Nasionale digitale strategie kom spoedig

Namibië kan voordeel uit die sogenaamde vierde nywerheidsrewolusie trek en kan selfs sekere ontwikkelde lande in sy vordering verbysteek.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Die ministerie van inligting- en kommunikasietegnologie gaan binnekort ‘n nasionale digitale strategie vir Namibië saam met toepaslike belangegroepe ontwikkel.

Dié strategie moet as omvattende padkaart vir Namibië se digitaliseringsagenda dien.

Hiermee het die minister van inligting- en kommunikasietegnologie, mnr. Stanley Simataa, Maandag die vyfde Inligting- en Kommunikasietegnologieberaad (IKT) geopen.

Die tema vir die beraad, wat tot vandag nog aan die gang is, is “digitale transformasie vir ‘n IKT-slim Namibië”.

“Sommige navorsers en tendensontleders is van mening die wêreld ervaar tans die begin van ‘n vierde nywerheidsrewolusie – een wat hoe ons leef, werk en dienste verskaf, en selfs hoe ons met mekaar in verbinding tree, wesenlik sal verander.

“Om te keer dat ons agter bly, moet ons met die nodige beleid en regulasies vorendag kom sodat ons die voordele van hierdie naderende en onvermydelike ontwikkeling kan benut,” het Simataa gesê.

Hy het gesê Namibië kan dít doen deur internetverbinding te verbeter en digitalisering te versnel omdat dit die ideale wegspringplekke vir die vierde nywerheidsrewolusie is.

Hy het ook gesê Namibië behoort die voordele van wolkrekenaars (cloud computing) te benut, gegewe die bekostigbaarheid en aanpasbaarheid daarvan.

“As ‘n ontwikkelde land kan Namibië voordeel uit dié ontwikkeling trek deur sekere uitdagings vinniger en meer kostedoeltreffend op te los en kan ons sekere ontwikkelde lande in ons vordering verbysteek,” het hy gesê.

Hy het verder gesê die voordele van digitale transformasie sluit in meer doeltreffendheid en beter dienslewering, minder korrupsie, meer beleggings in digitale vaardighede, meer werksgeleenthede vir die jeug en die moontlikheid om geslagsgapings en ander ongelykhede te oorbrug.

Volgens die minister sluit uitdagings in om op hoogte van wêreldwye mededinging te bly, asook van Afrika en Namibië se toegang tot IKT en verbindings daarmee, en bedreigings vir privaatheid en datasekuriteit.

Hy het gesê daar moet ook gelet word op die ontwikkeling van mensevaardighede sodat Namibië vir die vierde rewolusie gereed is.

Volgens Simataa moet Namibië noodsaaklike vrae eers self beantwoord, soos wat die digitale transformasie vir ons beteken, watter voordele ons daaruit wil trek, hoe die pad vorentoe lyk en hoe dit sal bydra tot ons nasionale voortuisig om ‘n IKT-slim Namibië te skep en sodoende die land op ‘n pad van ekonomiese groei te plaas, wat menselewens sal verbeter.

Hy het ook gesê daar moet oorweeg word hoe dit vir grondhervorming in landbou ingespan kan word, afgesien daarvan dat dit kan help om landbouproduktiwiteit te bevorder.

Simataa het ook gesê masjiene sal in die toekoms al meer noodsaaklike funksies verrig, wat tot groter gemak en doeltreffendheid sal lei.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!