekte en die simptome wat mense wat die siekte gehad het, later ervaar nie,” verduidelik Rosenthal.
Mense verskil geneties en hul immuunstelsels verskil. Dit is waarom JAX tans genomiese modelle vir toetse op muise ontwikkel om lang-Covid te bestudeer, sê sy.
In Engeland het 'n span onder leiding van dr. Athena Akrami, 'n neurowetenskaplike aan die University College in Londen wat self lang-Covid het, 205 simptome geïdentifiseer in 'n studie onder meer as 3 500 mense, berig Nature.
“Teen maand ses was die mees algemene simptome moegheid, uitputting ná inspanning en kognitiewe disfunksie. Hierdie simptome wissel, en mense gaan dikwels deur fases waarin hulle beter voel en tye wanneer dit met hulle slegter gaan,” lui die berig.
Die Britse kantoor vir nasionale statistieke (ONS) monitor meer as 20 000 mense wat sedert April 2020 positief getoets het.
In sy mees onlangse ontledings, gepubliseer op 1 April vanjaar, is bevind dat 13,7% van hulle ná 12 weke steeds simptome gerapporteer het.
Losweg definieer die ONS lang-Covid as simptome wat langer as vier weke voortduur.
Dit beteken meer as een uit die tien mense wat met SARS-CoV-2 besmet geraak het, beleef lang-Covid. As wat in Brittanje beleef is elders in die wêreld ook van toepassing is, ly byna 20 miljoen mense wêreldwyd hieraan. Sowat 196 miljoen mense in die wêreld het al positief vir die virus getoets.
Dit blyk verder dat die toestand meer by vroue voorkom as by mans. In 'n ander ONS-ontleding het 23% van die vroue en 19% van die mans vyf weke ná infeksie steeds simptome gehad.
Daar is ook kenmerkende ouderdomsverskille. Volgens die ONS is lang-Covid die algemeenste by middeljarige mense: die voorkoms was 25,6% ná vyf weke onder mense tussen 35 en 49 jaar.
GROOTE SCHUUR-HOSPITAAL
Die Groote Schuur-hospitaal in Suid-Afrika bedryf reeds sedert Junie verlede jaar 'n spesiale kliniek vir mense met simptome van lang-Covid.
Dr. Rubeshan Perumal, pulmonoloog en hoof van die kliniek, sê in 'n artikel in die aanlyn gesondheidstydskrif, Spotlight, aangesien dit so 'n nuwe verskynsel is, moet pasiënte gerusgestel word dat dit normaal is om dié soort simptome te ervaar.
Perumal sê dit is moeilik om lang-Covid te diagnoseer, juis omdat daar so 'n wye verskeidenheid simptome is. Volgens hom het 10-30% van pasiënte tot ses maande ná die tyd steeds simptome.
“'n Maand nadat hulle van die virus herstel het, sal tussen 60% en 80% van pasiënte steeds simptome toon. Daar is ook 'n groep van so 10% van alle pasiënte, veral diegene wat ernstig siek was, wat tot 12 maande ná die tyd nog simptome ervaar,” sê Perumal in die artikel in Spotlight.
Volgens hom loop ouer vroue wat tydens die siekte verskeie simptome ervaar het, die grootste risiko om lang-Covid te hê.
As 'n pasiënt by die kliniek aanklop, doen die multidissiplinêre span dadelik toetse om te kyk watter organe deur die lang-Covid geraak word. Daarna begin die behandeling en rehabilitasie.
“As organe nie aangetas is nie, fokus ons op simptomatiese behandeling,” sê Perumal.
Hy verduidelik die pasiënte wat by hierdie kliniek aanklop, ervaar probleme wat verhinder hulle om betekenisvol met hul lewens voort te gaan.
Perumal sê baie pasiënte beskryf dit wat hulle ervaar as 'n “kombers van uitputting” waarvan hulle nie kan ontsnap nie.
Hulle kla hulle is gedurig kort van asem, sê hy. “En jy weet, die begeerte om asem te haal is sterk, en mens wil gemaklik voel as jy dit doen. En as jy nie gemaklik kan asemhaal nie, is daar heelwat angs.
