Nasionale stadions? Nee, nasionale skande

Die haglike toestand van die stadion in Olympia word ­toenemend 'n oogseer.
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Toeskouers en ouers wat die afgelope weke hul kinders na atletiekbyeenkomste in die Onafhanklikheidstadion in Windhoek gebring het, is opnuut geskok deur die gebrek aan vullisverwydering en instandhouding.

Mediaberigte het gister uitgewys dat die Sam Nujoma-stadion in Katutura – die gebruiklike tuisveld van die nasionale sokkerspan, die Brave Warriors – tans ook nie aan vasgestelde standaarde voldoen nie.

Namibië se versuim om aan sperdatums vir opgradering te voldoen, kan glo meebring dat die Brave Warriors in die ongehoorde en vernede­rende situasie kan beland dat hul komende tuiswedstryde in buurlande soos Botswana of Suid-Afrika gespeel sal moet word, omdat geen stadion in die land tans aan die vereistes van die sport se wêreldbeheerliggaam Fifa voldoen nie.

Soos die meegaande foto's van die afgelope dae duidelik aantoon, moet enigiemand ook twee keer dink voordat die Onafhanklikheidstadion sommer net as die logiese alternatief aanvaar word.

Laasgenoemde venue is die tuiste van die land se baan- en veldatletiek en word ook vir sokker- en ander byeenkomste gebruik, maar instandhouding bly voortdurend 'n knelpunt.

Beide stadions is die eiendom en verantwoordelikheid van die ministerie van sport, jeug en nasionale diens. Veral die Onafhanklikheid­stadion het die afgelope jare egter sodanig verval dat sommige waarnemers reeds wonder wanneer die dag aanbreek dat dit as onveilig vir toeskouers bevind en permanent gesluit word.

Geldverwante probleme duik redelik gereeld op, soos dat die watertoevoer afgesny word sodat die openbare toilette nie gespoel kan word nie, of dat die gras nie natgelei kan word nie. Volgens waarnemers het onkruid nou reeds groot dele van die grasveld bykans oorgeneem.

Ná byeenkomste is vullis tussen die stadion se stoele veronderstel om opgetel en in vullisdromme gestort te word, van waar dit veronderstel is om deur die munisipaliteit verwyder te word. Tans blyk dit egter duidelik uit die oorvol vullisdromme dat verwydering vir weke nie gedoen is nie. Met oorblyfsels van kos wat verrot, hang 'n stank oor die omgewing wat tot teenwoordige atlete en toe­skouers se haglike ondervinding bydra.

Instandhouding wat glo vantevore deur die ministerie van werke verrig is, word deesdae eenvoudig agterweë gelaat.

Onder die ooppawiljoene is die grond onder die sementblokke wat as sitplekke dien, reeds so weggekalwe dat 'n mens nie verbaas moet wees wanneer dit eendag meegee en iemand seerkry nie.

Me. Leoni van Rensburg, jarelange organiseerder van atletiekbyeenkomste, sê: “Nog 'n groot kwessie by al die omliggende sportvelde in Olympia en veral die Onafhanklikheidstadion, is die plaag van rooimiere wat alles in hul pad opvreet en wat ook vir atlete 'n voortdurende teistering is.

“Af en toe word miergif in die omgewing gestrooi, maar wanneer dit reën, spoel dit weg en keer die probleem net weer terug. Geld is voortdurend 'n kopseer. Ek het onlangs weer heelwat van my eie geld bestee aan miergif, skoonmaakmiddels, kompos, grassny, onkruidverwydering, verfwerk en om die verspringputte te laat opknap.”

Daar was ook kort ná die nuwejaar 'n skrikwekkende insident toe 'n werker deur die dak van die stadion geval het. Op die openingsdag van die QSB oefenkamp vroeg in Januarie het 'n deel van die stadion se dak meegegee en die arme man het bykans vyf meter geval en in die afgesperde area vir belangrike persone langs die stoele te lande gekom.

“Hy het uiteraard seergekry en ons het die ambulans gebel, maar ek weet nie wat sedertdien met hom gebeur het nie. Gelukkig het hy nie bo-op iemand geval nie,” sê Van Rensburg.

Volgens haar voldoen die Onaf­hanklikheidstadion lankal nie meer aan die maatstawwe wat deur Wêreld­atletiek (tevore die IAAF) gestel word nie. “Die tartanbaan is die laaste keer in 1996 nuut oorgedoen. Windhoek Afrikaanse Privaatskool het wel verlede jaar die mees verweerde stukke van die baan laat vervang, maar die reën en die son rig ook maar skade aan soos die tyd verloop.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!