Navorsers skep unieke Namibiese produkte

Klimaatsveranderlikheid is maar een van talle kwessies wat die ontwikkeling van ‘n suksesvolle landbou-voedselverwerkingsektor kniehalter.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Vergeet van mielievlokkies; wat van plaaslike mahangu-vlokkies of kitspap wat van mahangu- of akkerbone gemaak word?

Jy kan ook veel eerder jou dors les met baie gesonde, Namibiese baobab-vrugtepulpsap of kaffeiënvrye sorghum-koffie. Vir die wat iets sterker soek, is daar inheemse vrugtebrandewyne soos Ombike.

Dr. Penny Hiwilepo-van Hal, ‘n voedselwetenskaplike aan die Universiteit van Namibië (Unam), het tydens ‘n onlangse samekoms in Windhoek oor klimaatsverandering en voedselsekuriteit in Namibië belangegroepe toegespreek oor die rol van landbou-voedselverwerking in die land. Dit behels die omskakeling van onverwerkbare, eetbare landbouprodukte in halfklaar- en finale produkte.

Sy het gewys aan watter plaaslike produkte die universiteit se multidissiplinêre navorsingsentrum en departement vir voedselwetenskap en tegnologie werk, met die oog op die kommersialisering daarvan.

Dit sluit in sap van die baobabvrug wat uitsonderlik smaaklik en gesond is, vetkoeke en kolwyntjies van mahangu, sopverdikkers van Namibiese plante se wortels en knolle, soppe van mopaniewurms, kaas van bokmelk en omunkunzi-wortels, en vissoppoeier van marsbanker.

Mahangu-vlokkies word van Macia-sorghum, asook Okashana-, Kangara- en Katana-mahangu gemaak, terwyl kitspap van mahangu en akkerbone vervaardig word. Laasgenoemde is uitsonderlik ryk aan proteiëne en minerale, en boonop glutenvry.

Om sopverdikkers te maak, het navorsers onder meer die marama-wortel en oondago-knolle gebruik. Kaffeiënvrye koffie is van sorghum en lemoenskil gemaak, as deel van die opdrag aan die navorsers om meer gebruike vir sorghum te vind.

Mopaniewurms word gebruik in voedsame soppoeiers, met geure soos botterskorsie, wortel, soetrissie en tamatie.

GAPING

“Daar is ‘n gaping tussen die beleidmakers van die land, die private sektor en navorsers,” het Hiwilepo-van Hal gesê.

“Hoewel ons as navorsers ons mandaat uitvoer, asook die produkte ontwikkel en toets, word baie hiervan nooit gekommersialiseer en op rakke geplaas nie nie.”

Die marsbankervissoppoeier is die uitsondering - dit word deur Kuiseb Fishing Enterprise bemark.

“Die Namibiese landbou-voedselverwerkingsektor is egter nog relatief klein en word nie as ‘n prioriteit beskou nie,” het sy gesê.

Volgens haar word te min oor die tipe waardetoevoeging van plaaslike landbouproduksie gepraat. “Alhoewel die regering erken dit is belangrik, weet ek nie van enige platform wat geskep word waar ons dit kan bespreek nie.”

Hiwilepo-van Hal sê die ontwikkeling van so ‘n sektor in Namibië is belangrik omdat dit ‘n vorm van waardetoevoeging is, dit die land se afhanklikheid van die invoer van kos kan verminder en ook met voedselsekuriteit kan help.

“Deur voedselverwerking kan ons tradisionele stapelvoedsel in kontantondernemings omskep. So kan dié kos ook meer gerieflik byderhand wees, dit word veiliger en gesonder gemaak, en het ‘n voldoende raklewe.”

Sy sê dit kan help met werkskepping, veral vir die jeug, vroue en in landelike gemeenskappe in die vorm van landboubesighede. “Dit kan bydrae tot die stryd teen armoede en help met voedselsekuriteit.

“’n Land wat homself nie kan voer nie, is baie kwesbaar.”

UITDAGINGS

Verdere struikelblokke vir ‘n suksesvolle landbou-voedselverwerkingsektor in Namibië, sluit in dat boere meestal van die reën afhanklik is, wat baie wisselvallig is, asook die voorkoms van gewaspeste en dieresiektes.

Hiwilepo-van Hal sê klimaatsverandering het ‘n invloed op landbouproduksie en gevolglik ook op die verwerking of prosessering van landbouprodukte in die land.

“Benewens klimaatstoestande is ‘n verdere struikelblok dat Namibiërs nie weet hoe die wetsproses werk om hul produkte te kommersialiseer nie. Hulle ken ook nie die meegaande voedselwette wat moet verseker die kos is veilig vir verbruik nie.

“Ander is bang dat sou hulle hul idees deel, sal ‘die ryk mense met geld’ dit vat. Hulle weet niks van patentregte nie,” het Hiwilepo-van Hal gesê.

Volgens haar kan ‘n landbou-voedselverwerkingsektor ander kos beter preserveer in tye van oorvloed, sodat dit beskikbaar is wanneer droogte die land tref en die land beter voedselsekuriteit kan geniet.

“As huidige weerstoestande voortduur, sal beide gewas- en veeboere onder die droogte begin ly. Daar is vanjaar min tyd oor vir reën sodat droëlandgewasse kan groei en volwassenheid bereik.

“Dit sal daartoe lei dat bestaansboere nie hul deel van seisoenale vars produkte soos byvoorbeeld groenbone kry nie. Veeboere se beeste sal swakker raak en ‘n minimale hoeveelheid melk kan lewer,” het Hiwilepo-van Hal gesê.

“Kosverskaffing sal ingeboet word, huishoudings kan begin swaar trek, en ‘n swakker mahangu- en mielieoes sal afgehaal word.

“Droogte raak ook die aantal en gehalte van vee wat by abattoirs gelewer word.”

Sy meen ‘n suksesvolle landbou-voedselverwerkingsektor in Namibië sal die land meer veerkragtig in tye van droogte en vloede maak, armoede in gemeenskappe verminder en vennootskappe binne gemeenskappe skep.

“Dit bevorder plaaslike ekonomiese aktiwiteite,” het Hiwilepo-van Hal gesê.

Beter koördinasie is wel nodig tussen die uitsette van navorsers, beleidmakers en die private sektor, en daar moet vir ‘n voedselverwerkingsektor in Namibië beplan word. Geld moet ook vir dié inisiatiewe toegestaan word, het sy gesê.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer