Naweek kan gevaarlike, swaar reu00ebn bring
Naweek kan gevaarlike, swaar reu00ebn bring

Naweek kan gevaarlike, swaar reën bring

Namibiërs in die noordelike, noordoostelike en sentrale dele van die land moet die naweek op vloede bedag wees, waarsku die weerkantoor.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – Wydverspreide, kwaai storms, wat meer as 80 mm se reën op ’n slag kan bring, kan vandag, môre en Sondag in die sentrale noordelike dele van die land voorkom.

Ook geld ’n waarskuwing teen daaglikse storms van meer as 50 mm vir die Kavango-Wes-, Kavango-Oos-, Otjozondjupa-, Khomas- en Hardapstreek, asook vir dele van die Kunenestreek vir die komende naweek, het die Namibiese weerkantoor gister gewaarsku.

“Kitsvloede word in bogenoemde gebiede verwag en mense behoort voorbereidings te tref,” het die hoofweervoorspeller, mnr. Odillo Kgobetsi, gistermiddag gewaarsku.

SOEKTOG

Terselfdertyd is die 42-jarige vrou wat Woensdagoggend deur water meegesleur is toe sy en twee ander mense die Okahandjarivier te voet wou oorsteek, steeds nie gevind nie.

Dit volg nadat swaar reën in die Okamita- en Okakangorivier se opvangsgebiede geval het, wat veroorsaak het dat die Okahandjarivier Dinsdagoggend sterk afgekom het.

Insp. Maureen Mbeha, polisiewoordvoerder in die Otjozondjupastreek, het gister (Donderdag) aan Republikein bevestig die soektog na die vrou duur voort.

“’n Reusesoektog is reeds Woensdag al langs die rivieroewer tot sononder deur die polisie en lede van Okahandja se buurtwag van stapel gestuur,” het sy gesê.

Sy sê die polisieondersoek duur voort en voorlopige inligting dui daarop die vrou is weggespoel toe sy omstreeks 08:00 die rivier op pad werk toe wou oorsteek.

’n Kleinhoeweboer, mnr. Freddie Koch, het gister aan Republikein vertel die vrou was een van drie mense wat die rivier vroegoggend te voet wou oorsteek.

“’n Jonger vrou het ’n baba by haar gehad. Hoewel iemand hulle probeer waarsku het om die rivier nie oor te steek nie, het hulle om die een of ander rede nie geluister nie.

“Hulle is eenvoudig van hul voete af gespoel. ’n Man, asook die vrou en haar baba, kon gered word. Die ouer vrou is egter deur die rivier meegesleur,” het Koch gesê.

Hy het gesê die rivier het toe nog op plekke baie sterk geloop.

“In die 10 jaar wat ek hier woon, het ek dit nog nooit só sien loop nie,” het hy gesê.

DAMME

Intussen het die Hardapdam sedert die afgelope Maandag ’n reusehoeveelheid water bygekry, naamlik 19,523 Mm³ (miljoen kubieke meter).

Die dam was gisteroggend (Donderdag) om 08:00 27,2% vol.

Die Von Bachdam het toe die 89,4%-merk bereik en steeds ’n klein bietjie water ontvang, terwyl die Hardapdam steeds 39,7 m³ water per sekonde ontvang het.

Swakoppoort is die dam wat gisteroggend water teen die vinnigste tempo ontvang het, naamlik teen 42,1 m³ per sekonde, terwyl dit oornag sedert Dinsdag met meer as 8% gestyg het en die 48,6%-merk bereik het.

Sedert Maandag het dié dam 8,672 mm³ water gekry.

Die Omatakodam het ook gister nog water teen 19,9 m³ per sekonde ontvang en was gister 37% vol.

Die Otjivero- en Oanobdam het gister ook nog ’n klein bietjie water gekry en was onderskeidelik 13,5% en 53% vol. Die Nautedam is 80,7% vol en het nie meer water ontvang nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!