Nasionalisering verander nie SARB se rol

Die Reserwebank sal steeds sy mandaat uitoefen soos uiteengesit in die Grondwet, selfs al verander sy aandeelhouding.
Niel Joubert - ’n Verandering aan sy aandeelhouding gaan nie die Reserwebank se mandaat verander nie, het die bank Woensdag gesê nadat die ANC vroeër die dag by sy beleidskonferensie in Johannesburg ’n voorstel aanvaar het om die Reserwebank se nasionalisering te debatteer.

Die voorstel dat die Reserwebank dalk genasionaliseer moet word, het beleggers Woensdag onrustig gemaak.

Die sprake van die Reserwebank se rol kom slegs ’n paar weke nadat die Openbare Beskermer (OB) voorgestel het dat die bank se mandaat verander moet word, wat hewige kritiek uit alle oorde ontlok het.

Die rand het Woensdag skerp verswak ná dié nuus en het in ’n stadium teen R13,49 teenoor die Amerikaanse dollar verhandel.

Die Reserwebank is tans ’n private maatskappy met private aandeelhouers, maar hulle het geen invloed op die toepassing van sy mandaat nie.

Die bank word ingevolge die Wet op die Suid-Afrikaanse Reserwebank beheer, saamgelees met die Grondwet. Die aandeelhouers het geen regte op of betrokkenheid by die uitvoering van die monetêre beleid, finansiëlestabiliteitsbeleid of bankregulasies nie.

“Die aandeelhouding van die Reserwebank het geen betrekking op die beleid- of regulatoriese rol wat die Reserwebank het nie,” het die bank in ’n e-pos aan Reuters gesê.

Hy sal steeds sy mandaat uitoefen soos uiteengesit in die Grondwet, selfs al verander sy aandeelhouding, sê die bank.

Mandaat geteiken

Rashaad Tayob, portefeuljebestuurder van Abax Investments, sê beleggers is senuweeagtig omdat die mandaat van die bank bevraagteken en geteiken is “op ’n baie politieke manier”, berig Bloomberg.

“Mense verwar eienaarskap van die Reserwebank met beheer daarvan, wat nie die geval is nie. Maar die kwessie kom weer voor en dit wys dat die balans van beleid wegbeweeg van die tradisionele raamwerk,” sê Tayob.

Die Reserwebank het egter Woensdag goeie nuus gekry toe Malusi Gigaba, minister van finansies, gesê het hy wil die omstrede verslag van adv. Busisiwe Mkhwebane, OB, oor die Bankorp-sage, en waarin aanbeveel word die mandaat van die Reserwebank word verander, tersyde laat stel.

Die Reserwebank se grondwetlike mandaat is om “die waarde van die geldeenheid te beskerm in belang van gebalanseerde en volhoubare ekonomiese groei”. In praktyk beteken dit die bank kan rentekoerse verhoog of verlaag om inflasie in ’n teikenband te hou.

‘Pligsversuim’

Mkhwebane het voorgestel dat die verwysing in die Grondwet na die “geldeenheid” verwyder word en dat die Reserwebank se primêre doelwit moet wees om gebalanseerde en volhoubare ekonomiese groei te bevorder, terwyl verseker moet word dat die sosio-ekonomiese welstand van die landsburgers beskerm word.

David Maynier, DA-LP, het gesê hy verwelkom die feit dat Gigaba uiteindelik aangekondig het dat hy stappe gaan doen om die verslag tersyde te laat stel.

Maynier sê egter die feit is dat Gigaba vir meer as twee weke lank “geweifel” het en geen konkrete stappe gedoen het om die onafhanklikheid van die Reserwebank te beskerm nie.

Dit was ’n “monumentale pligsversuim” en Gigaba het Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, op sy eie gelaat om te veg vir die bank se onafhanklikheid, sê Maynier. – Netwerk24/Bloomberg/Reuters

Kassie:

Hoekom is die Reserwebank ’n private maatskappy?

Nellie Brand-Jonker - Die Suid-Afrikaanse Reserwebank is in 1921 gestig.

Teen die tyd dat hy gestig is, het die meeste sentrale banke wêreldwyd private aandeelhouers gehad en die Suid-Afrikaanse Reserwebank het dieselfde struktuur aangeneem.

In April 1922 is banknote die eerste keer aan die publiek uitgereik en die bank het kort daarna die alleenuitreiker van banknote in Suid-Afrika geword.

Die Reserwebank is ’n April 1922 op die JSE genoteer, maar nadat die noteringsvereistes verander is, het hy in 2002 gedenoteer.

Die Reserwebank het steeds private aandeelhouers, maar hulle het geen invloed op die toepassing van sy mandaat nie.

Die bank word ingevolge die Wet op die Suid-Afrikaanse Reserwebank beheer, saamgelees met die Grondwet.

Private aandeelhouers het beperkte regte, naamlik om die Reserwebank se jaarstate te oorweeg, om sewe van die nie-uitvoerende direksielede aan te stel, om eksterne ouditeure aan te stel en om hul vergoeding goed te keur.

Sy aandele verhandel oor die toonbank.

Die aandeelhouers het geen regte op of betrokkenheid by die uitvoering van die monetêre beleid, finansiëlestabiliteitsbeleid of bankregulasies nie.

Net aandeelhouers wat in Suid-Afrika mag woon, mag op die jaarvergadering stem. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!