Navorsers ontrafel feësirkels se geheim

Die ontbinding van dooie Euphorbia-plante veroorsaak waarskynlik die feësirkels, omdat dit die grond rondom dit hidrofobies en waarskynlik “giftig” maak.
Sanet de Waal
Elvira Hattingh en Tanja Bause





Wetenskaplikes verbonde aan die Universiteit van Pretoria (UP) sê hulle kon eindelik vasstel wat Namibië en die Kalahariwoestyn se geheimsinnige feësirkels veroorsaak.

Dit is waarskynlik toe te skryf aan Euphorbia-plante, naamlik die Damara-melkbos, die Gomnoors en moontlik ook die Aggenysmelkbos (E. damarana, E. Gummifera en E. Gregaria) wat die grond vergiftig daar waar dit vrek.

Aan die stuur van dié studie was prof. Marion Meyer van die universiteit se departement van plant- en grondwetenskappe.

“Ek het tydens 'n familievakansie in 2011 in Namibië – naby Aus – gesien dat feësirkels en melkbosse op dieselfde plek voorkom, met presies dieselfde verspreidingspatroon en groottes. Ek het onmiddellik gedink dit kan nie toeval wees nie. Ná die vakansie het ek jaarliks teruggekeer na Namibië se droë dele om navorsing te doen saam met studente en/of met my vrou, Nicole, wat ook 'n plantkundige is,” het hy gesê.

Drie nagraadse studente – Christiaan Schutte, JW Hurter en Nicole Galt – het hul BSc-honneursgrade, sowel as hulle meestersgrade in feësirkelnavorsing behaal.

“Nog 'n doktorsgraadstudent, Petunia Degashu, werk ook tans aan die studie. Ek het met 'n paar ander studente en met prof. Denis Baranenko van die ITMO St. Petersburg-universiteit in Rusland aan die chemiese grondontledings gewerk. Ek en my vrou het honderde ure tuis daaroor gepraat.”

Volgens Meyer is die studie hoofsaaklik in Aus in die Garub-omgewing en in Sesfontein in die Brandberg- en Giribes-omgewing gedoen. Die verskynsel van feësirkels strek vanaf Angola, deur Namibië tot in die noordwestelike Kaapprovinsie in Suid-Afrika.

“Die ontdekking van feësirkels in die Kalahariwoestyn, in die Bakrivier, net anderkant die grens met Suid-Afrika, was beslis 'n hoogtepunt,” het Meyer gesê.

Volgens die navorsers word die feësirkels hoof­saaklik langs die kuslyn van Suider-Afrika gevind tot so ver as 160 km binneland in. Soortgelyke plantegroei is in 2014 in noordwestelike Australië, 15 km buite die dorp Newman, ontdek.



LUGFOTO'S

Historiese lugfoto's het getoon dat 134 uit 406 Gomnoorse in die suide van Namibië oor 'n tydperk van 50 jaar deur feësirkels vervang is.

Die navorsers het lug- en satellietbeelde gebruik om die voorkoms van Euphorbia-plante oor 'n tydperk waar te neem, terwyl verskeie tegnieke vir ontleding gebruik is om die grootte en verspreiding van die sirkels met die verspreiding van die plante te vergelyk.

Samestellings van lugfoto's het getoon dat Gomnoorse geleidelik deur feësirkels vervang word, terwyl nog 'n toets getoon het dat daar min verskil is tussen die grootte van die sirkels en Damara-melkbosse. Terselfdertyd stem die verspreidingspatrone van dié plante ooreen met die verspreidingspatrone van die sirkels.

Die feësirkels, wat tussen 2 meter en 15 meter in deursnee strek, het wetenskaplikes reeds vir dekades lank aan die kopkrap.

Wanneer dit vrek, stel die plante 'n sap vry wat waterafstotend is, die groei van ander grasse inhibeer en dus die kaal sirkels vorm, meen die navorsers.

Euphorbia-plante is bekend vir die wit, gommerige en giftige sap wat in sy takke voorkom en wat glo blindheid kan veroorsaak, sou dit in 'n mens se oë kom.



AGTERGROND

Voorheen is gemeen die sirkels word dalk deur termiete, miere, rotte, plantegroei self asook ondergrondse gasse veroorsaak.

“Ons glo ons teorie maak meer sin. Ons het van verskeie hoeke die navorsing benader: Plantchemie, grondchemie, biologiese ontledings en ook geografiese (GIS) studies. Ons het gate in honderde feësirkels gegrawe en geen teken gevind dat die sirkels enigiets met termiete te doen het nie,” het hy verduidelik.

In die suide van Namibië is daar dikwels geen melkbosse in die nabye omgewing van die feësirkels nie en dit is volgens Meyer moeilik om te bewys dat hulle wel oral meer as honderd jaar gelede voorgekom het.

“In die verre suide van Namibië kom twee melkbosspesies redelik volop voor, byvoorbeeld naby die Visrivier-canyon is daar wel heelwat melkbosse tussenin die feësirkels. Ons het nou met 'n projek begin om te bepaal of ons oeroue DNS van die groot melkbosse se stuifmeel in daardie dele van Namibië kan kry waar daar vandag feësirkels is, maar nie groot melkbosse nie.

“Die volgende vraag sal wees hoekom honderde duisende melkbosse in daardie gebied dood is? Ons glo dit is weens natuurlike klimaatsverwarming lank gelede, maar is ook versnel deur mensgemaakte verhitting van meer onlangs. Dit is skrikwekkend hoe baie groot melkbosse in sanderige gebiede dood is. Dit het 'n groot impak op die ekologie.

“Soos Namibiërs weet, is baie van ons soogdiere afhanklik van melkbosse in gebiede waar die gras baie skaars is.”

In die studie verduidelik die navorsers egter dat Euphorbia-plante waarskynlik in sanderige grond begin groei het toe klimaatstoestande, in die verlede, meer gunstig was.

Dit beteken egter die plant moes meeding vir water en voedingstowwe. Mededinging wat al sterker moes word, namate temperature in Suider-Afrika gestyg het.

Al meer Euphorbia-plante het dus begin vrek.

Die ontbinding van dooie Euphorbia-plante beteken dat hul sappe rondom hulle in die grond versprei wat die grond hidrofobies en waarskynlik “giftig” maak.

Boonop stel dié plante ook stowwe in die grond vry wat die groei van ander plante belemmer.

Alhoewel die meeste van dié stowwe waarskynlik in 'n kort tydjie sou afbreek, mag dit wees dat Euphorbia's se melk aan die grond vasklou wat dit hard maak en vir lank in die grond bly, verduidelik die navorsers.

Die feësirkels is egter nie permanent nie, meen die navorsers.

Oor dekades of selfs eeue sal reën die toksisiteit binne die sirkels stadig wegspoel.

- [email protected]

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!