Naspers maak blink halfjaarsyfers bekend

Met sy verskeie portefeuljes het Naspers die afgelope ses maande vooruit geboer.
Hanlie Stadler



Naspers begin ná jare waarin dit ontwikkelingsgeld opgeslurp het, eindelik die vrugte pluk van sy investering in geklassifiseerde advertensies.

Die afdeling, wat OLX en Avito insluit, het as geheel winsgewend geword in die ses maande tot einde September as Naspers sy bykomende belegging in die Amerikaanse onderneming Letgo uitsluit.

Die groep se afdeling vir videovermaak, wat MultiChoice en Showmax insluit, het in die halfjaar 'n matige groei in intekenare tot 12,2 miljoen getoon.

MultiChoice is op die oomblik midde-in 'n herrie oor beweerde omkopery van die SAUK en ANN7 ten einde regeringsbeleid te beïnvloed, bewerings wat die maatskappy ontken.

Naspers het sy resultate op Sens, die JSE se nuusdiens, en op sy webwerf uitgereik.



In syfers

Vergeleke met dieselfde halfjaar van 2016:

• Inkomste styg met 33% tot US$9 miljard. Die styging is 39% indien dit in die geldeenhede waarin dit verdien is, bereken word en verkrygings en verkope uitgelaat word.

• Handelswins styg met 40% (52% in plaaslike geldeenhede) tot US$2,1 miljard .

• Kernwesensverdienste styg met 65% (67%)tot US$1,5 miljard.

• Naspers se besteding aan ontwikkeling het met 6% (5%) gedaal namate ondernemings uit die eerste fases van ontwikkeling begin beweeg.

• Die groep se inkomste uit vennote en gesamentlike ondernemings het met 59% tot US$1,5 miljard gestyg.

Intussen glimlag aandeelhouers waarskynlik breed nadat Naspers se aandeelprys die dag 0,77% hoër op R3 809 gesluit het. Die aandeelprys het verlede Maandag vir die eerste keer R4 000 verbygesteek vir 'n nuwe intradagrekord van R4 142,99.

Die maatskappy se kernwesensverdienste – die maatstaf van wins wat onder meer eenmalige items uitsluit – het met 65% tot US$1,5 miljard gestyg. Naspers gee sy syfers in dollar weer.

Ondernemings buite Suid-Afrika dra nou 82% tot die inkomste by, vergeleke met 80% 'n jaar gelede,

Naspers sê sy enorme geografiese voetspoor – in meer as 120 lande – stel hom bloot aan groot wisselvalligheid in wisselkoerse. Dis veral 'n groot probleem vir sy videovermaak-afdeling omdat programme in dollar aangekoop word, maar inkomste in plaaslike geldeenhede verdien word.

Naspers gee sy syfers weer in drie oorhoofse afdelings – internet, video­vermaak en media.



Internet

Dié afdeling verteenwoordig Naspers se beleggings in Tencent en Mail.ru, geklassifiseerde advertensies, e-handel, betalings en Ventures, die maat­skappy se waagkapitaalafdeling.

Internet as geheel verteenwoordig nou 77% van die groep se inkomste, vergeleke met 72% verlede jaar.

Die Chinese swaargewig Tencent, waarvan Naspers meer as 33% besit, se inkomste het met 57% gegroei danksy die verkope van slimfoon- en rekenaarspeletjies, aanlyn advertensies, subskripsies op digitale inhoud en betalingsdienste.

Die inkomste van Mail.ru, die Russiese internetmaatskappy waarvan Naspers 29% besit, het met 33% gestyg danksy 'n verbetering in die Russiese ekonomie.

Benewens die nuus dat OLX in onder meer Europa winsgewend geword het, begin die betalingsplatform PayU ook skaalvoordele opbou en is byna winsgewend, sê Naspers.

Die afdeling se inkomste het met 42% (52% in plaaslike geldeenhede) tot US$6,9 miljard gestyg en sy handelswins met 47% (61%) tot US$1,8 miljard.

Met behulp van Takealot in Suid-Afrika en Flipkart in Indië het aanlyn kleinhandel se inkomste met 16% gestyg (37% in plaaslike geldeenhede). Flipkart oorheers die Indiese mark met 'n aandeel van 70% in die mark vir e-handel.

Kosaflewering – wat Naspers beskou as 'n sterk groeigebied – vaar uitstekend. In Latyns-Amerika het iFood se inkomste met 145% gestyg en Delivery Hero s'n met 96%.

Naspers is die meerderheidsaandeelhouer in Movile, iFood se moedermaatskappy, en besit nagenoeg 24% van Delivery Hero, 'n Europese onderneming wat in dié mark oorheers. Naspers besit ook 14,8% in Swiggy, 'n kosafleweraar in Indië.



Videovermaak

In Suid-Afrika lewer DStv nog goeie wins op en Naspers sê sy prestasie is “stabiel”. Die kombinasie van Showmax met DStv Now “toon belowende vroeë resultate”.

Die bedryfsomgewing bly egter moeilik in die swak ekonomie.

In Junie, met die uitreiking van sy halfjaarsyfers, het Naspers genoem dat baie mense oorslaan na goedkoper DStv-pakkette. Kort daarna is Showmax gratis by die DStv Premium-pakket gevoeg.

Verliese buite Suid-Afrika het ook gestabiliseer, deels danksy effens sterker geldeenhede in die res van Afrika.

Naspers verwag dat die afdeling vir videovermaak binnekort weer winsgewend sal wees.



Media

Media24, Naspers se filiaal wat veral in Suid-Afrika koerante, webwerwe, tydskrifte en boeke uitgee, kon sy inkomste in dollarwaarde met 11% tot US$315 miljoen verhoog. Die handelswins het met 75% gestyg.

Dis egter 'n papierstyging omdat die rand met tot 80c versterk het tussen September 2016 en September 2017. As die syfers in rand omgeskakel word, het die inkomste met 5% tot R2,3 miljard gedaal, as die ontbondelde Novus uitgesluit word.

Media24 het 'n kernwesensverlies van R99 miljoen gely.

Media24 se groei-afdelings – digitale media en e-handel, wat Spree insluit – het die jaar met 24% gegroei in randwaarde (8% in dollarwaarde).

Naspers sê e-handel gaan al hoe meer winsgewend word en kontant skep namate die skaal daarvan toeneem. Basil Sgourdos, finansiële hoof, sê: “Die groep sal aanhou om skaal aan te dryf om sy e-handelondernemings winsgewend en kontantskeppend te maak.

“Ons sal makro-uitdagings in die meer volwasse ondernemings deur streng kostebeheer bestuur en sal voortgaan om te innoveer en ons ondernemings te herposisioneer om mededinging deur wêreldrolspelers teen te werk.

“Ons sal ook aanhou investeer in geleenthede wat toekomstige groei kan aandryf.” – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 35° Rundu: 19° | 35° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 22° | 35° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 23° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 21° | 37° Keetmanshoop: 21° | 38° Aranos: 22° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 20° | 39° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 35° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 17° | 29° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 16° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 16° | 31° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 32° Harare: 18° | 28° #REF! #REF!