Natste u00e9n droogste seisoen in 40 jaar
Natste u00e9n droogste seisoen in 40 jaar

Natste én droogste seisoen in 40 jaar

Die reën was in 2020–’21 baie oneweredig versprei, met dele in Namibië wat die natste seisoen sedert 1981 ervaar het en ander die droogste.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – Die 2020-’21-reënseisoen was een van die natstes sedert 1981 in die sentrale, noordoostelike en suidoostelike dele van Namibië.

Daarteenoor was dit ook die droogste seisoen in 40 jaar in die Kunene-gebied, of verre noordweste, asook die verre suidweste.

Dit was veral in die noordooste en ‘n kleiner gebied in die suidooste die heel natste jaar die afgelope veertig jaar. Terselfdertyd tel verlede jaar onder een van die tien natstes sedert 1981 op talle plekke in sentraal Namibië, die sentrale suidelike gebied en sentrale noordooste.

ONEWEREDIG

Die reën was egter uiters oneweredig binne Namibië en oor Suider-Afrika versprei.

Dit luidens ‘n verslag oor die toestand van voedsel-, voedingsveiligheid en -kwesbaarheid in Suider–Afrika deur die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) se kwesbaarheidsassessering en -ontledingsprogram (RVAA).

Die verslag wys dat groot dele van Suider-Afrika slegs twee goeie reënseisoene die afgelope ses jaar gehad het, met een hiervan wat die 2020–’21-seisoen was. Toe is normale tot bo-normale reën in die meeste gebiede ontvang.

Die afgelope reënseisoen was veral goed vir Botswana. Die oorgrote dele van dié land het die meeste reën in 40 jaar ontvang, terwyl dié land se noordelike gebied ook een van sy toptien natste seisoene in 40 jaar ervaar het. Dit was egter die droogste jaar in vier dekades in veral die suidweste van Angola asook die verre westelike dele van Suid-Afrika.

Die suidelike en oostelike dele van Madagaskar het ernstige droogtes ervaar, wat ‘n beduidende impak op hul gewasproduksie gehad het.

BRANDPUNT

Volgens die verslag word Suider-Afrika as ‘n brandpunt vir klimaatsverandering beskou, wat gevolglik dikwels aan uiterste klimaatskokke, soos vloede en droogtes blootgestel word.

“Ten spyte van goeie reën wat oor die algemeen op talle plekke in die gebied voorgekom het, plaas die herhaaldelike klimaatskokke oor die afgelope tyd die streek in gevaar vir ‘n akute gebrek aan voedselsekuriteit. Veral as daar nie doeltreffende ingrypings is nie,” lui die verslag.

VOORUITSIGTE

Vooruitsigte vir somerreën vanaf November blyk egter belowend te wees, het mnr. Johan van den Berg, 'n konsultant-landbouweerkundige in sy jongste klimaatvooruitskouingsverslag gesê.

Boonop het die kanse dat La Niña-toestande vanaf September of Oktober vanjaar gaan ontwikkel onlangs tot 70% verhoog, wat volgens Van den Berg goed is vir Suider-Afrika se somerreënvalseisoen.

Verder is temperature in die Indiese Oseaan tans ook gunstig en in kombinasie met La Niña-toestande, vergroot dit die kans op goeie somerreën.

Hy het gesê die verwagte intensiteit van die ontwikkelende La Niña is nog onseker, maar dit gaan waarskynlik ‘n matige een wees.
[email protected]

FOTO
Só was reënneerslae tydens die 2020 – ’21 reënseisoen oor Suider-Afrika versprei. Bron: UCSB CHC/FEWS NET

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!