“Ons vind dat hierdie simptome, hoewel dit dalk lyk of dit in die longe ontstaan, dikwels weens 'n verskeidenheid faktore is en ook hul oorsprong in die brein, hart en spiere kan hê. Dit is dikwels weens 'n komplekse interaksie tussen hierdie stelsels,” sê hy in die artikel.
'DIT MORS MET 'n OU'
Nog twee Namibiërs het in 'n onderhoud van hul ervaring van lang-Covid vertel. Een van hulle is die Walvisbaaise sakeman, Rudi Witulski, wat in Mei verlede jaar met Covid-19 gediagnoseer is. Hy was die land se 22ste bevestigde geval.
Aangesien hy van die eerste mense in die land was wat aan 'n ventilator gekoppel moes word, is sy toestand met groot kommer dopgehou. Trane van verligting en blydskap het gevloei toe hy op 3 Julie verlede jaar ná weke in die Welwitschia Private Hospitaal, in 'n rolstoel ontslaan is.
“Dit is 'n jaar later en ek is nog nie weer myself nie. Ek word nog baie moeg en voel soms kortasem,” vertel Rudi. Hy word ook nog by tye baie emosioneel en sê: “Hierdie siekte mors met 'n ou.”
Ds. Thijs van der Merwe, algemene sekretaris van die NG Kerk in Namibië, het baie mense ná hul stryd met Covid-19 bygestaan en beleef hoe sy kollega, ds. Dirk Louw, só moeg was dat hy nie 'n koppie koffie kon optel nie. In Maart vanjaar het hy self siek geword en toe hy ná sy koorsnewels weer “bykom”, moes hy hoor sy kollega, Francis Cloete, het dit nie gemaak nie.
Drie maande later beleef Thijs steeds Covid se “lang stert”. Dit sluit in “ontsettende moegheid" en ook depressie. “Ek kry ook skuldgevoelens dat ek leef terwyl Francis dit nie gemaak het nie.”
LANG-COVID-REGISTER
Prof. Resia Pretorius van die departement fisiologiese wetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch (US) is intussen besig om 'n Suid-Afrikaanse aanlyn register vir lang-Covid op te stel.
Die hoofdoelwit van die aanlyn register is om die omvang van die probleem in Suid-Afrika vas te stel, sê die US in 'n verklaring. Bykomend hiertoe wil sy ook die langtermyn newe-effekte van lang-Covid en die gepaardgaande komorbiditeite, sowel as die effek daarvan op bloedstolling en sirkulerende inflammatoriese molekules in die bloed bestudeer.
Voortslepende simptome kan voortduur in 'n geraamde 25–35% van gevalle, ongeag die graad van infeksie, sê sy.
Pretorius het in samewerking met Innovus, die US se kantoor vir tegnologie, 'n metode gepatenteer vir die vroeë identifisering van lang-Covid. Met hierdie metode kan hulle bloedklonte wat moeilik afgebreek word, in bloedmonsters identifiseer.
As 'n spesialis op die gebied van die wetenskap van bloed, bloedstolling en inflammatoriese siektes, hoop sy ook om nuwe molekules in die bloed te identifiseer wat moontlik verantwoordelik is vir hierdie bloedklonte wat weerstandig is teen afbreking.
Die teenwoordigheid van sulke molekules sal gebruik kan word vir die vroeë identifisering van lang-Covid en selfs in die ontwikkeling van suksesvolle behandeling van mense met voortslepende simptome, lui die verklaring.
FOTO’s
Rudi Witulski op 3 Julie 2020 toe hy ná weke in die intensiewesorgeenheid, kon terugkeer huis toe. Foto Facebook
Ds. Thijs van der Merwe sukkel met die nagevolge van lang-Covid. Foto Facebook
Elizmi Fourie het sewe maande ná sy Covid-19 gehad het, steeds nie haar smaak- en reuksintuig herwin nie. Foto Verskaf

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie