Nasionale polisiehoof word dalk gou geskors
Nasionale polisiehoof word dalk gou geskors

Nasionale polisiehoof word dalk gou geskors

Volgens bronne is die skrif aan die muur vir genl. Khehla Sitole en ’n kennisgewing van die president is die begin van die einde vir hom.
Maygene de Wee – ’n Kennisgewing van die voorneme om hom te skors, is Dinsdag aan genl. Khehla Sitole, Suid-Afrika se nasionale polisiehoof, beteken.

Pres. Cyril Ramaphosa het die kennisgewing glo Dinsdag aan Sitole gestuur, wat nou volgens bronne sewe dae het om vir Ramaphosa redes te verskaf oor hoekom hy nie geskors moet word nie.

Netwerk24 het reeds in Maart vanjaar berig dat Bheki Cele, minister van polisie, Ramaphosa gevra het dat ’n ondersoek gedoen word na Sitole se geskiktheid vir die pos.

Tyrone Seale, Ramaphosa se waarnemende woordvoerder, het toe gesê die president gaan eers seker maak dat hy al die inligting het om ’n ingeligte besluit te neem.

Bronne het Woensdag gesê ’n ondersoek na die geskiktheid van Sitole vir die pos van nasionale polisiehoof sal nou waarskynlik gedoen word.

Volgens die bronne is die skrif aan die muur vir Sitole en dié kennisgewing van die president is die begin van die einde vir hom.

Die bronne het ook gesê lt.genl. Francinah Vuma, een van Sitole se adjunkte, gaan glo binnekort met ’n soortgelyke kennisgewing bedien word. Volgens hulle is sy glo met “onbepaalde verlof”.

Van die goed wat volgens ingeligtes teen Sitole tel, is die ondersoek van die ondersoekende direktoraat van die nasionale vervolgingsgesag ná die aankoop van ’n selfoonseinonderskepper in 2017 wat glo by die ANC-konferensie by Nasrec gebruik sou word.

Hulle het verder gesê die president weet ook daarvan dat Sitole op 29 Julie vanjaar aan die parlement se staande komitee oor polisie gesê het die inspekteur-generaal (IG) vir intelligensie het hom en twee van sy adjudante van alle blaam onthef ten opsigte van die beoogde aankoop van dié onderskepper ten R45 miljoen om op die ANC se verkiesingskonferensie in Desember 2017 by Nasrec in Johannesburg te gebruik. “Die president weet hy het daaroor gejok,” het die een bron gesê.

Adv. Jay Govender, regsadviseur in die IG se kantoor, het in Augustus vanjaar by navraag gesê die IG wag nog op die verslag van ’n ondersoek wat hy glo al in 2018 aangevra het daaroor.

Sitole het op 29 Julie aan LP’s van die staande komitee oor polisie gesê die IG vir intelligensie het hom, lt.genl. Lebeoana Jacob Tsumane (adjunk- nasionale kommissaris: misdaadopsporing) en Vuma (adjunk- nasionale kommissaris: bestuursadviesdienste) van alle blaam onthef ten opsigte van die seinonderskepper.

In die bloutjie wat hy en drie ander op 30 Junie vanjaar geloop het in die appèlhof, is “die verslag wat hulle van alle blaam onthef” boonop nie in ag geneem nie, het hy aan die komitee gesê.

In dié saak het die hof Sitole, Vuma, Tsumane en Bongani Mbindwane se aansoek om verlof tot appèl teen ’n uitspraak in die hooggeregshof dat hulle die klassifikasie van dokument “as rookskerm gebruik het”, van die hand gewys.

Mdindwane was die spesiale raadgewer van Fikile Mbalula to dié nog minister van polisie was.

Daar is ook die hofsake waarin Sitole die afgelope jaar tweede gekom het.

Netwerk24 het in Julie vanjaar berig Cele was ’n maand lank onbewus daarvan dat Sitole en drie ander in die appèlhof in Bloemfontein bloedneus gekry het.

Sitole het toe nie sy politieke hoof ingelig dat hul aansoek om verlof tot appèl teen ’n uitspraak van die hooggeregshof dat hulle die klassifikasie van dokumente “as rookskerm gebruik het” van die hand gewys is nie.

Die dokumente is deur die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) versoek in sy ondersoek na die verkryging van ’n selfoonseinonderskepper teen die opgejaagde prys van R45 miljoen.

Lirandzu Thema, Cele se woordvoerder, het toe gesê eers toe navraag daaroor gedoen is, het hulle bewus geraak van die uitspraak wat reeds op 30 Junie teen Sitole, Tsumane, Vuma en Mbindwane gelewer is.

“Nie Sitole of die polisie se regsafdeling het die uitspraak van die appèlhof aan Cele of sy kantoor gekommunikeer nie,” het Themba toe gesê.

Sitole en sy mede-applikante het reeds op 30 Junie van die uitspraak teen hulle geweet.

Hulle het die aansoek om verlof tot appèl teen die uitspraak van regter Norman Davis op 1 April vanjaar by die appèlhof ingedien.

Davis het bevind dat hulle die Wet op Opod oortree het deurdat hulle nie hul volle samewerking aan Opod en sy ondersoekbeamptes gegee het nie.

Die applikante het aanvanklik geweier om deur Opod ondervra te word. Hulle het ook geweier om dokumente wat hulle as vertroulik laat klassifiseer het, te deklassifiseer en het gesê Opod moet die parlement se staande komitee oor intelligensie vra om die dokumente te deklassifiseer.

Die appèlhof het die aansoek om verlof tot appèl met koste van die hand gewys “op grond daarvan dat daar geen redelike vooruitsig is op sukses in ’n appèl nie en dat daar geen ander dwingende rede bestaan waarom ’n appèl aangehoor moet word nie.”

Navrae is aan brig. Vish Naidoo, Sitole se woordvoerder, Seale en aan Themba gestuur. Seale het gesê hy sal later terugvoering gee.

Naidoo het gesê hy kan dit nie bevestig of ontken nie. Hy het gesê dat Vuma met gewone verlof is en dat sy iewers volgende week terugkeer werk toe. Themba en Seale se kommentaar sal bygewerk word sodra dit ontvang word.
– Netwerk24

FOTO
Genl. Khehla Sitole het glo sewe dae om vir pres. Cyril Ramaphosa redes te gee oor hoekom hy nie geskors moet word nie. Foto Netwerk24/Gallo Images

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!