Naweek van reën word voorspel

'n Tropiese laagdrukstelsel wat tans oor Namibië lê, en gewoonlik as 'n trog oor Angola voorkom, is een van die redes vir vanjaar se goeie reënneerslae.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – Terwyl die groter Namibië opnuut vanaf Woensdag plek-plek begin reën ontvang het, sê weerkenners 'n nuwe periode van reën sal na verwagting vanaf vandag en oor die naweek aanbreek.

Ná sowat 'n week se sonskyn, het boere in die Grootfontein-omgewing vanaf Sondag wéér reën begin kry, met 'n boer in die Abenab-omgewing wat tussen Sondag en Donderdag 150 mm reën op sy plaas gemeet het. Sedert Oujaarsaand het hy 550 mm reën gehad.

Op die Facebook-blad, Reën in Namibia, sê Deon van Blerk Grootfontein self het Woensdag 15 mm reën ontvang en in totaal 546 mm vir dié seisoen sover.

Nog goeie nuus is dat sake in die dorre Noordweste intussen verbeter het.

Mnr. Albie van Niekerk, die Namibië Landbou-unie se streekverteenwoordiger vir die Outjo-omgewing, het gister aan Republikein gesê die reën die afgelope week in die Kamanjab- en Otjikondo-gebied was “wonderlik”.

“Die meeste plase het tussen 20 mm en 40 mm ontvang – sommige selfs meer. Die weervooruitsigte lyk baie goed, ons is opgewonde.

“Ek wil nog steeds nie sê die droogte is gebreek nie, maar ek glo almal is weer goed terug op hul voete en alle opvolgreën gaan 'n groot sukses meebring,” het hy gesê.

Terwyl dit Woensdagaand swaar tussen Otjiwarongo and Okahandja gereën het, het nog mense foto's geplaas van hoe die water op Tsumeb en Ondangwa staan, met Jan Nel wat laat weet het laasgenoemde dorp het nog 4 mm reën Woensdagoggend uit hul reënmeters gegooi.



SUIDE

Jeano Maletzky van Rietoog in die Hardapstreek het gesê hulle het op Dinsdag en Woensdag altesaam 34 mm ontvang, met Abraham Baard wat 8 mm tot 25 mm reën én hael op die plaas Gabasis-Oos, 100 km suidwes van Keetmanshoop op die Ai-Ais-pad, gemeet het.

Bobby Griebel het laat weet dit het Woensdag 22 mm op Omaruru gereën, terwyl Usakos op dieselfde dag tussen 10 mm en 16 mm in 'n uur ontvang het. Op Uis het dit 14 mm gereën, sê Basil Calitz.

Sharon Britz sê dit het Dinsdag 4 mm op Rehoboth gereën en toe weer 22 mm Woensdag.



VOORUITSIGTE

LandWater, 'n nieregeringsorganisa­sie wat satellietfoto's wetenskaplik ontleed en interpreteer, meen die “werklike reënperiode” vir Suider-Afrika behoort vanaf vandag te begin en tot Maandag en moontlik langer, voort te duur.

“Hoërvolumereën wat uitgebreid tot in die suide van Namibië voorkom”, word in dié tydperk voorspel, is op hul Facebook-blad geskryf.

Die weerkenner Mike Berridge het op Weather Today – Southern Africa se Facebook-blad verduidelik die tropiese laagdrukstelsel wat tans oor Namibië lê, kom gewoonlik oor Angola as 'n trog voor.

“Dit is in werklikheid die hele jaar lank teenwoordig en word geskep deur die skerp temperatuurverskil tussen die land en die koue Atlantiese Oseaan.

“Hierdie somer is dit egter ongewoon diep in die binneland geleë. Dié posisie van die stelsel is die rede vir die ongewone hoë reënneerslae in Namibië, asook 'n gebrek aan reën in westelike Angola,” het hy verduidelik.

Wat die langer termyn betref, sê die onafhanklike landboumeteoroloog, mnr. Johan van den Berg, Namibië kan reën in die komende weke verwag – met die fokus op veral die Noorde.

“Reënbuie van meer as 50 mm kan tot in die laaste week van Februarie in die Noorde voorkom, alhoewel baie min reën oor die Suide verwag word,” het hy gesê en bygevoeg swaarder reën word in veral die tweede deel van Maart voorspel.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!