Nat, nat, nat Noordooste

Die Noordooste van die land het veral die afgelope naweek goeie reëns ontvang.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Terwyl die res van die land nog grootliks op die reënseisoen wag, het Divundu se reënmeters die afgelope Sondag oorgeloop, met sowat 110 mm reën wat tussen 18:00 en 21:30 op die dorp geval het.

Terselfdertyd het dit 'n ent verder by die Nunda River Lodge ook glo 73 mm in drie ure gereën.

Mnr. Carl David Marx sê op die Facebook-groep Reën in Namibia dit volg nadat dit Sondagaand baie hard by die Hombe Supermarket op dié dorp gereën het.

“Die tweede ergste donderstorm wat ek nog in my vier en 'n half jaar op Divundu beleef het,” het hy gesê.

Hy het gesê dit het Saterdag ook van vroegoggend af gereën en Donderdag ook. Tóé reeds het die dorp al 182 mm vir die afgelope seisoen ontvang.

Me. Aly de Graaf het laat weet dit het Sondag ook katte en honde by die Nunda River Lodge naby die Bagani-lughawe gereën en eindelik is 73 mm gemeet.

Sondag het dit ook sowat 9 mm op Tsumeb gereën, het mnr. Borrie Borman gesê, terwyl Jan du Plessis laat weet het dit reën ook sag 20 km noordwes van dié dorp.

Theuns Esterhuysen het gesê Ongwediva het ook die hele nag sagte reën ontvang. “Nat, nat, nat,” het hy op Reën in Namibia geskryf, terwyl Erich Zahradnicky Saterdag laat weet het op Grootfontein het dit die middag al begin reën en eindelik is sowat 21 mm reën gemeet.

Die Wetenskaplike Dienssentrum vir Klimaatsverandering en Aanpasbare Grondbestuur in Suider-Afrika (SASSCAL) se weerstasies dui aan dat dit by Namibia Sachinga naby Katima Mulilo gister 45,7 mm gereën het. By die John Pandeni-staatsplaas, net buite Grootfontein, is Saterdag 9,2 mm gemeet en Sondag 4,6 mm.



DAMVLAKKE

Die drie damme wat die hoofstad asook sentrale dele van die land van water voorsien, naamlik die Von Bach-, Swakoppoort- en Omatakodam, hou tans gemiddeld nog sowat 58,9% water.

Die Von Bachdam is op 75,6% die volste onder dié drie, terwyl wateroorplasings na die dam vanaf die Omatakodam gedoen word. Laasgenoemde dam hou sowat 22,4% water, terwyl die Swakoppoortdam 72% vol is.

Die Ooste se damme hou gemiddeld tans 40,9% water, met die Otjivero-hoofdam wat die volste is op 43,9%. Die Goreangab- en Friedenaudam hou onderskeidelik 79,5% en 38,7% water.

In die Suide is die Oanobdam die volste op 79,5%, gevolg deur die Naute wat 70,3% water hou en die Hardapdam wat 27,4% water oor het. Die Neckartaldam, wat tans meer water bevat as enige ander in die land (84,880 miljoen kubieke meter), is 9,9% vol.

Dit bring die nasionale gemiddelde stand van damme op 23,3%, terwyl dit verlede seisoen op 5,4% gestaan het.

 - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer