Nat naweek vir Noorde

Die naweek lyk belowend vir boere in die mieliedriehoek.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Die Namibiese weerkantoor het gewaarsku teen kitsvloede wat vandag moontlik in die Sentrale Noorde en Otjozondjupastreek kan voorkom.

Hul hoof-weervoorspeller, mnr. Odillo Kgobetsi, voorspel ook swaar en wydverspreide donderbuie in dié gebiede vandag, met matige tot swaar reën wat die naweek sal voortduur.

“Verspreide donderbuie sal na verwagting in die Noordooste en Suidooste voorkom, terwyl enkele donderbuie oor die naweek in die Noordweste verwag word.

“Terselfdertyd dui weerkaarte van die suidelike streekskantoor vir Suider-Afrika aan dat swaar reën oor die afgelope dae in die ooste en noordooste van Namibië voorgekom het,” sê Kgobetsi.

Weerkaarte deur die Nasionale Sentrums vir Omgewingsvoorspelling dui aan dat reënvooruitsigte vir veral die sentrale en sentrale noorde van die land gunstig in die volgende dae lyk, terwyl reën na verwagting ook oor die groter dele van die land kan voorkom – met uitsondering van die verre Noordweste en Suidweste.

TROPIESE LAAGDRUKSTELSEL

Die tropiese laagdrukstelsel wat tans bo die noordooste en sentrale noordooste van Namibië geleë is en reën vir die gebiede bring, ontvang vog vanuit die tropiese gordel, alhoewel ’n afname intussen bespeur is in die hoeveelheid vog wat ontvang word.

Gister het lesers gesê dit reën by die Hardapdam, terwyl ander, wat in die dam se opvangsgebied woon, gesê het die water in die riviere loop al van Dinsdag af en dat die watervlakke steeds besig is om te styg. Ander het gister gesê die ontwikkeling van wolke in die Kunenestreek en op Tsumeb lyk belowend.

REëNVAL

Volgens beskikbare reënvalsyfers van die weerkantoor het Keetmanshoop 20,5 mm reën Woensdag gehad, terwyl Goedemoed 20 mm ontvang het. Dit het 7,4 mm op Katima Mulilo gereën, 6,2 mm op Rehoboth en 5,8 mm by die weerkantoor se hoofkwartiere in Windhoek.

Inwoners van Cimbebacia het tussen 10 mm en 25 mm reën Woensdagnamiddag gemeet, terwyl ander in Avis en Pionierspark onderskeidelik 7 mm en 15 mm gemeet het. Dinsdag is 9 mm ook in Avis gemeet. Nog sowat 10 mm is Woensdag in Kleine Kuppe asook in Ludwigsdorf gemeet, terwyl dit 12 mm in Academia gereën het.

Die Okamitarivier, waarvan die water uiteindelik in die Swakoppoortdam kan opeindig, was ook Woensdag in vloed, alhoewel water nog nie die dam bereik het nie. Avisdam het Woensdagggend ook ’n klein invloei van water gehad.

Volgens Okahandja-inwoners is 44 mm op die dag naby die Von Bachdam gemeet, terwyl boere naby Midgard tot 35 mm reën ontvang het.

Boere in die omgewing van Rehoboth het 12 mm gemeet en Gobabis het Woensdag deur die loop van die dag 5 mm gehad.

Inwoners van Keetmanshoop het laat weet dit reën paddas en platannas op die dorp. ’n Boer in die omgewing het 8 mm gemeet.

Aroab-omgewing het ook goeie reënneerslae gehad, terwyl ’n ligte reënbui so ver as Walvisbaai uitgesak het.

Op Tsumeb is Woensdag 4 mm gemeet, terwyl ’n boer noord van die dorp 10 mm gehad het. Dit het 12 mm op Otavi gereën, terwyl boere in die omgewing tussen 30 en 33 mm ontvang het.

Verder noordoos is groot reën al ontvang. Op die Facebook-groep Namibië Boere sê mnr. Carl Max op Divundu en Bagani het 46 mm Saterdag geval, wat opgevolg is deur 80 mm Sondag. Dinsdag het 40 mm geval en Woensdag nóg 40 mm.

“Dit reën steeds en ons staan nou op 653 mm vir die seisoen,” het Max gesê.

Rundu het ook soortgelyke reënvalsyfers gehad.

VIER DAMME KRY WATER

Die Nautedam het gisterogggend ’n goeie hoeveelheid water ontvang. Volgens ’n verslag wat deur NamWater uitgereik is, het sowat 11,6m³ water per sekonde die dam teen 07:00 ingevloei. Die dam staan tans op 71,7%.

Hardap het ook sowat 5,3 m³ water per sekonde bygekry, maar die grootste hoeveelheid water het dié dam Maandag ingevloei (sowat 61,1 m³ per sekonde). Die invloei van water na die dam het reeds Woensdag omstreeks 17:00 begin.

Gisteroggend om 08:00 was die dam 30,1% vol, in vergelyking met met Maandag dieselfde tyd toe dit op 29,5% gestaan het.

Volgens die verslag het die Von Bachdam teen gisteroggend ook sowat 1,4 m³ water per sekonde bygekry. Sedert Maandag het die dam altesaam 0,371 Mm³ (miljoen kubieke meter) water bygekry - gevolglik het die dam se vlak teen gister van 12% na 12,7% gestyg.

Die Oanobdam (nou 25,7% vol) het ook met 0,7% gestyg en kry tans 0,9 m³ water per sekonde in.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!