Nasionale kroon by Swakop gejaag

In die plek van die Total Tara is nuwe reëlings deur organi­seerders van motorsport bekendgemaak.
Tielman van Lill
Tielman van Lill – Die Walvisbaai-motorklub sal op Vrydag 20 en Saterdag 21 November twee nasionale Shell V-Power tydrenkampioen­skaps­byeenkomste in die omgewing van Swakopmund aanbied.

Vivo Energy Namibia met sy Shell V-Power-handelsmerk, as hoofborg vir die twee oorblywende kompetisies, is 'n getroue ondersteuner van tydrenne en van die Walvisbaai-klub as dryfveer agter die laaste twee byeenkomste. Die Walvisbaaiers het reeds die tweede nasionale byeenkoms vir 2020 aangebied wat ook deur Shell V-Power geborg was.

Mnr. Jan Everson, voorsitter en jaer van die Walvisbaai-klub, sê sonder Vivo en Shell V-Power se steun sou dit nie moontlik gewees om die knoop deur te haak nie.

“Ons wil uit die staanspoor graag vir Vivo Energy bedank omdat hulle al 'n klomp geld hierdie jaar vir ons gegee het om tydrenne aan te bied. Vivo het ons reeds met die tweede been van die nasionale kampioenskap geborg en nou het hulle vir ons nog geld gegee om die laaste twee kompetisies te hou.

“Omrede Covid-19 sport in Namibië tot stilstand geruk het, moes Windhoek-motorklub noodgedwonge die ikoniese Tara-tydren kanselleer wat vandeesmaand moes plaasvind. Walvisbaai-motorklub was in die verlede nou betrokke by die laaste twee Tara-tydrenne wat vanaf Swakopmund tot in Windhoek gehou was.

“Dus is die roetebeplanning en roetenotas van die trajekte naby Swakopmund niks vreemds vir ons nie en ons het besluit om in te spring om te sorg dat die nasionale kampioen­skap voltooi kan word.

“Om die nasionale kampioenskap suksesvol te voltooi, moet ten minste vier byeenkomste gehou word. Ons moes hard spook om 'n borg vir die laaste twee kompetisies te vind en Shell V-Power was opnuut daar om tydrenne se hand te vat.

“Ons het op die gekanselleerde Tara se twee datums besluit en sal twee volledige tydrenne oor twee dae aanbied. Plaaslike entoesiaste en ondersteuners is honger vir aksie en sien baie uit na die voorgenome byeenkomste en dan praat ek nie eens van die jaers wat die hele jaar al droëbek moes sit nie.

“Ocean View Shell, Skyway, J&P Hydraulics, Seal Consulting Engineers, Swakopmund Go Karts, Hardap Freight Services asook Malan's Meat Market en Safeware is uitstekende ondersteunende borge wat deurgaans mildelik tot tydrenne bydra om byeenkomste suksesvol aan te bied.

“Die dryfveer agter alles is die span van Walvisbaai-motorklub wat nie terugdeins om hul tyd op te offer vir die reël van tydrenne nie. Ons spesiale dank aan mense soos Oswaldo Mendes, Allan Martin en Tinus Malan vir die reëlings, roetebeplanning en roetenotas en al die ure se tyd wat hulle ingesit het om die twee byeenkomste moontlik te maak.

“Met twee vollengte byeenkomste agtermekaar het dit sake verder vir ons bemoeilik om dinge te reël.

“Ons bedank vir Geraldine Naude, ons topklas roeteklerk, en André Everts, ons klubverteenwoordiger by die NMSF (Namibiese Motorsportfederasie), opreg vir hul hulp en insette,” het die voorsitter aan Republikein gesê.

Van die besonderhede vir die komende byeenkomste:

Tydren 1 (100.45 km) op Vrydag 20 November se aksie bied nege nuwe trajekte waarvan agt in die daglig en een nagtelike sneldeel in die nywerheidsgebied gejaag word. Die nuwerheidsgebied bied uitstekende kykgenot aan toeskouers en dié skof sal om 19:30 wegspring.

Tydren 2 (104.5 km): Die volgende oggend om elfuur sal die eerste span by Ocean View Shell wegspring om die eerste van agt sneldele aan te durf. Bekende kykervriendelike sneldele sluit in: Daggabos, MX en NamPower waar toeskouers in die verlede die spanne in aksie kon sien. Sneldeel 7 begin om 15:00 langs NamPower – 'n gewilde skof wat tevore hordes toeskouers gelok het.

Nagenoeg 20 inskrywings word verwag.
[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!