Naspers-aandeel wen veld terug ná Tencent-skok
Naspers se aandeelprys het Donderdagmiddag skerp gedaal nadat die maatskappy bekend gemaak het hy verkoop 2% van sy belang in sy kontantkoei, Tencent.
Ná die mark se oorreaksie op die nuus - ondanks Naspers se versekering dat hy nié disinvesteer aan die Chinese internetreus nie - het die aandeelprys teen 14:00 van sy 9%-daling vir die dag tot ’n daling van 6,9% tot R3 220,02 veld herwin.
Die aandeel het selfs by R3 127,22 gedraai het.
Dis die eerste keer dat Naspers van sy Tencent-aandele verkoop sedert hy in 2001 in dié maatskappy belê het.
Dit gaan Naspers se belang in die Chinese internetreus van 33,2% tot 31,2% verminder.
Naspers sê in ’n Sens-verklaring hy gaan tot 190 miljoen Tencent-aandele verkoop. Dit is nagenoeg $10,6 miljard werd.
Koos Bekker, voorsitter van Naspers en self ’n direkteur van Tencent, sê die proses sal help om van Naspers se ondernemings vinniger selffinansierend te maak.
“Ons het Tencent oor ons plan ingelig, wat verstaan en ondersteun word. Ons is geensins van plan om nou nog aandele te verkoop nie, en het verklaar dat ons vir minstens die volgende drie jaar geen verdere Tencent-aandele sal verkoop nie, in pas met ons langtermyngeloof in die onderneming.”
Bob van Dijk, Naspers se uitvoerende hoof, sê die geld sal gebruik word om Naspers se balansstaat te versterk “en sal mettertyd belê word om die groei van ons ondernemings vir geklassifiseerde advertensies, aanlyn kosaflewering en finansiële tegnologie wêreldwyd te versnel, en om ander opwindende groeigeleenthede na te streef wanneer hulle opduik".
Naspers beklemtoon dat hy vertroue in Tencent behou.
“Ons beskou Tencent as een van die beste groei-ondernemings in enige bedryf ter wêreld, bestuur deur ’n buitengewoon bekwame span,” sê Bekker.
Die aandele sal aan institusionele beleggers wêreldwyd aangebied word.
Die boekbouproses het pas geopen en sal na verwagting reeds voltrek wees teen die tyd dat Hongkong se aandelebeurs Vrydag open.
Tencent se aandeelprys in Hongkong het met 5,02% tot 439,40 Hongkongse dollar gedaal. Dit kan deels toegeskryf word aan Tencent se opmerking Woensdag dat volgehoue investering in kunsmatige intelligensie en video-inhoud op kort termyn druk op sy winsgewendheid sal plaas.
Tencent is die eienaar van die kitsboodskapdiens WeChat, maar die meeste van sy inkomste kom van videospeletjies af.
Naspers het die afgelope paar jaar miljarde belê in sy wêreldwye aanlyn platform vir geklassifiseerde advertensies, OLX, en in die kosafleweringsdienste waarin hy belange besit, soos Delivery Hero in Europa, Swiggy in Indië, iFood in Brasilië en Mr D in Suid-Afrika. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie