Naweek van moord, wildstroop en dwelms
Naweek van moord, wildstroop en dwelms

Naweek van moord, wildstroop en dwelms

Augetto Graig
Augetto Graig

Drie verdagtes is reeds in hegtenis geneem in verband met die liggaam van ’n jong konstruksiewerker wat Donderdag in Otjomuise in Windhoek gevind is.
Volgens die polisiewoordvoerder, insp. Slogan Matheus, is ’n 26-jarige verdagte Donderdag vas­getrek, terwyl nog twee - ’n man van 21 en een van 22 - Saterdagoggend in hegtenis geneem is. Die liggaam van die 21-jarige Shalongo Jonas, beter bekend as “Danag”, is met drie meswonde gevind. Al die verdagtes het saam met die oorledene op dieselfde bouperseel gewerk. Hulle sal vandag in die hof in Katutura verskyn.
Ander misdaadnuus is verdagtes wat Vrydag by die plaas Wilhelmstal Noord in die Karibib-omgewing met vars gemsbokvleis in hul voertuig betrap is. Drie honde en spiese is na bewering ingespan om die dier omstreeks 03:00 dood te maak. Plaaswerkers het die voorval gesien en die polisie in kennis gestel.
Toe die polisie die groen sedanvoertuig agtervolg het, het twee van die mans weggehardloop en is net die 39-jarige bestuurder in hegtenis geneem. Hy behoort vanoggend op Karibib in die hof te verskyn. Die polisie het beslag op die karkas en die voertuig gelê.
’n Vermeende dwelmsmous is ook Vrydag vasgetrek. ’n Vrou in besit van 78 stukkies crack-kokaïen is omstreeks 08:00 in Mondesa op Swakopmund in hegtenis geneem. Volgens die polisie het hulle haar van Windhoek agtervolg. Die waarde van die dwelms word op N$7 800 geskat. Sy moet vandag op Swakopmund in die hof verskyn.
Moord het die naweek glo twee lewens in die Omusatistreek geëis. Saterdag omstreeks 18:30 was daar glo stryery oor ’n geheuestokkie tussen twee jong mans by die Denga Enota Bar in Okaungudhiya naby Outapi. Erastus Shepja is glo verskeie keer met ’n tradisionele “omukonda”-mes gesteek en is op die toneel dood. ’n 34-jarige verdagte moet vandag op Outapi in die hof verskyn.
Sondag om 01:30 is Pedro Fidel Da Silva (42) van Angola voor sy hek in die Onnimba-woonbuurt op Outapi met ’n skerp voorwerp doodgesteek. Hy is op slag dood en sy familie is amptelik in kennis gestel. Die ­polisieondersoek duur voort, maar geen verdagte is nog in hegtenis geneem nie.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer