Naweek bring ysige koue

Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – Temperature van onder vriespunt word die naweek in ||Kharas, Hardap en Khomas verwag, terwyl vanaf vandag enkele reënbuie oor die binneland kan voorkom, asook geïsoleerde donderbuie in die suidooste.

Dit volg nadat Kombat, Grootfontein en plekke tussen Otavi en Otjiwarongo Maandagnag reeds 'n paar reëndruppels ontvang het.

Die Namibiese weerkantoor se hoofweervoorspeller, mnr. Odillo Kgobetsi het aan Republikein verduidelik die reën word deur 'n afsny-laagdrukstelsel oor die Atlantiese Oseaan veroorsaak.

“Hierdie stelsels skep gewoonlik onstabiele, vogtige lug wat reën, op 'n baie klein skaal, veroorsaak.”

Kgobetsi sê vanaf môre sal koeler en winderige weer in die Suide voorkom, waarna dit teen Vrydag koud sal word in die ||Kharas-, Hardap- en Khomasstreek.

“'n Vars tot sterk noordwestelike tot westewind sal vanaf môre waai en teen die naweek ook sterker raak,” het hy bygevoeg.

Snow Report SA het gesê daar is 'n waar­skynlikheid dat dit ook later vandeesweek in Suid-Afrika, Lesotho en selfs Namibië kan sneeu, maar voeg in hul opdatering by dit sal waarskynlik nie in Johannesburg en Pretoria sneeu, soos dié diens voorheen aangedui het nie.

LandWater, die nie-regeringsorganisasie wat satellietfoto's wetenskaplik ontleed en interpreteer, maan om versigtig met voorspellings vir sneeu om te gaan.

“Sneeu is wel in spel, maar dit neig sterker suid en veral ook sterker na die oostelike Oos-Kaap, Lesotho en moontlik dele van KwaZulu-Natal in Suid-Afrika.”

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-02-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer